Rektor & Visekanselier – Prof Wim de Villiers

Die Universiteit Stellenbosch (US) is ʼn gevestigde instelling wat
uitstekend vaar in al drie ons kernaktiwiteite – navorsing, leer en
onderrig, asook gemeenskapsinteraksie. Hier word betroubare en bruikbare
kennis geproduseer, menslike potensiaal ontwikkel, en betekenisvolle
vennootskappe met die res van die samelewing gesmee. Dít alles maak van
die US ʼn juweel in die kroon van die hoër onderwys in Suid-Afrika.
Ten
einde hierdie vlak van prestasie te handhaaf, streef die US ʼn
inspirerende visie na – om Afrika se voorste navorsingsintensiewe
universiteit wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend
erken word, en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder.
Universiteite
wêreldwyd word deur vername uitdagings in die gesig gestaar, en die US
is geen uitsondering nie. Hoe bly ons relevant te midde van snelle
verandering? Hoe benut ons nuwe tegnologie sonder om akademiese
uitmuntendheid in te boet. Hoe berei ons ons studente voor op sukses in ʼn
onsekere toekoms? Hoe verseker ons ons voortbestaan in knellende
ekonomiese omstandighede?
Ons moet vernuwend te werk gaan en
soepelheid aan die dag lê om nie net te oorleef nie, maar te floreer.
Volgehoue transformasie het noodsaaklik geword vir enige universiteit
wat sy sout werd is en volhoubaar wil wees.
Meer as honderd jaar
ná ons amptelike totstandkoming in 1918, is die US nogmaals op ʼn
opwindende reis die toekoms in. Ons is goed geplaas om ʼn belangrike
ontmoetingspunt tussen Afrika en die res van die wêreld te wees. Dít het
ons aan die visionêre leierskap en onbaatsugtige toegewydheid van ons
voorgangers te danke. Nou beweeg ons vasberade saam vorentoe.
Wim de Villiers
Kontak
Maretha Joyce
Persoonlike Assistent
Tel: +27 (0) 21 808 4490
E-pos: vc@sun.ac.za