pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​FASILITEITE VIR STUDENTE EN BESOEKERS​

KAMPUSGESONDHEIDSDIENS​

Die Universiteit Stellenbosch voorsien ’n doeltreffende en omvattende gesondheidsdiens aan studente. Die Tygerbergkampusgesondheidsdiens is betreklik privaat geleë op die tweede verdieping van die studentesentrum. Die diens bestaan uit ’n verpleegkundige, dokters en ’n kliniese sielkundige. Verwysings na die Fakulteit se Afdeling Fisioterapie geskied teen vasgestelde tariewe. 

Alle studente het gratis toegang tot die verpleegkundige vir primêre gesondheidsorgdienste. Dít behels hoofsaaklik die diagnose en behandeling van mediese toestande, gesinsbeplanning, inentings, naaldprikbeserings, reisvereistes, en MIV-toetsing en -berading. 

Wanneer dit nodig is, verwys die verpleegkundige pasiënte na die dokter, wat twee uur per dag aan diens is. In so ’n geval word die tariewe van die Raad van Gesondheidsorgfinansiers gehef. Studente sonder die nodige middele word egter nie ontmoedig om van dié diens gebruik te maak nie. 

’n Blitslyn is beskikbaar vir die nauurse nooddiensaanbod van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling. Vir nauurse mediese dienste word studente aangemoedig om die nabygeleë staats- of privaatsektordienste te gebruik. ​


​​REKENAARGEBRUIKERAREA

​​Studente geniet internettoegang in ’n toegewyde rekenaargebruikerarea (GERGA) oorkant die biblioteek. GERGA​ hhet 148 rekenaars, waarvan 121 geleë is in twee meerdoelige laboratorium-/e-klaskamerfasiliteite, 26 in ’n klein e-klaskamer, en die res in ’n klein lokaal wat gespesialiseerde dienste soos CD-/DVD-sny, kleurdrukwerk en skandering voorsien. Alle areas het lugversorging en voltydse kamerabewaking. 

Alle persoonlike rekenaars is toegerus met Windows 7 SP1 en Microsoft-basissagteware. As gevolg van ernstige stabiliteit- en versoenbaarheidskwessies is Office 2007/2010, Windows Vista en Office 2007 nie geïnstalleer nie. Enige gespesialiseerde sagteware wat vereis word, is virtueel te kry, en studente kan dit na vereiste op hulle rekenaars aktiveer. Dít verminder instandhouding van die rekenaars self en spaar die Universiteit heelwat in lisensiegeld en sagtewarebywerkings. 

’n Area met 11 rekenaars op die sesde verdieping van Tygerberghospitaal bied nagraadse studente wat in die hospitaal werk voltydse toegang tot die Universiteitsnetwerk sonder om eers na die Fakulteit toe te moet stap. Die fasiliteite is van ’n hoë gehalte en toeganklik vir persone met fisiese uitdagings. ​


BIBLIOTEEK

Alle geregistreerde studente en personeel het toegang tot die biblioteek. ’n Interbiblioteekstelsel genaamd CALICO (Kaapse Biblioteekkoöperatief) bied boonop daaglikse toegang tot die katalogusse en hulpbronne van ander Wes-Kaapse tersiêre instellings.

Indien studente of personeel tydskrifartikels of boeke nodig het wat nie in die biblioteek se eie fisiese of elektroniese versameling te kry is nie, kan dit ook deur ’n interbiblioteekleningstelsel van ander biblioteke in Suid-Afrika of die buiteland aangevra word.

Die biblioteek bied selfstudie-/leesfasiliteite vir sowat 500 persone. Die personeellede van die Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe-biblioteek voorsien boonop individuele en groepsopleiding aan studente. Opleidingsprogramme word in samewerking met dosente ontwikkel. 

FGGW-studente moet gereeld navorsing doen. Om hulle hiermee by te staan, word gestruktureerde inligtingsopleidingsessies oor doeltreffende literatuursoektogte aangebied. 

Klik hier vir aanlyn toegang tot die biblioteek.


Aansoekproses