pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe heg groot waarde aan navorsing en nagraadse onderrig as deel van sy akademiese missie. Daarom verbaas dit nie dat ’n derde van ons studente jaarliks op nagraadse vlak aan ons wyd uiteenlopende programaanbod deelneem nie. Ons sorg ook dat ons nagraadse programaanbod by ons departemente en personeel se navorsingsfokusgebiede aansluit, en ons studente se navorsing lei dikwels tot nasionale en internasionale akademiese publikasies. Akademies verdienstelike studente in finansiële nood ontvang finansiële bystand waar dit ook al moontlik is.

Die agtien departemente van die Fakulteit bied dissiplinespesifieke én interdissiplinêre programme op drie hooffokusgebiede aan, naamlik Taal en Kultuur, Sosiale Wetenskappe, en die Uitvoerende Kunste. Met die aanbieding van so ’n uiteenlopende dog sorgvuldig beplande stel programme wil ons graag gegradueerdes oplewer wat kundig is en krities kan dink, en beroepslui wat by uitstek daartoe in staat is om in die 21ste eeu tot die kulturele verryking en kennisvereistes van Suid-Afrika en Afrika se gemeenskappe by te dra. 

​Om seker te maak dat ons studente onderrig van gehalte ontvang, vul ons span gekwalifiseerde studieleiers en dosente konvensionele kontakonderrig met rekenaartegnologie aan. Soos wat die Universiteit se strategiese beleid bepaal, gebruik die Fakulteit meestal Engels as nagraadse onderrigtaal.

Wat geografiese oorsprong betref, het ons studentekorps ’n sterk nasionale en internasionale profiel, en is hulle demografies ’n goeie weerspieëling van die land se studentepopulasie. 

Maak gerus gebruik van die kontakbesonderhede hieronder om verdere inligting oor ons programme aan te vra.​​

​ ​Programaanbod​ ​& Gepaardgaande Sluitingsdatums

Aansoekproses