pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement of Sosiologie en sosiale antropologie

Die Departement het ’n voortreflike reputasie as ’n sentrum van kundigheid in die onderrig van sosiale teorie en navorsingsmetodologie op en oor die gebiede van sosiologie en sosiale antropologie, en op uitgesoekte sosiale navorsingsgebiede wat op sosio-ekonomiese, politieke, kulturele, mediese, ontwikkelings- en omgewingstemas konsentreer. (Vir besonderhede, raadpleeg ons departementele webtuiste.)

In ons navorsing en onderrig ontwikkel ons insig in die veranderinge en kontinuïteite van die tydperk ná apartheid, en oorweeg ons terselfdertyd die verskeie transformasies wat ons streek en vasteland in ’n globaliserende wêreld beïnvloed. Ons weeklikse seminaarreeks sluit bekende plaaslike en internasionale akademici in wat deel uitmaak van ons wye intellektuele netwerke.

Ons personeel sluit vyf NNS-gegradeerde navorsers in, en ons het ’n uitruilooreenkoms met Martin Luther-universiteit (Halle, Duitsland) sowel as informele bande met etlike ander universiteite en navorsingsinstitute. Nagraadse studente kry die geleentheid om uitgebreide veldwerk onder studieleiding te onderneem en aan seminare, konferensies en uitruilgeleenthede deel te neem.


SPESIALISERINGSGEBIEDE SLUIT DIE VOLGENDE IN - 

​Sosiaalwetenskaplike metodes

Die jaar lange, klasgebaseerde nagraadse diploma is afgestem op studente wat graag sosiale navorsers wil word. Dit rus studente toe om te werk as navorsingspesialiste, sosialenavorsingskonsultante en ontwikkelingsbeplanners in die plaaslik​e en nasionale regeringsektor, by nieregeringsorganisasies wat met sosiale navorsing gemoeid is, en as beleidsontleders en -raadgewers.

Die program bestaan uit agt blokmodules van een week elk. Dit handel oor die metodologie van sosiaalwetenskaplike navorsing en aspekte van wetenskapfilosofie, navorsingsetiek en navorsingsbestuur.

Die MA-program bestaan uit ’n tesis oor ’n onderwerp met ’n sterk metodologiese komponent en duur een jaar. Dit volg gewoonlik ná die Nagraadse Diploma in Sosiaalwetenskaplike Metodes, maar studente met ’n gelykstaande kwalifikasie op NKR-vlak 7 kan ook aansoek doen. Die kursus handel oor die metodologie van sosiaalwetenskaplike navorsing en aspekte van wetenskapfilosofie, navorsingsetiek en navorsingsbestuur.

Die doktorale program ebehels ’n proefskrif en handel oor aspekte van sosiaalwetenskaplike metodologie, waaronder navorsingsontwerpe en metodologiese paradigmas, steekproefmetodes, en dataversameling en -ontleding.​

SOSIALE ANTROPOLOGIE​

Die HonsBA (Sosiale Antropologie) is ’n jaar lange, lesinggebaseerde, streng residensiële program wat ook ’n navorsingsopdrag vereis. Studente doen teoretiese insig op in sosiale verskynsels soos strukture, instellings en verhoudings, ontwikkel belangrike sosiaalwetenskaplike navorsingsvaardighede, en ondersoek kernkwessies in die Suid-Afrikaanse samelewing uit ’n vergelykende oogpunt.​

Die MA-program bestaan uit ’n tesis oor ’n goedgekeurde onderwerp, en deelname aan ’n reeks navorsingsteunseminare in die eerste semester. Die program behels die toepassing van teoretiese en metodologiese begrip sowel as tersaaklike navorsingsvaardighede op ’n spesialiseringsgebied.

Die doktorale program behels ’n proefskrif wat ’n deeglike begrip van sowel teoretiese as metodologiese kwessies in die sosiale antropologie toon. Dit ontwikkel studente se vermoë om krities en innoverend te dink terwyl hulle nuwe kennis op die gekose navorsingsgebied skep.

Sosiologie

Die HonsBA in Sosiologie is ’n jaar lange, lesinggebaseerde, streng residensiële program wat ook ’n navorsingsopdrag vereis. Studente doen teoretiese insig op in sosiale verskynsels soos strukture, instellings en verhoudings, ontwikkel belangrike sosiaalwetenskaplike navorsingsvaardighede, en ondersoek kernkwessies in die Suid-Afrikaanse samelewing uit ’n vergelykende oogpunt.

