Student Affairs
Welkom by Universiteit Stellenbosch

 

​​

FVZS LSAL.png

Die Leiersberaad vir Aspirantleiers (LSAL) is in 2020 ingestel om breër skakeling te fasiliteer oor leierskap wat verder as portefeulje-opleiding gaan, en om die hiërargiese konstruk van leierskap binne hoëronderwysinstellings uit te daag. Die LSAL beklemtoon die individu ten einde te verseker dat mense verantwoordelikheid vir die ontwikkeling van hulle leierskapreis aanvaar.


Wat is die LSAL?

Die LSAL is ’n aanlyn leierskapsaanbod wat ontwikkel is om studente te help besin oor hulle persepsie van leierskaprolle, hoe leierskaprolle binne die hoëronderwysmilieu opgestel word en watter uitwerking dit op leierskap in Suid-Afrika en wêreldwyd het. Die kernvraag wat ondersoek word, is: Hoe kan studente op persoonlike vlak daartoe bydra dat die manier waarop persepsies oor leierskap gevorm en ervaar word, verander sodat dit sal help om leiers vir die 21ste eeu te ontwikkel?


Metodologie

Die LSAL is ’n maand lange aanlyn program in drie fases wat deur personeel en studente ontwikkel is om die ontwikkeling van leiers in die hoëronderwysmilieu samewerkend te herbedink en uit te werk. Fase 1 bestaan uit materiaal wat die studente vooraf moet bestudeer ter voorbereiding op fase 2, wat die dag van die Beraad is. Die dag van die Beraad behels paneelbesprekings en wegbreeksessies vir gesprekvoering met studentementors. Fase 3 behels ’n na-beraad waartydens studente oor hulle persoonlike doelstellings besin. Die program self is aan die hand van die teorie van verandering gekonseptualiseer ten einde die omgewing te ondersoek en aannames uit te daag met die oog daarop om elke jaar ’n omvattende doelwitverklaring op te stel. Die ontwerpproses behels ook die toepassing van die metodologiese benadering bekend as waarderende ondersoek, wat daarop ingestel is om uit te wys wat goed in die omgewing werk en hoe om op gevestigde grondslae voort te bou. Nadat dit afgehandel is, kry deelnemers geleentheid om vir die LSAL Tracking-program in te skryf, waarvolgens ’n studentementor aan elkeen toegewys word.

Platform

Die LSAL bied ’n platform vir aspirantleiers om hulle persepsies van leierskaprolle onder die soeklig te plaas en daaroor te besin, asook hoe sulke rolle binne die hoëronderwysmilieu gekonstrueer word. Deur paneelbesprekings en wegbreeksessies te gebruik, bied hierdie skakelingsplatform ’n ruimte waar aspirantleiers oor leierskap kan nadink teen die agtergrond van die breër, nasionale leierskapskonteks en hoe dit leierskap aan die US en leierskap vir die 21ste eeu beïnvloed. Die temas wat telkens in hierdie aanbod ter sprake kom, is onder meer leierskap in konteks, hoe om vooroordele die hoof te bied, en relasionele en verantwoordbare leierskap. Daarby bied hierdie aanbod geleentheid vir aspirantleiers om mentorskap te bekom, wat tot hulle selfontwikkeling sal bydra, en om ’n doelstellingsplan vir hulle leierskapreis op te stel.


Erkenning

Die LSAL word as ’n geregistreerde opleidingsgeleentheid aan die US erken, en studente kry erkenning daarvoor op hulle akademiese rekord.​