pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement Politieke Wetenskap

Die Departement Politieke Wetenskap is ’n dinamiese, navorsingsgedrewe eenheid wat op die politieke uitdagings van Suid-Afrika en die wyer Afrikavasteland in ’n globaliserende wêreld konsentreer. Deur omvattende navorsingsprogramme het die Departement aansienlike kundigheid in internasionale, Afrika- en binnelandse politiek opgebou. Knellende kwessies soos armoede, ontwikkeling, globalisasie en ongelykheid word op voor- en nagraadse vlak bestudeer. Die Departement bied hoëvlak- teoretiese en analitiese opleiding op ’n verskeidenheid subterreine van die Politieke Wetenskap, met ’n bepaalde klem op politieke risiko-ontleding, openbare beleidsontleding, navorsing oor politieke gedrag en opnames, buitelandse beleidsontleding, wêreldbestuur, en die studie van konflik en vrede in Afrika. Deskundiges uit die bedryf én van internasionale universiteite word dikwels by die aanbieding van modules betrek.

Van die modules in die programme hieronder kan as deel van ’n internasionale uitruilgeleentheid by ander universiteite gevolg word.


SPESIALISERINGSGEBIEDE SLUIT DIE VOLGENDE IN ​-  

​internasionale Studie

Die HonsBA-program word voltyds aangebied en bestaan uit klasmodules en ’n navorsingsopdrag. Studente onderneem ’n intensiewe studie van ’n aantal uitgesoekte fokusgebiede op die terrein van internasionale studie. Die volgende modules word aangebied:

  • Navorsingsmetodologie
  • Die teorie van internasionale betrekkinge
  • Suider-Afrikaanse politieke ekonomie
  • Globale politieke ekonomie
  • Die politieke ekonomie van ontwikkeling
  • Gender en internasionale betrekkinge
  • Navorsingsopdrag

Die doel van die program is om ontleders op te lewer met ’n diepgaande begrip van Suid-Afrika se uitdagings teen die agtergrond van die hedendaagse wêreldorde.

Die MA-program word voltyds aangebied en bestaan uit klasmodules en ’n tesis. Studente onderneem ’n gevorderde studie van ’n aantal fokusgebiede op die terrein van internasionale studie. Die volgende kursuswerkmodules word aangebied:

  • Buitelandse beleidsontleding
  • Konflik in Afrika
  • Politieke risiko-ontleding
  • Tesis

Die program is afgestem op besluitnemers in die openbare en privaat sektor wat moet funksioneer en strategieë ontwikkel in ’n wêreld wat onderworpe is aan die dinamiek van politieke, ekonomiese en tegnologiese globalisasie.​

politieke wetenskap

Die HonsBA-program word voltyds op ’n residensiële grondslag aangebied en bestaan uit klasmodules en ’n navorsingsopdrag. Studente onderneem ’n intensiewe studie van ’n aantal uitgesoekte onderwerpe op die terrein van politieke wetenskap. Die volgende kursuswerkmodules word aangebied:

  • Navorsingsmetodologie
  • Statistiese pakket vir sosiaalwetenskaplikes
  • Hedendaagse Suid-Afrikaanse politiek
  • Politieke gedrag
  • Die politieke ekonomie van ontwikkeling
  • Suider-Afrikaanse politieke ekonomie
  • Navorsingsopdrag

Die doel van die program is om politieke ontleders op te lewer met ’n diepgaande begrip van die politieke prosesse en gedrag in Suid-Afrika vergeleke met ander lande.

Die MA-program word voltyds aangebied en bestaan uit klasmodules en ’n tesis. Die doel is om ontleders op te lewer met ’n gevorderde begrip van beleids- en politieke risiko-ontleding. Studente onderneem ’n gevorderde studie van ’n aantal onderwerpe op die terrein van politieke wetenskap. Die volgende kursuswerkmodules word aangebied:

  • Beleidsontleding
  • Politieke risiko-ontleding
  • Vrede- en konflikstudie
  • Tesis

Die doktorale program bestaan uit navorsing wat op die skryf van ’n proefskrif uitloop.


NAGRAADSE KWALIFIKASIES​​​​ 
​​  MAGISTERGRADE  DOKTORALEGRADE
Aansoekproses