Die MA (Sosiologie)-program bestaan uit ’n tesis oor ’n goedgekeurde onderwerp, en deelname aan ’n reeks navorsingsteunseminare in die eerste semester. Die program behels die toepassing van teoretiese en metodologiese begrip sowel as tersaaklike navorsingsvaardighede op ’n spesialiseringsgebied.

Die program MA (Openbare Sosiologie en Antropologie) handel oor die verwerwing en uitbreiding van kennis op ’n bepaalde terrein van Sosiologie of Sosiale Antropologie. Die doel is om jou kritiese denkvaardighede oor sosiale kwessies ten opsigte van transformasie in (Suid-)Afrika te ontwikkel en jou die geleentheid te bied om jou nuwe kennis en vaardighede krities op samelewingsprobleme toe te pas. Dit sluit ’n toegepaste praktykkomponent in. 

Die doktorale program behels ’n proefskrif wat ’n deeglike begrip van sowel teoretiese as metodologiese kwessies in die sosiologie toon. Dit ontwikkel studente se vermoë om krities en innoverend te dink terwyl hulle nuwe kennis op die gekose navorsingsgebied skep.

TRANSDISSIPLINÊRE GESONDHEIDS- EN ONTWIKKELINGSTUDIE

Die nuwe Nagraadse Diploma in Transdissiplinêre Gesondheids- en Ontwikkelingstudie wil ’n ruimte skep vir ’n diverse groep studente om die vereiste teoretiese en metodologiese vaardighede aan te leer om die sosiale en politieke kompleksiteite van gesondheid en ontwikkeling in Afrika die hoof te bied. Die nagraadse diploma lê ’n sterk konseptuele grondslag vir teoreties en metodologies gegronde ondersoeke van toegepaste gesondheids- en ontwikkelingskwessies, en berei studente voor vir professionele werk of verdere akademiese studie.

Let wel: Hierdie program word nie noodwendig elke jaar aangebied nie.​

Die nuwe diplomaprogram vereis ten minste een jaar se studie. Na gelang van hulle opleiding, kan studente dan vir een van twee MPhil opsies inskryf. Die eerste opsie (879) vereis die skryf van ’n tesis wat die resultate van onafhanklike navorsing oor ’n navorsingsprobleem bevat. Alle kandidate voltooi bykomende kursuswerk wat hulle ’n navorsingsvoorstel sal help opstel. Sodra die programkomitee die voorstel goedgekeur het, begin studente met hulle navorsing, ontleding en skryfwerk. Die tweede opsie (899) behels die voltooiing van vier modules en ’n navorsingsopdrag.

Die MPhil in Transdissiplinêre Gesondheids- en Ontwikkelingstudiee word gesamentlik deur die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie en die Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe (Afdeling Gemeenskapsgesondheid) in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aangebied. Dit bied ’n innoverende benadering tot die sosiale studie van gesondheids- en ontwikkelingsuitdagings. Studente kry die geleentheid om ’n stel oorvleuelende kwessies te verken wat met sowel sosiale as gesondheids- en ontwikkelingstudie verband hou. Die MPhil lê ’n konseptuele grondslag vir teoreties en metodologies gegronde ondersoeke van toegepaste gesondheids- en ontwikkelingskwessies, en berei studente voor vir professionele werk of verdere akademiese studie.


NAGRAADSE KWALIFIKASIES 
 NAGRAADSE DIPLOMAS
  • NGDip (Sosialewetenskaplike Metodes​)
  • NGDip (Transdissiplinêre Gesondheids- en Ontwikkelingstudie)​
 HONNEURSGRADE
  • HonsBA​ (Sosiale Antropologie)
  • HonsBA (Sosiologie)
​​  MAGISTERGRADE
  • MA (Openbare Sosiologie en Antropologie)
  • ​MA (Sosiaalwetenskaplike Metodes)​
  • MA (Sosiale Antropologie)​
  • MA (Sosiologie)​
  • MPhil (Transdissiplinêre Gesondheids- en Ontwikkelingstudie)​
 DOKTORALEGRADE
  • PhD (Sosiaalwetenskaplike Metodes)​
  • PhD (Sosiale Antropologie)
  • PhD (Sosiologie)​​​

Aansoekproses