pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Die visie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) is om gesondheid en gelykheid in Suid-Afrika en verder te bevorder. Die Fakulteit se missie is:​

  • om ’n kultuur van transformerende leer te skep en te handhaaf;
  • om by te dra tot die ontdekking, uitruiling en oordrag van kennis wat gesondheid en ontwikkeling sal bevorder; en
  • om deur middel van aktiewe burgerskap ’n positiewe impak op die algemene samelewing te hê.

Die FGGW bied ’n aantal uitnemende akademiese opleidingsprogramme aan, wat onderstut word deur navorsing van die hoogste gehalte sowel as goed geïntegreerde gehalteversekering- en akademiese administratiewe strukture en prosesse. Hierdie programme voorsien in die behoeftes van ’n wye verskeidenheid gesondheidsorgdissiplines.

Die Fakulteit het met dekades se toegewyde en volgehoue werk ’n uitstekende navorsingsreputasie opgebou. Ons blink steeds uit as ’n toonaangewende navorsingsryke omgewing met ’n uitgebreide internasionale samewerkingsnetwerk, benewens nasionale en plaaslike vennootskappe. ’n Navorsingsagenda wat op strategiese navorsingsfokusgebiede berus, verseker dat ons navorsingsaktiwiteite die groot gesondheidsuitdagings van die Afrikavasteland die hoof bied.

ULTRAMODERNE TOERUSTING

Die Fakulteit is ’n leier wat die verkryging van ultramoderne tegnologie en toerusting betref. Dit is die tuiste van die Sunskill-laboratorium, ’n geïntegreerde kliniese opleidingslaboratorium met agt ten volle gesimuleerde operasieteaterstasies, ’n ‘droë’ laboratorium, ’n lesingteater met 100 sitplekke en ’n virtuele intensiewesorgeenheid, wat alles met die heel jongste oudiovisuele tegnologie toegerus is. Boonop toon die Fakulteit sterk volgehoue groei in sy navorsingsuitset, en ’n toename in navorsingsfinansiering en -samewerking.

TROTSE NAVORSINGSTRADISIE

Die jaarlikse navorsingsuitset van die Fakulteit – meer as 300 beoordeelde wetenskaplike artikels in geakkrediteerde vaktydskrifte, en meer as 600 referate, opsommings en plakkate by kongresse en ander wetenskaplike byeenkomste binne en buite Suid-Afrika – getuig van ’n trotse navorsingstradisie. Die FGGW lewer ook jaarliks gemiddeld 80 magister- en meer as 30 doktorale gegradueerdes op.

Klik hier​ vir meer oor ons navorsings- en vermoëbou-inisiatiewe.

​GERIEFLIKE LIGGING

Die Fakulteit is langs die akademiese hospitaal Tygerberg op die Universiteit se Tygerbergkampus geleë. Dit is gerieflik naby openbare vervoerfasiliteite en binne maklike bereik van die Stellenboschkampus (30 minute se ry), die Stellenbosch Bestuurskool (10 minute), Kaapstad (20 minute) en die Kaapstadse internasionale lughawe (10 minute).

’n Wye verskeidenheid opleidingsgeleenthede in alle gesondheidsverwante vakrigtings word op die Tygerbergkampus en die omliggende opleidingsplatform in die Wes-Kaap voorsien.

​​REGISTRASIEPROSEDURE

Alle studente moet formeel vir die akademiese jaar registreer ooreenkomstig die Universiteit se amptelike program vir registrasie in Januarie of Julie. Registrasie in Julie word slegs in spesiale omstandighede toegelaat. Registrasie behels méér as die amptelike optekening van jou persoonlike, biografiese en akademiese besonderhede; dit vereis ook die betaling van die voorgeskrewe registrasiefooi. 

’n Afskrif van die volledige registrasieprogram sowel as inligting oor die gebruikervriendelike webgebaseerde selfregistrasiefasiliteit word aan alle studente gestuur wat die volgende jaar moet herregistreer. Elke student ontvang gedurende die registrasieproses ’n registrasiebewys wat die program en modules vir die jaar bevat. Dit is die student se verantwoordelikheid om na te gaan dat hierdie dokument die onderrigprogram en studiejaar sowel as alle modules vir die jaar korrek weergee. Registrasie kan nie plaasvind in geval van enige uitstaande fooie nie​.​


Aansoekproses