AgriScience
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Fakulteit

Bekendstelling

 

Die Fakulteit Agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch geniet nasionaal en internasionaal hoë agting vir die gehalte van sy opleiding en navorsing en ook as konsultant in die landbou- en bosboubedryf. Die fakulteit se voorgraadse- en nagraadse programme berei studente voor om as leiers en bestuurders in die verskillende sektore van dié bedryf op te tree en regdeur die land – en in die buiteland – beklee alumni top poste.

Toe die US in 1918 amptelik tot stand gekom het, was Landbou een van die eerste vier fakulteite en het van meet af 'n betekenisvolle stempel op landbou-onderwys en -navorsing afgedruk. In 2006 het die Fakulteite Landbou en Bosbou saamgesmelt en het die Fakulteit AgriWetenskappe tot stand gekom. Die Fakulteit huisves ongeeer 1500 voorgraadse en 661 nagraadse studente in 11 departemente te wete:

Die twee proefplase – Welgevallen en Mariendahl – word deur die Fakulteit AgriWetenskappe bestuur en hoofsaaklik aangewend vir voorgraadse studente-opleiding en vir navorsingsprojekte van nagraadse studente, sowel as dié van personeel.​


Aan die stuur

Prof Danie Brink

(BScAgric, 1983; HonsBScAgric, 1985; MScAgric, 1987; PhD Agric, 2004)

Prof Danie Brink is met ingang van 1 Julie 2017 verkies as Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe waar hy sedert Mei 2014 as waarnemende Dekaan gedien het.  Prof Brink is 'n oudstudent van die Universiteit Stellenbosch en dien in verskeie rade, bedryfsinstansies en vakverenigings. 


Waarom Landbou?

Algemeen

Die groeiende wêreldbevolking van meer as sewe biljoen mense, waarvan sowat 47 miljoen in Suid-Afrika woon, plaas toenemend druk op landbou en bosbou. Hierdie mense moet elke dag eet en asemhaal en sonder voedsel en suurstof is dit uiteraard nie moontlik nie.

Landbouproduksie sal derhalwe die volgende 40 jaar waarskynlik moet verdubbel; trouens, opbrengste per hektaar sal moet verdriedubbel en dit sal op minder grond met minder water moet geskied midde uitdagings soos klimaatverandering, fluktuerende ekonomieë, werkskepping en finansieel-mededingende voorsiening van gehalte voedsel. Die vraag na houtprodukte styg ook steeds en oorskrei die aanbod van die bou-, meubel-, papier- en verpakkingsbedryf.  Houtoeste moet dus vermeerder en terselfdertyd uiters oordeelkundig gereguleer word om te verhoed dat die voorraad uitgeput word.


Suid-Afrika

Suid-Afrika is by uitstek 'n landbouland. Landbou dra substansieel tot die land se bruto binnelandse produk by, is 'n beduidende verdiener van buitelandse valuta, 'n belangrike verskaffer van werksgeleenthede en voorsien in mense se basiese voedsel- en veselbehoeftes. Boonop is agritoerisme besig om in gewildheid toe te neem. Vir elke R1 miljoen-toename in die finale vraag na landbouprodukte, word daar 83 nuwe werksgeleenthede geskep. Die ooreenstemmende werkskeppingsyfer vir die res van die ekonomie is maar 'n skrale 29. Allerweë word landbou dus ook as 'n belangrike rolspeler in armoedeverligting beskou.

Indrukwekkende inheemse woude en bosvelde word ook in Suid-Afrika aangetref. Sommige boomsoorte lewer hout van besondere hoë gehalte wat met die heel mooiste en doeltreffendste van ander wêrelddele kan meeding. Tans is Suid-Afrika in sekere produkte selfvoorsienend, maar in ander nie; dus is SA sowel 'n in- as uitvoerder van houtprodukte.


Die Fakulteit AgriWetenskappe

Die Fakulteit speel 'n belangrike rol om landbou- en bosbouproduktiwiteit in Suid-Afrika voortdurend te bevorder en te verbeter terwyl natuurlike hulpbronne volhoubaar benut en beskerm word. Sy strewe is om voortreflike navorsing, onderrig en diens van wêreldgehalte aan die landbou- en bosbousektore te lewer. Die Fakulteit is derhalwe een van dié belangrikste omgewings wat die toenemende uitdagings aan landbou en bosbou in sy studie- en navorsingsvelde aanspreek en probeer om oplossings te vind.  

