Lees hiernaas vir meer info oor ons drie pillare - Leierskap en Aktiewe Burgerskap, Sosiale Geregtigheid, en Kritiese Gesprekvoering en Kritisiteit.
Burgerleierskap is 'n voertuig wat studente in staat stel om teorie in praktyk om te skakel, asook 'n gerigtheid op gemeenskapsverandering waarin studente agente van verandering raak wat 'n beter toekoms skep. Burgerleierskap slaan die brug tussen studente en hulle gemeenskappe of organisasies, bied praktiese toepassing van kennis en wek sinergie tussen studente, gemeenskappe en die samelewing ten einde gemeenskaplike probleme deur middel van langtermynverandering op te los [eie vertaling uit Engels].[1]
Ons streef daarna om deur ons kurrikulum met jeugleiers in vennootskap te tree ten einde burgerleierskap as ons gemeenskaplike doelwit en visie op te bou, sodat dit as dryfkrag vir betekenisvolle verandering in die breër sosiale konteks kan dien. Ons erken ons historiese konteks en die invloed daarvan op die kollektiewe mag van ons jeugleiers en op ons verantwoordbaarheid as agente van verandering om die gemeenskap nuwe vorm te gee. Ons maak van kontekstualiserende leer gebruik om te verseker dat ons leierskapsaanbod tersaaklik vir die huidige konteks en klimaat bly. Ons is daartoe verbind om 'n aktiewe identiteit as FVZS Instituut-alumni te vestig deur met alle hoëronderwysvennote saam te werk ten einde die FVZS Instituut te posisioneer as toonaangewende instituut vir jeugleierskap wat die kollektiewe mag van jeugagentskap in Suid-Afrika en verder versterk. Ons gaan voort om te ondersoek hoe 'n Afrikaperspektief op leierskap, persepsies van leierskap, wêreldbeelde en intergenerasionele gesprek die leierskapsuitdagings van ons kontinent kan aanpak en nuwe geleenthede vir die volgende geslag leiers kan skep.
- Social justice – in which equalisation entails relative losses on the part of hitherto privileged people[2] (Smith, 1999).
- Social justice is defined as 'parity of participation' and the idea that social structures allow all individuals to participate in decision-making on equal footing[3] (Macpherson et al., 2014).
Ons werk is daarop gemik om die historiese betekenis van die hoëronderwyslandskap in Suid-Afrika na te spoor by wyse van 'n nadenkende en kritiese proses waardeur ons daarna streef om te begryp wat op die tafel is. Ons mik daarna om 'n inklusiewe omgewing te bied wat studente toerus om gesprekvoering oor die konteks van die Suid-Afrikaanse hoëronderwyslandskap te fasiliteer met spesifieke fokus op sosiale geregtigheid. Ons aanbiedings ondersoek die geskiedenis van ons onderwysstelsel indringend deur gelykwaardigheid, billikheid en geregtigheid te posisioneer onder 'n lens van nadenkendheid wat verskillende oogpunte en wêreldbeskouings in oënskou neem. Ons is daartoe verbind om 'n ruimte te bied waar dit duidelik is dat die studentestem gehoor word en waar studentemobilisasie daartoe meewerk om huidige werklikhede binne die hoëronderwyslandskap aan die Universiteit Stellenbosch en in Suid-Afrika onder die soeklig te plaas.
In die hedendaagse wêreld van wisselvalligheid, onsekerheid, kompleksiteit en onduidelikheid (Eng. VUCA – volatile, uncertain, complex and ambiguous) is dit noodsaaklik dat studente nadink oor hulle omgang met en ontmoetings binne hulle onderskeie omgewings. Kritiese denke is waardevol, aangesien dit 'n nadenkende aktiwiteit is wat in dade oorgaan en mense in staat stel om te besin oor wat en hoe hulle dink.[4] Die vertrekpunt van kritiese denke is om oortuigings te evalueer, asook die onderliggende aannames en wêreldbeskouings waarin dit veranker is.[5] Daar word ook gereken dat kritiese denke geleentheid bied om redes vir alle handelings en gedrag te assesseer.[6] Deur ruimtes en geleenthede te skep wat kritiese denke aankweek, moedig ons dus studenteleiers aan om hulle wêreldbeskouing en faktore wat dit beïnvloed onder die soeklig te plaas en dit krities te beoordeel. Deur middel van ons aanbiedings gee ons aan deelnemers geleentheid om medeskeppers te wees van 'n platform vir onderlinge omgang wat hulle in staat stel om betekenis uit inligting te onttrek en om inhoud grondig te ondersoek op 'n manier wat meer as tematiese ordening behels. Deur sulke ruimtes te skep, stel ons studente in staat om inligting krities se beoordeel en te ontleed, en om kontekstuele uitdagings deur middel van kritisiteit aan te pak. Kritisiteit herposisioneer die individu deurdat dit alle opvoeding, ervaring en ontmoetings omvat en sodoende 'n kritiese bestaansmodus in die wêreld skep. Daar word gesê dat kritiese denke ietwat meganies fokus op redelike, nadenkende denke en die handelings wat daaruit behoort te spruit.[7] Die praktyk van kritisiteit, daarenteen, bevorder 'n simbiotiese verhouding tussen kennis wat teëgekom word en die individu se bestaan, ontwikkeling en werklikheid.[8] Kritisiteit is 'n teëwig vir die eng konstruk 'kritieke denke', en omsluit die gedagte dat individue hulle eie denke en bestaan formuleer deur middel van kontekste waarbinne hulle hul bevind.[9] Dit stel studente in staat om te besin oor dit wat hulle redenasies en omgang met diskoers stuur.
VOETNOTAS:
[1] Langone, CA. 2004. The use of a citizen leadership model for teaching strategic leadership. Journal of Leadership Education, 3(2): 82-88.
[2] Smith, DM. 1999. Social justice and the ethics of development in post‐apartheid South Africa. Philosophy & Geography [Intyds] 2(2). Beskikbaar: https://www.tandfonline.com/doi/abs/10.1080/13668799908573668 [2022, April 28].
[3] Macpherson, I, Robertson, S & Walford, G (reds.). 2014. Education, privatisation and social justice: Case studies from Africa, south Asia and southeast Asia. Symposium Books Ltd.
[4] Bezanilla, MJ, Fernández-Nogueira, D, Poblete, M & Galindo-Domínguez, H. 2019. Methodologies for teaching-learning critical thinking in higher education: The teacher's view. Thinking Skills and Creativity [Intyds] 33. Beskikbaar: https://www.sciencedirect.com/science/article/abs/pii/S1871187119300380?via%3Dihub [2022, April 28].
[5] Dunne, G. 2015. Beyond critical thinking to critical being: Criticality in higher education and life. International Journal of Educational Research, 71: 89.
[6] Ibid.: 90.
[7] Fisher, A. 2011. Critical thinking: An introduction. Cambridge University Press, bl. 9.
[8] Dunne, G. supra, bl. 93.
[9] Ibid., bl. 94.