SPL (School of Public Leadership)
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Stellenbosch Skool vir Publieke Leierskap: 'n Beknopte Ontluikende Geskiedenis


Soos gekommunikeer deur Prof Erwin Schwella, Professor in Publieke Leierskap by die Skool vir Publieke Leierskap.


'n Formele besluit om 'n Departement Openbare Administrasie en Staatsleer in die Fakulteit Handel en Administrasie te stig, is gedurende 1965 deur die Senaat en die Raad van die Universiteit van Stellenbosch geneem. Die besluit was om ook 'n B.Admin graad as 'n buitemuurse graad met ingang 1965 bekend te stel, en vanaf 1966 as deel van die akademiese aanbod op die Stellenbosch hoofkampus op Stellenbosch aan te bied.

Die aanvanklike kursusse wat deur die Departement aangebied is, was 'n B.Admin, 'n Honneurs B.Admin en 'n M.Admin graad en in 1965 en 1966 onderskeidelik het 3 deeltydse en 10 voltydse studente vir die B.Admin graad in Stellenbosch ingeskryf, en 4 deeltydse studente in Bellville. In 1978 is die professionele Honneurs B in Publieke Administrasie en die MPA programme bekendgestel om  geleenthede vir middel-loopbaan professionele persone te skep om 'n professionele magistergraad in openbare bestuur te behaal. Hierdie grade vorm steeds die sentrale professionele kwalifikasie van wat nou die Skool vir Publieke Leierskap is, waarskynlik die mees professionele en gesogte Suid-Afrikaanse MPA-graad.

Dr WB (Ben) Vosloo, wat sy magistergraad aan die Universiteit van Pretoria voltooi het voordat hy sy PhD-graad aan die Cornell Universiteit in die Verenigde State van Amerika behaal het, is in 1966 as senior lektor by die Departement aangestel. Hy het as hoof van die departement gedien tot 1981 toe hy die eerste besturende direkteur van die Kleinsake-Ontwikkelingskorporasie (nou Business Partners) geword het. Hy het 'n aantal verdere programme en grade in die Departement, insluitend die MPA-program in die laat 1970's, ingestel. Hy was 'n senior raadgewer vir bestuursontwikkeling vir die destydse regering en het op prominente regeringskommissies soos die destydse Erika Theron-kommissie en die De Lange-kommissie gedien. Hy is aanvanklik deur jong kollegas soos mnr Jannie Gagiano, dr Gerhard Totemeyer, dr Fanie Cloete wat politieke wetenskap en openbare administrasie aangebied het, en ook twee lektore in openbare administrasie, dr Chris Steyn en mnr Andries van Rooyen, bygestaan. Erwin Schwella het op 1 Januarie 1981 as 'n junior lektor by hierdie span aangesluit.

Soos baie van sy opvolgers,was professor Vosloo nogal omstrede en is selfs met die dood gedreig nadat hy voorgestel het dat die Wet op die Verbod van Gemengde Huwelike geskrap moet word. Nadat professor Vosloo na die KSOK verskuif het, was professor Werner Pfeifenberger, 'n Oostenrykse Professor van Internasionale Aangeleenthede, vir 'n kort tydperk van twee jaar aan die hoof van die Departement. Gedurende 1984 en vir twee jaar daarna, het die Universiteit professor WPE (Willie) Esterhuyse as departementshoof aangestel. Professor Esterhuyse, 'n filosoof, het 'n sterk etiese en morele komponent by die werk van die Departement ingeskakel en het as skrywer van die nou bekende "Afskeid aan Apartheid" ook die kritiese standpunte oor apartheid wat reeds is in die onderrig en navorsing van die Departement teenwoordig was, verstewig.

Vanaf 1985 tot 1990 het die Departement die eerste fase betree van die historiese ontwikkeling wat met herstrukturering verband hou.

Die Departement het in 1986 van die Departement Politieke Wetenskap geskei en het 'n outonome departement in die Fakulteit Handel en Administrasie geword. Professor JSH (Hans) Gildenhuys is aangestel om die Departement van Openbare Administrasie vanaf Januarie 1986 te lei.

