Departement moderne vreemde tale
Die Departement Moderne Vreemde Tale van die Universiteit Stellenbosch is een van die grootste residensiële universiteitsdepartemente vir vreemdetaalleer in Suid-Afrika. Ons het opwindende en uiteenlopende nagraadse programme in Chinees, Frans en Duits, en alle programme bied moontlikhede om tyd oorsee deur te bring.
Ons glo die grense van ons wêreld word slegs bepaal deur die grense van ons taal, en dat die studie van letterkunde as ’n rigsnoer kan dien om ons horisonne te verbreed en sin aan ons al hoe komplekser lewens te gee.
Van ons nagraadse programme, soos die Nagraadse Diploma en MA in Tegnologie vir Taalaanleer, die Honneurs in Chinees en die dubbele MA in Duits saam met die Universiteit van Leipzig, is eie aan ons departement. Die PhD in Vergelykende Letterkunde word deur ’n aantal taaldepartemente aangebied, hetsy op hulle eie of in samewerking met mekaar. Ook dít is ’n unieke aanbod van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.
SPESIALISERINGSGEBIEDE SLUIT DIE VOLGENDE IN -
Chinees
Die HonsBA is ’n jaar lange program wat in Chinees aangebied word, en wat bedoel is om studente se kennis van die Chinese taal en kultuur te verdiep. Om dít te bereik, moet studente een semester by die Renmin-universiteit in Beijing, China, deurbring. Die Chinese regering stel ook beurse beskikbaar vir verdere studie in China.
DUITS
Die
voltydse, jaar lange HonsBA-program wat in Duits aangebied word, stel studente in staat om onafhanklike navorsing te onderneem, oor teoretiese kwessies te besin, en tekste in interdissiplinêre en transkulturele verband te ontleed en te evalueer. Onderwerpe sluit in Afrika in Duitse letterkuunde, temas in kontemporêre Duitse letterkunde, sowel as taal, die samelewing en kultuur. DAAD stel beurse beskikbaar.
Die
jaar lange MA-program (navorsing) behels die skryf van 'n tesis in Duits oor 'n onderwerp wat die student in noue oorleg me die Departement kies. Studente bly in aanraking met die studieleier deur middel van gereelde vergaderings of e-pos. Die tesis maak 100% van die prestasiepunt uit. Beurse is beskikbaar vir een semester se voorbereidingsnavorsing by ’n oorsese universiteit (Leipzig, Hamburg, Tübingen).
Die dubbele MA (kursuswerk en navorsing) saam met die Universiteit van Leipzig in Duitsland vereis dat studente twee semesters in Leipzig deurbring, waar hulle twee modules kursuswerk per semester en ’n Praktikum (internship) van hulle keuse sal voltooi. Daarna keer hulle terug na Stellenbosch om ’n tesis te voltooi, wat 50% tot die prestasiepunt bydra. Albei universiteite bied studieleiding en eksamineer die tesis. Studente sal ’n graad van albei universiteite ontvang. Beurse is beskikbaar.
Die doktorale program verg ten minste twee jaar se navorsing, wat uitloop op ’n proefskrif (met ’n mondelinge verdediging). Die student kies ’n navorsingsonderwerp in noue oorleg met die Departement en dien ’n navorsingsvoorstel in soos wat die Fakulteit vereis. DAAD stel beurse beskikbaar.
Frans
Die jaar lange HonsBA-kursuswerkprogram word in Frans aangebied, en is bedoel om studente se kennis van Franse letterkunde uit te brei en te verdiep en die aanleer van tersaaklike navorsingsmetodologie te bevorder. Temas sluit in mite en moderniteit, letterkunde en die samelewing, gender en filmstudie. ’n Inleidende module in vertaling rus studente toe om Frans as ’n professionele instrument te gebruik, terwyl gereelde seminare ’n verskeidenheid vaardighede ontwikkel, waaronder styl- en klankleer. Die Franse regering stel beurse beskikbaar vir verdere studie en/of opleiding in Frankryk.
Die jaar lange
MA-program behels die skryf van ’n tesis in Frans oor ’n onderwerp wat die student in noue oorleg met die Departement kies. Studente bly in aanraking met die studieleier deur middel van gereelde vergaderings of e-pos.
Die doktorale program vereis ten minste twee jaar se navorsing, wat uitloop op ’n proefskrif (met ’n mondelinge verdediging). Die student kies ’n navorsingsonderwerp in noue oorleg met die Departement en dien ’n navorsingsvoorstel in wat aan die Fakulteit se vereistes voldoen.
Tegnologie vir Taalaanleer
Die jaar lange
nagraadse diploma behels die studie en ondersoek van tegnologiegesteunde taalpedagogieë wat tot ’n algemene dog kritiese insig in hierdie vakgebied lei. Die program stel studente bekend aan relevante konsepte, beginsels en praktyke van taalleer en -onderrig, sowel as die praktiese toepassing van verskeie tegnologieë vir taalleer. Programmateriaal is aanlyn te kry en die program word in Engels aangebied.
Vir die
MA-program onderneem studente onafhanklike navorsing oor hetsy ’n teoretiese of toegepaste onderwerp op die gebied van tegnologiegebruik vir taalleer en -onderrig. Die eindproduk is ’n tesis, wat tegnologiegegronde taalleermateriaal kan insluit wat spesifiek vir die navorsingsprojek ontwikkel is.
Let wel: Hierdie programme word nie in 2022 aangebied nie.
VERGELYKENDE LETTERKUNDE
Die doctorale program bestaan uit ’n onafhanklike proefskrif op die multidissiplinêre gebied van vergelykende letterkunde in samewerking met die departemente Afrikaans en Nederlands, Antieke Studie, Afrikatale en Engels. Studente besluit op ’n navorsingsonderwerp in oorleg met die departement waarin studieleiding hoofsaaklik sal plaasvind. Bronne word in die taal van oorspronklike uitgawe bestudeer en die proefskrif word in Afrikaans of Engels geskryf.
NAGRAADSE KWALIFIKASIES
NAGRAADSE DIPLOMAS
MAGISTERGRADE