pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​NAVORSINGSALLIANSIE VIR RAMP- EN RISIKOVERMINDERING (RADAR)

Die Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering (RADAR) ​is ’n navorsings- en dienssentrum in die US se Departement Geografie en Omgewingstudie.  

RADAR is daartoe verbind om vermoë op ramprisikogebied te bou deur akademiese programme en kortkursusse aan te bied en navorsing en kennisuitbreiding oor gevare, kwesbaarhede en risiko’s in die Wes-Kaapstreek, Suid-Afrika en Afrika in die algemeen te onderneem..

​RADAR is ’n lid van die konsortium Periperi U ("Partners Enhancing Resilience for People Exposed to Risks"), ’n vennootskap van navorsingseenhede en departemente van 12 Afrika-universiteite wat saamwerk om navorsing en vermoëbou vir risiko- en kwesbaarheidsvermindering op die vasteland te bevorder.

RADAR se doelwitte is om:

  • akademiese en professionele ramprisikoverwante programme en modules aan te bied;
  • navorsing te doen en te publiseer wat die begrip en bestuur van ramprisiko’s verbeter;
  • • ramprisikobewustheid deur opleiding, beleidsvoorspraak en strategiese skakeling op die vasteland te bevorder; en
  • vennootskappe te skep en netwerke te bou met tersaaklike rolspelers op die gebied van ramp- en risikovermindering.​​

Die kruisdissiplinêre, jaar lange diplomaprogram wil studente toerus met ’n geïntegreerde begrip van ramprisiko en die implikasies wat dit vir volhoubare ontwikkeling in Afrika inhou, met ’n sterk klem op Suid-Afrika, dog nie uitsluitlik nie. Die program beklemtoon die wisselwerking tussen sosiale en fisiese risikoproduksieprosesse en bou studente se vermoë om omvattende risikoverminderingsmaatreëls te beplan en te implementeer. Dit lê ’n grondslag vir verskeie loopbane, waaronder in onderrig, navorsing en praktyk.

Die kursus dien ook as ’n oorbruggingsprogram vir studente wat vir RADAR se MPhil in Ramprisikowetenskap en -ontwikkeling wil inskryf, maar nie oor die vereiste nagraadse kwalifikasies beskik nie.​

Nes die diploma, wil die kruisdissiplinêre MPhil-program studente toerus met ’n geïntegreerde begrip van ramprisiko in Suid- en Suider-Afrika, maar beklemtoon dit ook die ontwikkeling van navorsingsvaardighede. Studente maak kennis met die wisselwerking tussen sosiale en fisiese risikoproduksieprosesse en leer die vaardighede aan om ramprisiko te ondersoek, te ontleed en te verstaan.

Fokusgebiede sluit in interdissiplinêre risikobestuursbenaderings, -metodes en -instrumente en die gebruik van die geografiese inligtingstelsel en afstandswaarneming vir risikovermindering. Die kursus lê ook ’n grondslag vir verskeie loopbane, waaronder in onderrig, navorsing en praktyk.


NAGRAADSE KWALIFIKASIES​​​
​​  MAGISTERGRADE
Aansoekproses