Suid-Afrika het 'n besondere verskeidenheid fauna en flora wat in landbou- en bosboubeoefening geag, beskerm en bewaar moet word. Daarom stel die Fakulteit hom dit ook ten doel om deur onderrig, navorsing en gemeenskapsbetrokkenheid die aanwending en bestuur van lewende organismes wetenskaplik en eties te rig sodat die lewensgehalte van almal in die land verbeter word.

 

Opleiding​

Graadprogramme wat gevolg kan word:

Bewaringsekologie

Bosbou en  Hulpbronwetenskappe

  • Bosbou– en Natuurlikehulpbronnebestuur
  • Houtprodukkunde- en Houtprodukkunde

Diereproduksiestelsels

  • Veekunde
  • Veekunde met Agronomie
  • Veekunde met Bewaringsekologie
  • Landbou-ekonomie en Veekunde
  • Akwakultuur
  • Akwakultuur en Bewaringsekologie

Plant- en Grondwetenskappe

  • Gewasproduksie
  • Gewasbeskerming en –teling
  • Grond– en waterbestuur

Landbou-Ekonomie en –Bestuur

 

  • Agri-ondernemingsbestuur (BAgricAdmin)
  • Landbou-Ekonomiese Analise
  • Landbou-ekonomiese Analise en Bestuur
  • Landbou-ekonomiese Analise en Bestuur met Voedselwetenskap
  • Landbou-ekonomie met Voedselwetenskap

Voedselproduksiestelsels

  • Voedselwetenskap

Wynproduksiestelsels

  • Wingerd en Wynkunde (algemeen)
  • Wynkunde gespesialiseerd

Landbouproduksie en -bestuur (Elsenburg)

  • Verskeie rigtings wat aangebied word deur die Kaapse Instituut vir Landbou Opleiding (Elsenburg). Volledige inligting by www.elsenburg.com

Navorsing

Landbou en bosbou staan voor vele uitdagings om die groeiende wêreldbevolking van voldoende gehalte, veilige voedsel en vesel te voorsien en die bosboubedryf sinvol te bestuur. Die Fakulteit Agriwetenskappe is ten volle van hierdie verantwoordelikheid bewus en aanvaar bovermelde uitdagings met geesdrif. Sy strewe is om dienooreenkomstig voortreflike navorsing in elk van sy departemente te lewer om die landboubedryf se vooruitgang en sukes te verseker.

Die Fakulteit se navorsingsprofiel sien besonder goed daar uit. Daar bestaan reeds vier regeringsbefondsde South African Research Chairs Initiative-leerstoele (waarvan die doel is om die navorsings- en innovasiekapasiteit van universiteite te verhoog), naamlik in na-oestegnologie, plantbiotegnologie, vleiswetenskap en wynbiotegnologie.  Daarbenewens is die versnelde uitsette wat in bewaringsekologie, voedselwetenskap, veekundige wetenskappe en plantpatologie verkry is, nog bewys van die Fakulteit se se vooruitgang in tradisionele en ontluikende studieterreine.

  • Die uitgebreide aandag aan nagraadse studie het 'n ongeëwenaarde aantal PhD- en meestersgraad-afgestudeerdes meegebring.​

Uitreiking

Agriwetenskappe is verbind tot die kwelvrae en vereistes wat die huidige tydvak bied en bestee omvattende aandag aan inisiatiewe rondom gemeenskapsinteraksie. Laasvermelde hou verband met armoede-verligting, voedselsekuriteit. biodiversiteit, volhoubaarheid, die landelike ekonomie, na-oestegnologie, peste en siektes, waterbeheer, voedselprosessering, landelike ontwikkeling en agribesigheid.

Die Fakulteit brei steeds sy internasionale samewerkingsnetwerk na meer universiteite en navorsingsinstansies in talle Afrikalande en die Ooste uit, waar sy akademiese belange toenemend groei.


Slot

  • Die Fakulteit AgriWetenskappe se personeel en studente bly egter sy grootste bate. Talle senior personeellede speel 'n strategiese en sleutelrol in die voorsiening van denkende leierskap aan die landboubedryf en die openbare sektor met die strewe om kennis- en sosiale grense te verskuif.  Studente word deurentyd aangemoedig om in die voetspore van hulle leermeesters te volg.​