Professor Gildenhuys, wat by die Universiteit van Pretoria gegradueer het, het 'n baie sterk grondslag in Openbare Finansies en Plaaslike Regering gehad en het belangrike werke soos die seminale "Owerheidsfinansies" oor openbare finansies gepubliseer. Gedurende professor Gildenhuys se termyn is die Departement se personeel en studentegetalle uitgebrei.

Die Departement het ook die reeks nou bekende Wynland konferensies onder leiding van professor Gildenhuys in 1987 ingestel. Die eerste Wynland-konferensie in 1987 het die "Study of Administration", Woodrow Wilson se beroemde artikel wat vir die eerste keer in die "Political Science Quarterly" in 1887 gepubliseer is, herdenk.  Die konferensie was georganiseer deur Erwin Schwella, toe 'n dosent, en 'n honneursstudent, Martin van Zyl, wat later die eerste Direkteur-generaal van die Noord-Kaapprovinsie was en tans 'n dosent aan die Skiereiland Technikon is. Vir die ongeveer 28 jaar sedertdien is die Wynland-konferensies internasionaal bekend as voorpunt geleenthede om kennis oor bestuur te skep en uit te ruil. Die fokus van die derde Wynland-konferensie wat in 1991 plaasgevind het, was "Publieke Administrasie in Suid-Afrika ná Apartheid", terwyl die konferensie wat vir 2016 beplan was, gehaltebestuur betrek het. Dr Ivan Meyer is gedurende daardie tyd as lektor aangestel. Nadat dr Meyer sy doktorale studies onder leiding van die finansiële deskundige, prof Hans Gildenhuys, voltooi het, het hy 'n loopbaan in in die politiek gevolg en dien tans as die Minister van Finansies in die Wes-Kaapse Provinsiale Regering. Dr Meyer was ook een van die eerste swart personeellede wat by Stellenbosch Universiteit aangesluit het.

'n Tweede fase van herstrukturering en vernuwing het aanvang geneem toe prof Erwin Schwella ná die aftrede van prof Gildenhuys in 1991 as voorsitter van die Departement aangestel is. Professor Schwella, wat reeds besig was om as waarnemende departementshoof te dien, was vanaf Januarie 1992 hoof van die departement kort daarna ook Direkteur van die Skool vir Openbare Bestuur en Beplanning.

Professor Fanie Cloete se terugkeer na die Skool in Junie 1992 vanaf 'n professoraat aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit, nou die Universiteit van Johannesburg, het die beleidsanalise kapasiteit, asook die wetlike en openbare bestuurskundigheid van die Skool verbreed.  Dr JJ (Kobus) Muller het ook in 1992 tot die geledere van die Skool toegetree as senior lektor en kundigheid in omgewingsbestuur en sy ervaring uit die professionele praktyk bygevoeg. Hy was instrumenteel in die op- en uitbou van die Skool se programme op die gebied van omgewingsbestuur.

Aan die begin van 1993 het die destydse Departement Ontwikkeling Administrasie en die Departement Openbare Administrasie saamgesmelt en die Skool vir Openbare Bestuur en Beplanning het tot stand gekom. Die personeel is verder uitgebrei deur die toevoeging van personeellede van Ontwikkelingsadministrasie soos professor WJO (Julius) Jeppe, en mnre Francois Theron en Johan van Baalen.

Gedurende hierdie tydperk het die departement kundigheid in die vorm van toenemende navorsingsuitsette, Magister- en doktorale gegradueerdes, sowel as diens aan die gemeenskap en raadgewing uitgebou. Kollegas soos professor FMU (Frederik) Uys en W (William) Fox, wat gedurende hierdie tydperk aangestel is, het die werk van die departement in hierdie pogings uitstekend ondersteun.

Professor Uys het summa cum laude met drie hoofvakke aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer en het na voltooiing van 'n skof by die Universiteit van Pretoria en 'n PhD, na Stellenbosch teruggekeer, aanvanklik as senior lektor. Hy dien tans as professor, teoretikus en filosoof van formaat in die Skool.

Professor William Fox het  in die hoër onderwys gedien, insluitend as  stigtersregistrateur van die Akademie van Namibië (nou die Universiteit en Politegnikum van Namibië). Verder het professor Fox as  bekwame taalkundige 'n bydrae tot die ontwikkeling van wetenskaplike terminologie vir openbare administrasie in beide Afrikaans en Engels gelewer.

