Ons dienste en projekte


Ons werksaamhede gee uitvoering aan die waardes van die Universiteit Stellenbosch, naamlik uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en billikheid. Ons dienste en projekte sluit in:


Strategiebeplanning en -bestuur


Strategiebeplanning en -bestuur behels die voorsiening van strategie-ontwikkelingsondersteuning aan die Universiteit se uitvoerende bestuur ten opsigte van die institusionele visie en strategie. Dit sluit tans die visuele uitrol van die visie en strategie op kampus in, asook die fasilitering van waardeswerkwinkels.

Ons is ook daarvoor verantwoordelik om die jaarlikse beplanningsprosesse vir die ontwikkeling van die institusionele plan met kollegas op alle vlakke regoor die Universiteit sentraal te koördineer, fasiliteer en bestuur. Dit behels onder meer die ontwikkeling van die raamwerk vir verantwoordelikheidsentrums en fakulteite se omgewingsplanne, die opneem van hierdie planne in ’n institusionele plan en die samestelling van die jaarlikse institusionele verslag vir die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

Laastens is ons verantwoordelik vir die implementering van ’n raamwerk wat verseker dat die strategie met ander interne prosesse, soos jaarlikse omgewingsplanne, die begrotingsproses en hulpbronplanne, geïntegreer en belyn is.


Projek- en portefeuljebestuur


Ons hanteer projek- en portefeuljebestuur vir strategiese projekte. Dit behels onder meer die identifisering van strategiese inisiatiewe om uitvoering aan die institusionele strategiese raamwerk te gee, asook die omvattende beplanning en bestuur van belangrike strategiese projekte en programme wat uit strategiese beplanning regoor die instelling kan voortspruit.

Noemenswaardige projekte van die afdeling sluit in:

  • Die Eeufees-inisiatief wat in 2018 onderneem is ter viering van die Universiteit Stellenbosch se eerste 100 jaar van leer, groei en saam vorentoe beweeg.
  • Die ontwikkeling van Visie 2040 en die Strategiese Raamwerk 2019–2024.
  • Die samestelling van ’n Gedragskode wat ons beplan om teen die einde van 2021 te voltooi. Die Universiteit Stellenbosch het hom in sy Visie 2040 en die Strategiese Raamwerk 2019–2024 tot die waardes van uitnemendheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en billikheid verbind. Ons is tans besig om ’n Gedragskode saam te stel om seker te maak dat hierdie waardes ons optrede en gedrag rig. Die Gedragskode sal in ’n waardegedrewe konteks eerder as ’n reëlsgedrewe konteks opgestel word. Belanghebbendes sal aktief by die proses ingesluit word sodat hulle mede-eienaarskap van die kode kan neem.


Bestuur van die US Strategiese Fonds


Die US Strategiese Fonds fokus op inisiatiewe wat direk belyn is met die visie, missie en kern strategiese temas van die Universiteit, soos vervat in Visie 2040 en die Strategiese Raamwerk 2019–2024. Die toekenning van fondse geskied ten opsigte van die ses kern strategiese temas van die Universiteit en die gepaardgaande institusionele doelwitte.

Beide die Strategiese Fonds se sekretariaat en prosesbestuurder is in die Strategiese Inisiatiewe Afdeling gesetel. Sodoende neem die afdeling verantwoordelikheid vir die bestuur en administrasie van die Fonds en ondersteun die Universiteit se bestuur in die belyning van strategiese befondsing met die Universiteit se strategiese doelwitte.  


Monitering en evaluering


Die Afdeling Strategiese Inisiatiewe monitor tans die US Strategiese Fonds. Ons monitering- en evalueringsfunksie sal in die toekoms uitgebrei word om ook die Universiteit se institusionele strategiese raamwerk in te sluit, met inbegrip van die ontleding en hersiening van die strategiese raamwerk op grond van lesse wat geleer is.

Ons sal ook belangrike strategiese projekte en programme ondersteun en monitor wat uit strategiese beplanning voortspruit en wat aan die afdeling toegewys is.


Veranderingsbemagtiging en -bestuur


Ons is tans besig met die ontwikkeling van ’n raamwerk vir veranderingsbemagtiging en veranderingsbestuur vir die Universiteit wat op projekte van verskillende groottes van toepassing sal wees.

change enablement.jpg

Die raamwerk vir veranderingsbemagtiging sal fokus op die bemagtiging van mense om verandering en die impak daarvan te bestuur.

change management.jpg

Die raamwerk vir veranderingsbestuur sal fokus op die bestuur van die veranderingsproses vir ’n bepaalde situasie of projek.

Daarbenewens beplan die Afdeling Strategiese Inisiatiewe die daarstelling van ’n institusionele belangegroep gefokus op veranderingwat ons in staat sal stel om prosesse en strukture vir verandering regoor die instelling te optimaliseer.