​​​​​US Visie en Strategie Proses

​​​​

Die Universiteit Stellenbosch is sedert Julie 2016 besig met die hersiening van sy visie en strategie. Hierdie hersiening gee erkenning daaraan dat universiteite nie staties bly nie, maar verander met tyd en ook 'n veranderingsagent in die samelewing is. Des te meer gegewe die veranderinge in die Suid-Afrikaanse en wêreldwye hoëronderwys landskap. 

Die visie en strategie moet enersyds omvangryk genoeg wees om 'n stabiele platform te verskaf waarop die Universiteit vir 'n periode kan bou. Andersyds moet dit beweeglik genoeg wees om toe te laat dat die instelling saam met tendense – op plaaslike, streeks- en globale vlak - kan aanpas en verander.


Samehang tussen dokumente

Die visie en strategie staan nie in isolasie nie, maar in samehang met ander beplannings- en implementeringsdokumente.


Die US se visie dui aan watter tipe organisasie die US streef om te word en wat ons van ander universiteite onderskei. Dit bied dus 'n toekomsperspektief. Die nuwe visie is Visie 2040. Die vorige visie is vervat in Visie 2030.

Die US se strategiese raamwerk het ʼn korter tydhorison en definieer die raamwerk waarbinne die US sy aktiwiteite vir ʼn spesifieke periode rig. Die nuwe strategie is die Strategiese Raamwerk 2019–2024. ​Die vorige strategie was bekend as die Institusionele Voorneme en Strategie 2013–2018 (IVS), terwyl die strategie wat dit voorafgegaan het, bekend was as 'n Strategiese Raamwerk vir die Eeuwisseling en daarna.

Die Institusionele Plan (IP) omvat die planne van elke omgewing binne die US vir 'n ses jaar periode, insluitend die omgewingsplanne van die verantwoordelikheidsentra (VS) en fakulteite. Die VS omgewingsplanne sluit die professionele administratiewe steundienste in. Dit word jaarliks hersien, bygewerk en ingedien by die Departement van Hoëronderwys en Opleiding teen 15 Desember.
Vision_graphic_AFR.jpg
Aangesien die IVS uitloop teen 2018, is 'n proses in Julie 2016 onder leiding van Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering, begin vir die ontwikkeling van 'n nuwe strategie. Aangesien die strategie die operasionalisering is van die visie, is die visie (waar ons onsself binne 'n spesifieke tydraam sien) terselfdertyd hersien.

Fases van die oorhoofse strategieproses

Die oorhoofse strategieproses is in drie fases gestruktureer.

Tydens die eerste fase (Strategie Ontwikkeling – Julie 2016 tot Mei 2018) is die nuwe visie opgestel, asook die strategiese raamwerk wat die kern-strategiese temas, en ook die institusionele doelstellings vir elke strategiese tema, definieer. Gedurende hierdie fase is die waardes van die universiteit ook hersien.

Fase twee volg nadat die Raad die nuwe visie, Visie 2040, en die Strategiese Raamwerk 20192024 op 18 Junie 2018 goedgekeur het. Tydens hierdie fase (Strategie Aanvaarding – Julie 2018 tot Junie 2019) word die kern strategiese temas en doelstellings geoperasionaliseer deur konteksspesifieke doelwitte te defineer. Dit impliseer interaksie met fakulteite en ander omgewings ten einde belyning tussen die strategiese raamwerk en omgewingsplanne te bewerkstellig.

Fase 3 (Strategie Belyning – Julie 2018 tot Junie 2020) oorvleuel hiermee – om die gaping tussen die beplanning en formulering van strategie en die uitvoering daarvan te vul d.m.v. strukture en prosesse te belyn. Dit is dus 'n nuwe benadering van geïntegreerde beplanning en uitvoering ten einde 'n soepele en aanpasbare instelling te verseker waar monitering en evaluering 'n aaneenlopende proses is. 

BPO Infographic_AFR 3.jpg

Hierdie webwerf gee kortliks die mylpale wat reeds bereik is, asook die volgende stappe wat beoog word.