pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

nagraadse studies

      navorsingsprofiel


​​​ ​​​​​​​Die Universiteit Stellenbosch (US) is ’n plek van ontdekking en uitnemendheid waar sowel personeel as studente denkleiers is wat tot diens van alle belanghebbendes kennis bevorder. Ons missie is om uitmuntende studente te lok, talentvolle personeel aan te stel en ’n wêreldklasomgewing te bied: ’n plek wat met die wêreld verbind is en gemeenskappe plaaslik, op die vasteland en in die                                          res van die wêreld verryk en transformeer​. 

Daarom is navorsing vir impak een van die ses kern strategiese temas in die US se Strategiese Raamwerk 2019 – 2024. Navorsing vir impak by die US impliseer die optimalisering van die wetenskaplike, ekonomiese, sosiale, vakkundige en kulturele impak van ons navorsing. Die klem val op interdissiplinêre navorsing tot voordeel van die samelewing in nasionale, vastelands- en wêreldverband. Tog bly ons verbind tot basiese en dissiplinêre navorsingsuitnemendheid omdat dit as grondslag vir toegepaste en betekenisvolle navorsing dien.​ 

Ons wil dít bereik deur na uitnemendheid te streef, aan die voorpunt van ons gekose fokusgebiede te bly, erkenning vir ons navorsingsuitsette te ontvang, en ondernemend, innoverend en selfvernuwend te wees. Dít verg ’n sorgvuldige balans tussen kontinuïteit en konsekwentheid aan die een kant, en transformasie en vernuwing van die US se akademiese navorserskohort aan die ander. In ons navorsingswerk streef ons immers nie net na akademiese sukses nie, maar ook na ’n sinvolle impak op die wêreld.

Om te sorg dat ons navorsing relevant en sinvol is, en boonop in die ontwikkelingsbehoeftes van ons streek voorsien, het die US vyf strategiese navorsingsgebiede geïdentifiseer wat ons navorsingsagenda oor die volgende paar jaar sal rig​:

Research for impact.png

​Die navorsingsgebiede stel ons in staat om ons bestaande navorsingsinisiatiewe strategies te groepeer, te ondersteun en uit te brei, met ’n sterk klem op die versterking van transdissiplinêre navorsingsamewerking, samelewingsimpak en volhoubaarheid. Op elk van die navorsingsgebiede bring ons nou nuwe ‘uitstygprojekte’ op die been wat ons navorsingsportefeulje verder sal transformeer

Jongste navorsingsuksesse (April 2022): ​

Volgens die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding het die US vir ses van die afgelope agt jaar die hoogste navorsingsuitset per kop gehad. Ons lewer ook steeds die meeste patentaansoeke in Suid-Afrika op, en oortref nie net ander universiteite nie, maar selfs maatskappye en navorsingsrade (soos die WNNR). Boonop het rekordgetalle magister- en doktorale studente die afgelope ses jaar aan die US gegradueer. Ons spog steeds met die beste behoud- en suksessyfers ten opsigte van nagraadse studente in Suid-Afrika. Daarbenewens handhaaf ons ’n sterk gemeenskap nadoktorale genote van tot 370 per jaar, van wie 44% internasionaal is. Die US het 43 geborgde navorsingsleerstoele, waaronder 25 met die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) as borg.

’n Aantal suksesvolle navorsingsentiteite is ook tot stand gebring om op ons sterkpunte voort te bou. Dít sluit in ’n DWI Sentrum van Uitnemendheid in Scientometrie, die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, die Skool vir Klimaatstudie, die Sentrum vir Epidemiereaksie en -innovasie, en die Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ). Ons getal navorsers met ’n gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) het van 313 in 2013 tot 484 in 2022 aangegroei, wat toon hoeveel ons kundigheidsbasis die afgelope ses jaar verdiep het. Wat internasionale ranglyste betref, bly die US onder die voorste drie universiteite in Suid-Afrika.

Die US het sy plek as een van Afrika se beste universiteite op die vakspesifieke QS-wêrelduniversiteitsranglys vir 2022 behou. Vir Lewenswetenskappe en Geneeskunde het ons van 269ste tot 265ste plek opgeskuif, en ons is amptelik die beste Suid-Afrikaanse instelling vir studie in Landbou en Bosbou (76ste ter wêreld) sowel as Teologie, Godgeleerdheid en Godsdiensstudie (onder die voorste 100 wêreldwyd). Ons is ook steeds onder die beste 350 ter wêreld vir studie in die Lettere en Geesteswetenskappe, die beste 400 vir Sosiale Wetenskappe en Bestuur, en die beste 500 vir Natuurwetenskappe​.​

KONTAKBESONDER-HEDE