Management
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Aanstelling van 'n nuwe Rektor en Visekanselier

Die Universiteit Stellenbosch (US) moes ʼn nuwe Rektor en Visekanselier aanstel ná die onverwagse afsterwe van prof Russel Botman op 28 Junie 2014. Dit was die eerste keer in die geskiedenis van die Universiteit dat ʼn dienende Rektor en Visekanselier oorlede is.

Die Universiteit se Bedryfshoof, prof Leopoldt van Huyssteen, is dadelik aangewys om as Rektor en Visekanselier waar te neem totdat ʼn nuwe persoon diens kon aanvaar.

Op 1 Desember 2014 – na 'n omvattende keuringsproses – ​is prof Wim de Villiers, Dekaan van die Universiteit van Kaapstad se Fakulteit Gesondheidswetenskappe, as nuwe Rektor en Visekanselier van die US aangewys. Hy sal op 1 April 2015 sy pos opneem.

Prof De Villiers (55), ʼn Matie-alumnus en mediese dokter wat ook 24 jaar lank in Engeland en Amerika gestudeer en gewerk het, sal dan die US se 12de Rektor word (hoewel dié posbenaming deur die jare ʼn aantal kere verander het).

Klik hier vir meer inligting oor prof De Villiers. Verdere agtergrond oor prosesse volg hieronder.

WAARNEMENDE REKTOR

Ten tye van prof Botman se afsterwe het prof Van Huyssteen reeds waargeneem as Rektor en Visekanselier. Hy is kort vantevore in dié hoedanigheid aangewys deur prof Botman self, wat voornemens was om op ʼn amptelike reis na die buiteland te vertrek.

Kort ná prof Botman se afsterwe het mnr George Steyn, Voorsitter van die Universiteitsraad, prof Van Huyssteen herbevestig as waarnemende Rektor en Visekanselier. Dié besluit is op 21 Julie op ʼn buitengewone vergadering van die Uitvoerende Komitee van die Universiteitsraad [UK(R)] bekragtig. Strategiese en operasionele oorwegings – en die noodsaak vir stabiliteit – het die deurslag gegee.

Op 29 September 2014 het die eerste Raadsvergadering ná prof Botman se afsterwe plaasgevind. Daar is kennis geneem van ʼn besluit van die UK(R) namens die Raad – ná oorlegpleging met die Senaat en die Institusionele Forum, soos deur die Statuut bepaal in gevalle waar 'n persoon vir meer as drie maande waarneem – dat prof Van Huyssteen sou aanbly in sy waarnemende hoedanigheid totdat ʼn nuwe Rektor diens aanvaar.

Benewens prof Van Huyssteen se ondervinding op senior bestuursvlak was hy vir bykans sewe jaar Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe en het hy ook lank waargeneem as Viserektor: Navorsing.

AANSTELLINGSPROSES

Op 21 Julie 2014 het die Uitvoerende Komitee van die Universiteitsraad (UK[R]) op ʼn buitengewone vergadering die proses vir die aanstelling van ʼn nuwe Rektor en Visekanselier van stapel laat loop. Die oogmerk was om die besluitnemingsproses hieroor by die laaste Raadsvergadering van die jaar op 1 Desember 2014 af te handel.

Soos die Statuut bepaal, is ʼn Keurkomitee van 17 lede saamgestel met verteenwoordiging uit die Raad en die Universiteit se ander statutêre liggame, asook verskeie belangegroepe. Oorlegpleging oor die posbeskrywing het plaasgevind, en die vakature is in die media gekommunikeer.

Die kandidate op die finale kortlys het aan 'n spesiale, gesamentlike sitting van die Keurkomitee, Senaat en die Institusionele Forum (IF) aanbiedings gemaak oor hul visie vir ​​die US en die rol wat hulle vir hulself in die vooruitsig stel. Raadslede kon ook hierdie geslote sitting bywoon. Die Senaat en die IF het hulle hierná formeel uitgespreek oor die aanstelbaarheid van elk van die kandidate en ook 'n aanbeveling aan die Raad gemaak oor hul voorkeurkandidaat.

Op 1 Desember 2014 het die Raad besluit om vir prof Wim de Villiers as nuwe Rektor en Visekanselier van die US aan te wys.