Mnr APJ (Johan) Burger, nou professor Johan Burger, 'n opgeleide en geregistreerde professionele argitek, het op 1 Januarie 1995 as dosent by die skool aangesluit en het in 2005 'n volle professor geword. Hy het ook vanaf 2004-2006 as direkteur gedien en weer vanaf 2013. Sy bydraes is indrukwekkend; as deskundige in finansiële en projekbestuur en briljante MPA en PhD-student, sowel as 'n baie bekwame innoveerder en akademiese leier, het hy die skool reeds op voorbeeldige wyse verder gebou. Tydens sy loopbaan het hy onder andere 'n groot bydrae tot die leierskap en innovering in die Skool gelewer. Tydens sy direkteurskap het hy die akademiese programme gekonsolideer en die voetspoor van die Skool op 'n baie kreatiewe en professionele wyse deur die instelling van gemengde onderwys, nuwe kurrikulum benaderings en nuwe programme uitgebrei en gaan voort om dit te doen. Meer oor sy prestasies as akademikus en direkteur is in 'n geskikte plek later in hierdie dokument aangeteken.

Die Meestersgraad in Stads- en Streekbeplanning is tydens 1992 in 'n MPhil in Ontwikkelingsbeplanning verander. Hierdie program het stukrag en geloofwaardigheid verkry, ook met die aanstelling van prof Mark Swilling in 2003. Dit het ook die Volhoubaarheidsinstituut by Spier met die Skool verbind. Die intellektuele ruimte en institusionele argitektuur van die Skool was nou aansienlik en het substantief van die aanvanklik bloot aangehegte toevoegsel as Departement Openbare Administrasie tot Politieke Studies van 1965 tot 1983 verskil. Verder is die Departement  Stedelike en Landelike Beplanning van die begin van 1999 af by die Skool ingeskakel. Professor C Todd Welch, dr Piet Claassen, dr Willem Pienaar en Me Anneke Muller se kundigheid is tot die Skool bygevoeg.

Die tydperk 1992-2004 waartydens prof Erwin Schwella as Direkteur gedien het, kan vasgevang word in terme van 'n aantal strategiese inisiatiewe in verband met:

  • internasionalisering,
  • professionalisering,
  • diversifisering en
  • transdissiplinariteit.

Ten opsigte van internasionalisering, is transformasie in die Suid-Afrikaanse konteks ingelui met die gewigtige veranderinge tot demokratisering ná die toespraak van 2 Februarie 1990 deur destydse President FW de Klerk, die vrystelling van die latere President Mandela en die oorgang tot demokratisering in Suid-Afrika. Dit was gekoppel aan die grondwetlike onderhandelinge en daaropvolgende demokratiese verkiesing en die aanvaarding van die demokratiese Suid-Afrikaanse Grondwet in 1996. Die wêreld het vir Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse bestuur en akademiese instellings oopgegaan.

Binne hierdie veranderende globale konteks is 'n spesifieke en doelbewuste strategie gevolg om die Skool in globale intellektuele bestuurs- en kennisnetwerke sowel as die beste akademiese en professionele praktyke in te skakel. Dit is gedoen deur die daarstelling van bande regoor die wêreld met vooraanstaande akademiese instellings betrokke by bestuursaktiwiteite, insluitend die Universiteit van Leiden in Nederland, Leuven Universiteit in België, Harvard Universiteit se Kennedy School of Government, die Potsdam Universiteit, Duitsland, Rennes1 Universiteit in Frankryk, die Umea Universiteit in Swede en die Universiteit van Manchester in die Verenigde Koninkryk.

Professor Schwella is ook met befondsing deur die Britse regering verbind en gekontrakteer om bestuur en leierskap by die destydse Civil Service Kollege in Sunningdale, Engeland, vir leiers van die bevrydingsbewegings wat uit ballingskap gekom het, te onderring. 'n Aantal personeellede was ook internasionaal en nasionaal by die grondwetlike onderhandelingsprosesse betrokke, insluitend professor Schwella en die terugkerende professor Fanie Cloete wat na betrokkenheid by grondwetlike ontwikkeling en by Wits en die Randse Afrikaanse universiteit weer in dié tydperk by die Skool as professor aangesluit het.

