pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​DepartEment VISUELE KUNSTE

Die nagraadse aanbod van die Departement Visuele Kunste word wyd erken as ’n prestigeryke en bevorderlike omgewing vir intellektuele gesprek en gedagtewisseling.

Ons nagraadse studentekorps werk saam as ’n kohort, ruil idees uit by weeklikse werksessies, en volg ’n selfevalueringsmodel. Die gees van ons nagraadse programme is intellektueel vrygewig, dog akademies streng.


SPESIALISERINGSGEBIEDE SLUIT DIE VOLGENDE IN - 

​VISUELE KUNSTE

Illustrasie is een van die veelsydigste kunsvorme in kontemporêre visuele kultuur. Dit steek die grense tussen skone kuns, teken, grafiese kuns en ontwerp oor, wat dit by uitstek ’n hibridiese kunsvorm maak. Illustrasie word dikwels met die uitgewersbedryf, politieke satire, inligtingsontwerp en die reklamesektor verbind, en sluit ’n wye verskeidenheid tegnieke en mediaformate in. As ’n dissipline, ondergaan illustrasie ook tans ’n reuseverskuiwing in sowel beroepsposisionering as intellektuele relevansie. Die ontwikkeling van digitale tegnologieë en nuwe media gaan voort om die grense van die genre te verskuif en moontlikhede vir nuwe, eklektiese illustrasiepraktyke te skep.

Die Universiteit Stellenbosch se BA-honneursprogram in Visuele Kunste (Illustrasie) verken uitgebreide begrippe van illustrasiepraktyk wat kontemporêre visuele kultuur, akademiese kontekste én die huidige bedryf in ag neem. Studente in dié jaar lange program word aangemoedig om die illustreerder se plek in kommersiële, sosiale, politieke en kulturele kontekste te bevraagteken, en terselfdertyd die onderliggende kernwaardes van illustrasiepraktyk te handhaaf en te ontwikkel. Die program, wat die gereedskap, bedoeling, konteks en rol van illustrasie voortdurend hersien, uitbrei en ontwrig, volg ’n innoverende, eksperimentele en kritiese benadering tot algemene illustrasiepraktyk.

Juis omdat illustrasie so ’n lang geskiedenis in die wetenskap, kultuur en samelewing het, ondersteun die BA-honneurs in Visuele Kunste (Illustrsie) ’n inter- en kruisdissiplinêre benadering deur die modules hieronder:

  • Teken vir illustrasie
  • Wetenskaplike illustrasie
  • Konseptuele illustrasie
  • Verhalende illustrasie
  • Teorie van illustrasie
  • Navorsingsprojek (praktyk en teorie)​

Voornemende studente moet voordat aansoeke sluit ’n elektroniese kunsportefeulje in pdf-vorm by Marthie Kaden indien.​​
​​
Die Magister in Visuele Kunste (oftewel MAVA) bied ’n geleentheid vir gespesialiseerde nagraadse navorsing oor ateljeeproduksie op die wyer gebied van visuele kommunikasieontwerp, illustrasie, juweliersontwerp en skone kuns. Die program ontwikkel die student se spesifieke belangstellings, vaardighede en idees. Studente moet onafhanklike praktiese en teoretiese navorsing van ’n gevorderde en diepgaande standaard onderneem wat ’n bewustheid van die kontemporêre Suid-Afrikaanse konteks weerspieël.

Navorsing in die MAVA-program volg ’n praktykgebaseerde metodologie. Praktyk en teorie is dus onderling verbind, nie net in die navorsingsproses nie, maar ook in die finnale aanbieding van die navorsingsprojek.

​Die beweegrede vir die Magister in Kunsonderwys is om deur middel van potensiële sowel as gevestigde kunsonderwysers die sterk sosiale mag van kuns in die era van globalisasie en sosiale herstel te ontsluit. Die kursus berus op die oortuiging dat die kreatiewe en kritiese praktyk van onderrig en kunsskepping noodsaaklik is om ’n verbeeldingryke en sosiaal bewuste burgery tot stand te bring.

