pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement ALGEMENE TAALWETENSKAP​​

Die Departement bied verskeie nagraadse programme in Algemene Taalwetenskap, Tweedetaalstudie en Interkulturele Kommunikasie aan. Die programme kan deur voltydse studente sowel as werkende mense gevolg word. Studente hoef nie op Stellenbosch te woon nie. Buiten die PhD, duur ál die programme ’n minimum van een jaar.

Die minimum formele kwalifikasie vir toelating tot enige van die MA-programme is ’n honneursgraad of nagraadse diploma in Algemene of Toegepaste Taalwetenskap, of ’n honneursgraad of nagraadse diploma in ’n taal, ’n taalverwante dissipline of spraakterapie (logopedie), of ’n ander nagraadse kwalifikasie wat die Senaat as gelykstaande beskou.


SPESIALISERINGSGEBIEDE SLUIT DIE VOLGENDE IN - 

Algemene Taalwetenskap

Die programme HonsBA en MA​​ bied taalonderwysers, dosente en ander opvoeders, spraak-taalterapeute, vertalers, tolke, taaladviseurs, redakteurs en ander mediaspesialiste ’n geleentheid om intellektueel én professioneel baat te vind by die wetenskaplike studie van taal en taalverwante verskynsels. Studente kan uit ’n aantal spesialiseringsgebiede kies, waaronder:
  • die struktuur van taal;
  • die gebruik van taal;
  • kritiese diskoersontleding;
  • sosiolinguistiek;
  • interkulturele kommunikasie;
  • tweedetaalverwerwing;
  • taalverwerwing en -aantasting by kinders; en
  • gebaretaallinguistiek.

Albei programme bevat ’n verpligte navorsingskomponent: ’n navorsingsopdrag in die geval van honneurs, en ’n vollengte-tesis in die geval van die MA​. Die programme kan in Engels of Afrikaans gevolg word. Studente in die honneursprogram moet gereelde lesings en seminare op Stellenboschkampus bywoon.

Die PhD bestaan uit ’n proefskrif op grond van onafhanklike en oorspronklike navorsing binne die raamwerk van een of meer teorieë van die algemene of toegepaste taalwetenskap. ​

Interkulturele Kommunikasie​

Die nagraadse diploma en MA konsentreer spesifiek op die linguistiek . Dié programme is bedoel vir beroepslui wat gereeld oor kultuurgrense heen kommunikeer of verantwoordelik is vir die opleiding en bestuur van ander wat interkultureel kommunikeer, sowel as vir studente en akademici met ’n besondere belangstelling in die verskynsel van interkulturele kommunikasie.

Studente in die MA-program moet ’n vollengte-tesis skryf wat uit onafhanklike navorsing spruit. Die nagraadse diploma bevat nie ’n navorsingskomponent nie. Alle programmateriaal is in Engels. Waar die taalvaardigheid van dosente en studieleiers dit toelaat, kan opdragte en tesisse in hetsy Engels of Afrikaans ingedien word.

Tweedetaalstudie​

Die nagraadse diploma bied ’n algemene linguistiese en psigolinguistiese en/of kruiskulturele perspektief op die eienskappe en verwerwing van tweede tale. Dit bevat nie ’n navorsingskomponent nie.

Die MA konsentreer op sosiolinguistiese en kruiskulturele aspekte van tweede tale en (tweede)taalgebruik. Studente met ’n agtergrond in spraak- en taalterapie kan tussen die kruiskulturele perspektief en ’n module oor taalaantasting by tweedetaalleerders kies. Die program vereis dat die student ’n vollengte-tesis skryf wat uit onafhanklike navorsing spruit. Alle programmateriaal is in Engels. Skriftelike werk kan in hetsy Engels of Afrikaans ingedien word.


NAGRAADSE KWALIFIKASIES 
 NAGRAADSE DIPLOMAS  MAGISTERGRADE
Aansoekproses