Professore Schwella en Cloete was prominent in die Newick Park Inisiatief waar uitgewekenes en progressiewe denkers in Battle, Hastings, in die Verenigde Koninkryk bymekaar gekom het om oor Suid-Afrika se sosiale, politieke, ekonomiese en bestuurstoekomste te beraadslaag en van waar insette tot die Kodesa-proses gelewer is. Hulle het ook leidende rolle gespeel in die interne prosesse wat met die Mount Grace en JUPMET inisiatiewe verband gehou het. Hierdie geborgde inisiatiewe is deur internasionale skenkers ondersteun om Suid-Afrikaanse bestuursakademici met die wêreld se beste praktyke in lyn te bring. Die idees wat die verdere institusionalisering van die Skool se kapasiteit as 'n intellektuele en professionele ruimte vir nasionale en globale bestuur ingelig het, is in baie gevalle uit hierdie internasionale ervarings en die gekoppelde nasionale ervarings afgelei.

In verband met professionalisering het die Skool se kurrikulum en navorsingsaktiwiteite aansienlike klem op die professionele MPA vlagskipprogram van die Skool laat val. Die akademiese werk in hierdie program is op wêreld beste praktyke geskoei wat bekom is uit soortgelyke programme op die internasionale voorpunt, spesifiek in die VSA waar die MPA by die Kennedy School of Government van die Harvard Universiteit as model vir die MPA by Stellenbosch gebruik is. Op hierdie wyse is die grondslag gelê en 'n uitstekende Suid-Afrikaanse MPA van wêreldklas standaard gebou in 'n andersins ietwat somber Suid-Afrikaanse MPA landskap en mark. Die MPA is op uitnemendheid in bestuur met behulp van uitnemendheid in bestuur gebou en is voortdurend ook besig om self versterk te word deur die goed saamgestelde innoverende gemengde onderrigbenaderings wat deur prof Johan Burger ontwerp en met 'n uitstaande span professionele ondersteunings- en administratiewe ondersteuningspersoneel gelewer word. Met meer as 300 studente wat ingeskryf is en duisende alumni regoor die wêreld wat uitnemendheid by bestuur byvoeg, laat  'n MPA kwalifikasie van Stellenbosch tans 'n aansienlike Afrikaanse en Suid-Afrikaanse voetspoor en impak.

Diversifikasie is gedurende hierdie tyd strategies nagejaag. Die Skool het tans 'n internasionale en diverse studente- en personeelprofiel, sowel as 'n gediversifiseerde professionele en program aanbod. Die opbou hiervoor het in die 1990-2004 tydperk begin en die tendens is sedertdien gekonsolideer en professioneel geïnstitusionaliseer. Nuwe programme in die vorm van nagraadse kursusse in Ontwikkelingsbestuur, Volhoubare Ontwikkeling en Transdissiplinêre Studies is ingevoer. Die PhD uitset van die Skool het toegeneem sodat die Skool nou, tesame met aansienlike groei in geakkrediteerde en ander boekpublikasies, 'n gediversifiseerde sosiale en akademiese instelling van belang geword het.

Die diversifisering van die Skool het ook stukrag en impak verkry deur die skep van die Skool se uitvoerende programme, sowel as deur adviserende en raadplegende aktiwiteite. Die akademiese kennisaanbod van die Skool is beskikbaar gestel in die vorm van professionele en praktykgerigte waardetoevoegende uitvoerende programme en institusionele kapasiteit en deur aktiwiteite vir die ontwikkeling van individuele bevoegdheid.

Diversifikasie is ook gedien deur die skepping van 'n geassosieerde kundigheidpoel in die vorm van buitengewone akademiese, professionele medewerkers en nasionale en internasionale genote sowel as internskappe. In die vorm van 'n geassosieerde kundigheidgemeenskap, voeg hierdie diverse en kundige groep medewerkers meer as honderd kundiges van internasionale en nasionale faam by die permanente akademiese en professionele vermoë van die Skool.

Transdissiplinariteit word deur die internasionalisering, professionalisering en diversifisering van die Skool gedien. Binne hierdie konteks verteenwoordig dit ook 'n skuif vanaf 'n enkeldissiplinêre openbare administrasiegerigte departement na transdissiplinêre bestuur-, leierskap- en ontwikkelinggerigte Skool vir Publieke Leierskap.