Doelwitte

  • Om sosiaal bewuste gegradueerdes te skep wat as gekwalifiseerde kunsonderwysers sal kan praktiseer, en om gevestigde opvoeders verder by die transformerende potensiaal van kuns te betrek.​
  • Om sowel in die akademie as in skoolkurrikulums ’n responsiwiteit op die Suid-Afrikaanse en Afrikakonteks te bevorder, en om vennootskappe tussen die Universiteit en sy omgewing (skole en opvoedkundige inisiatiewe) te bou, nie net deur die kurrikulum self nie, maar ook deur die beroepslui wat die graad voltooi het.
  • Om ’n hoë navorsingsuitset op die gebied van kuns en onderwys te ontwikkel en te handhaaf, om die leiding te neem met navorsing oor sosiale transformasie, institusionele verantwoordbaarheid, samewerkende kennisproduksie, estetika en populêre kultuur, en om kruisdissiplinêre akademiese samewerking en ’n akademieskap van betrokkenheid aan te moedig.


Kandidate wat vir die doktorsgradewil inskryf, moet oor ’n MA-graad in Skone Kuns of ’n MA-graad in Visuele Studie beskik (of ’n aanvaarbare gelykstaande kwalifikasie wat die Senaat as voldoende vir toelating tot die program beskou) wat bewys lewer van die vermoë om gevorderde onafhanklike navorsing te onderneem.

Besonderhede oor die keuringsproses vir die doktorale program kan van die Departement aangevra word.


Programstruktuur

Doktorsgrade ​in die kunste is navorsingsgrade wat op ’n proefskrif uitloop. Die studie kan hetsy uitsluitlik uit teoretiese werk bestaan, of kan ’n geïntegreerde studie wees van kreatiewe prosesse én teoretiese werk wat in die proefskrif beskryf word. Die geïntegreerde opsie is uniek as gevolg van die samehang en interafhanklikheid van die studie van die kreatiewe proses en teoretiese dimensies van die navorsing, en lei tot ’n oorspronklike bydrae tot kennis en insig in die kunste.

Studente moet gereeld hulle navorsing vir kommentaar voorlê. Daar kan van tyd tot tyd van studente verwag word om referate oor hulle navorsing vir informele bespreking by seminare aan te bied.

VISUELE STUDIE

Visuele Studie bied ’n omvattende nagraadse aanbod tot op doktorale vlak aan.

Die intensiewe jaar lange honneursprogram word as een van die bestes in die land beskou, en bring deskundige kunsjoernaliste, mediateoretici, teoretici oor visuele kultuurstudie en kurators byeen. Ons lok studente wat belang stel in ’n loopbaan in die kunssektor, hetsy as uitgewers, kurators, kunskritici, joernaliste of mediakenners.

As deel van die jaarlikse program, dek ons kurrikulum die volgende temas:

  • Die filosofiese oorweging van fotografie en die gender-etiek van selfvoorstelling
  • Subjektiwiteit
  • Kunskritiek
  • Kuratorskap

Die kursuswerk draai om interaktiewe seminare en leesgroepe, maar behels ook galerybesoeke en praktiese projekte wat bedoel is om kuratorsvaardighede te ontwikkel. Die doel is om ’n dinamiese en lewendige omgewing te bied vir die skep van nuwe idees en begrippe. Ons wil graag denkers oplewer wie se idees plaaslik relevant is, maar terselfdertyd by die intellektuele tradisies van die res van die wêreld aansluit.​

Daar word algemeen aanvaar dat visuele kommunikasie ’n al hoe belangriker rol in ons snelbewegende, geglobaliseerde wêreld vervul. Die Magister in Visuele Studie rus studente toe om visuele verskynsels uit verskeie omgewings, waaronder populêre kultuur, media, film, die musiekbedryf en die skone kunste, te vertolk en te verstaan. As ’n inherent interdissiplinêre vakgebied, sluit Visuele Studie ’n wye verskeidenheid kritiese teorieë van ’n aantal gebiede in, waaronder feminisme, postkoloniale studie, kritiese studies oor ras en witwees, psigoanalitiese teorie, museumkunde en filosofie. Sodoende leer studente om visuele beelde, voorwerpe, instellings en praktyke krities te beskryf en te bespreek.

Doelwitte:

  • Om gegradueerdes op te lewer wat ’n aantal teoretiese instrumente op ’n wye verskeidenheid visuele verskynsels kan toepas.
  • Om ’n begrip van die unieke sensitiwiteite ten opsigte van visuele voorstelling in Suid-Afrika se postkoloniale konteks by studente in te skerp, en hulle te leer om ’n verantwoordelike en selfbesinnende benadering tot hulle navorsing en akademiese ondersoek te volg.
  • Om gegradueerdes op te lewer wat in ’n verskeidenheid omgewings sal kan werk, waaronder die akademie, museums, galerye, die onderwys en joernalistiek.


NAGRAADSE KWALIFIKASIES​​​​​​
​​  MAGISTERGRADE​
Aansoekproses