Economic and Management Sciences
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Geskiedenis

Die Fakulteit van Handel (en Administrasie) het in 1925 as selfstandige fakulteit aan die Universiteit Stellenbosch tot stand gekom. Dit het gegroei van slegs 15 studente in 1925 tot meer as 7000 in 2015 en is sedert 1991 die grootste fakulteit aan hierdie Universiteit.

Die stigting van die Fakulteit is moontlik gemaak deur 'n ruim skenking van die Helpmekaar Vereniging van Kaapland, wat in 1921 'n beurs van £150 per jaar aan die Universiteit geskenk het. Die doel van die beurs was om 'n persoon op te lei wat later in die beoogde Handelsfakulteit aangestel kon word. Hierdie beurs is aan CGW Schumann toegeken.


 

 

​​Grondlegger

Prof. CGW Schumann, wat in 1924 as senior lektor in Handelsekonomie en later as hoogleraar in Bedryfsekonomie aangestel is, het in 1936 dekaan geword. Hy kan met reg as die grondlegger van die Fakulteit beskou word. Teen sy aftrede in 1960 het hy die Handelsfakulteit uitgebou tot een van die toonaangewendste in die land.

Die gebou vir sosiale wetenskappe, wat onder meer bekend gestaan het as die HF Verwoerd- en die Rekeningkunde- en Statistiekgebou, het sedert sy oprigting in 1949 sommige van die Fakulteit se studierigtings gehuisves. In 1977 is 'n nuwe gebou vir die Fakulteit opgerig en na prof. CGW Schumann vernoem. Die steeds groeiende Fakulteit maak ook gebruik van bykomende ruimte op beide die Stellenbosch- en Bellvillepark-kampusse.

Sedert 1995 staan die Fakulteit bekend as die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.


 

Dekane

Die dekane van die Fakulteit was professore P Serton (1925-1930); JFW Grosskopf (1931-1934); CGW Schumann (1935-1960); DEW Schumann (1961-1962, 1967-1970 en 1975-1985); JL Sadie (1963-1964 en 1971); CA Smith (1965-1966); IJ van Biljon (1972-1974 en 1986-1989); SM Swart (1990-1995); JA Matthee (1996-2001); E Calitz (2001-2002); JU de Villiers (2003-2013); en SA du Plessis (2014-2016). Laasgenoemde is opgevolg deur 'n waarnemende dekaan, prof Johan Malan (2017-Maart 2018). Die huidige dekaan, prof. Ingrid Woolard, die eerste vrouedekaan in die geskiedenis van die fakulteit, se ampstermyn het in Mei 2018 begin.