Die behoeftes van effektiewe en etiese bestuur vir ontwikkeling en uitnemendheid vereis vergelyking met internasionale tendense in beste praktyk, professionele insette en invloede wat leierskap vereis om komplekse aanpasbare uitdagings deur aksieleer en navorsinging te hanteer. Dit vereis ook verskillende insette vanuit verskillende akademiese, sosiale, politieke en professionele insigte en insette. Verder veronderstel hierdie inisiatiewe ook 'n akademiese sisteem met insette en uitsette wat innoverend, kreatief en waardeskeppend is (van die kant/'from') van internasionale en nasionale beroepe, professionaliteit en kennisbasisse wat in die praktyk gegrond sowel as aan akademiese kennis gekoppel is.Hierdie toestande kom oor die algemeen nie uit 'n enkele dissiplinêre fokus nie, of dit nou die breër bestuur of 'n nouer publieke administrasiefokus is. Dit is dus noodsaaklik om uit die wydste transdissiplinêre insette vanaf die perspektiewe van diverse akademiese kennis en professionele kundigheid te put. Die Skool het dit gedurende die direkteurskap van prof Erwin Schwella begin doen en het in die daaropvolgende tydperk van 2004 tot die hede daarmee voortgegaan.

Die derde en huidige fase van die voortdurend ontwikkelende dinamiek van die Skool het gedurende 2004 na vore begin kom en duur voort. Die momentum rondom internasionalisering, professionalisering, diversifisering en transdissiplinariteit, en inisiatiewe in hierdie verband, is gedurende hierdie tyd verder uitnemend gekonsolideer, versterk, geïnstitusionaliseer en geïmplementeer.

Gedurende hierdie tydperk is die direkteurskap van die Skool roterend deur professore Fanie Cloete, Kobus Muller en Johan Burger behartig, wat almal op hul unieke manier bygedra het om die openbare waardetoevoeging van die Skool verder uit te bou en te verhoog. Opvoeding en onderrig is uitgebrei en verbeter, navorsing het gegroei en advisering en raadgewing het toegeneem. Van besondere belang hier is die aanwas in permanente akademiese personeel met 'n aantal talentvolle personeellede, onder wie twee volle professore, naamlik professore Alan Brent en Pregala (Solosh) Pillay.

Professor Johan Burger het gedurende hierdie tydperk 'n belangrike bydrae met betrekking tot die program en aflewering gelewer deur die bekendstelling van baie innoverende nuwe programme, die verfyning van bestaande programme en die verpakking van alle programme in nuwe gemengde leweringsmetodes. Hierdie inisiatiewe se bydrae tot die stukrag en impak van die Skool is aansienlik.

Om hierdie dinamiek te weerspieel, is die naam van die skool ook verander. Die Skool vir Openbare Bestuur en Beplanning is nou  die Skool vir Publieke Leierskap.

ʼn Aantal uitstekende akademiese instellings is onder leiding van professor Mark Swilling geskep, gestig en aan die Skool gekoppel. Dit het met die Volhoubaarheidsinstituut begin en is deur skakeling met nasionale uitnemendheidsentrums gevolg, ook met die insluiting van die transdissiplinêre doktorale TsamaHub-program.

Professor Erwin Schwella is ook besig met die bou van 'n innoverings-ekosisteem wat kundige innoveringshelikse in areas soos gesondheid, geregtigheid, vrede, veiligheid en sekuriteit, en innoverende eiendomsbestuur insluit, en geïnstitusionaliseer is deur die Stellenbosch Forum vir Goeie Regeerkunde, die LeierskapINDABA en sosiale laboratoriums in jurisdiksies soos die Hessequa Munisipaliteit, die Saldanha Munisipaliteit en die Groter Tygerberg-vennootskap wat ruimtes vir innoverende bestuur, aksieleer en navorsing voorsien. Verdere laboratoriums kan hierby bygevoeg word. Vennootskappe met hierdie innoverings-ekosisteem word ook met Nasionale en Provinsiale regeringsinstellings sowel as met die privaat sektor nagestreef.

Ten slotte is dit relevant om aan die volgende wyse woorde van Hotomannus, (1524 – 1590) herinner te word:

"Sine historia caecam esse iurisprudentiam." Vryelik vertaal beteken dit,  sonder geskiedenis, is regspraak blind.

Hierdie woorde is ook op die akademie van toepassing!