Tradisionele benaderings en praktyke van leierskap het die begrip 'leierskap' probeer omskryf deur verskeie teorieë en modelle toe te pas wat oor jare heen ontwikkel is. Gevolglik was leierskap baie sterk op die kenmerke, kennis en gedrag van individue ingestel (Rost, 1993). Hierdie verstaan en toepassing van leierskap het bygedra tot die toenemende behoefte daaraan dat idees oor en die praktyke van leierskap herbedink word as 'n proses eerder as 'n titel, en dat verandering en besluite op grond van sosiale konstruksionisme gemaak word.[1] In die kortkursus Kollektiewe Leierskap wil ons leierskap herbedink en heromskryf as 'n sosiale proses (d.w.s. wat voortgaan) waarin verandering en doelwitte deur voortgaande en intensionele omgang met ander bereik word.
In die kortkursus Kollektiewe Leierskap ondersoek deelnemers die begrip 'kollektiewe leierskap' deur 'n lens van relasioneleleierskap-teorie en die stelpunt dat dit die grondslag verskaf om alle leierskapteorieë en ‑modelle te verstaan; hoe belangrik dialoog/kommunikasie binne die leierskapverhouding is; die gedagte dat konteks voortdurend die idee en verstaan van 'leierskap' slyp; en die teorie en praktyk van hoe verhoudinge en empatiese bande ontstaan – in die besonder, hoe kollektiewe leierskap sosiale en kulturele verandering kan uitwys en hanteer.
Vir meer inligting, stuur 'n e -pos aan fvzs@sun.ac.za.
[1] Sosiale konstruksionisme beklemtoon hoe belangrik kultuur en konteks is om te begryp wat in die samelewing gebeur en om kennis te konstrueer wat op sodanige begrip begrond is (Derry, 1999; McMahon, 1997).