pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement maatskaplike werk

TDie Departement Maatskaplike Werk is in 1931 gestig as deel van ’n groter departement wat Sielkunde en Sosiologie ingesluit het. ’n Aparte Departement Maatskaplike Werk is amptelik op 1 Julie 1957 tot stand gebring. Die Departement is deur die jare bekend vir sy voortreflike akademici en alumni, waaronder proff Erika Theron en Narisscia Botha, wat baanbrekernavorsing oor maatskaplike werk onderneem het en ’n kernrol vervul het om maatskaplike werk as ’n beroep in Suid-Afrika te vestig. 

Ons onderrig- en leerfilosofie berus op ons kernwaardes, naamlik uitnemendheid, verantwoordbaarheid en integriteit, menswaardigheid en respek, innovasie en kritikaliteit, en eienaarskap en leierskap. Ons waardes kweek uiteindelik nie net denkleiers nie, maar rus studente ook toe met die kenmerke van betrokke burgers, afgeronde individue en dinamiese beroepslui.

Ons streef daarna om voorpuntnavorsing te onderneem wat ons konsekwent in die voorste plaaslike en internasionale publikasies versprei. Twee van ons personeellede se impakryke navorsing en publikasies is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns erken. Social Work/Maatskap­like Werk, ’n vaktydskrif vir die maatskaplikewerkpraktisyn, word kwartaalliks sedert 1965 deur die Departement uitgegee. Elke permanente personeellid spesialiseer op een of meer van ons ses navorsingsfokusgebiede, naamlik maatskaplike ontwikkeling; kinder- en gesinswelsyn; geestesgesondheid en middelmisbruik; bestuur, toesig en leierskap; onderrig en leer, en kulturele praktyke.

Ons praktykonderrigprogramme is die vlagskip van ons sosiale impak. Sowat 300 studente word jaarliks vir diensleer by ongeveer 40 welsynsorganisasies geplaas.

Die Departement is daartoe verbind om professionele waardes te ontwikkel wat maatskaplike ontwikkeling, menslike ontwikkeling, menseregte, maatskaplike insluiting en die behoeftes en strewes van plaaslike gemeenskappe in ons onderrig, navorsing en sosiale impak bevorder. Daarom wil ons graag ons akademiese kennis en aansienlike praktiese ervaring en insig aan volgende geslagte maatskaplike werkers oordra deur op die nalatenskap van die stigters en alumni van die Departement voort te bou.​

Die MA-navorsingsprogram in Maatskaplike Werk stel studente in staat om onafhanklike navorsing onder leiding van ’n studieleier te onderneem. Die navorsing loop uit op ’n tesis wat 100% van die finale punt uitmaak. Die program duur een of twee jaar, na gelang van die intreepunt. 

Inligting oor die aansoekproses vir die magisterprogram en die vereiste stawende dokumente is ​hier te kry​.

Die doktorale program beoog om studente se gevorderde navorsingskennis en -vaardighede verder uit te brei en hulle toe te rus om onafhanklike navorsing op die gebied van maatskaplikewerkteorie en -praktyk te onderneem.​

Die program duur ten minste twee jaar en bestaan hoofsaaklik uit selfstudie en konsultasies met die studieleier oor die navorsing en die proefskrif, wat 100% van die finale punt uitmaak.

Inligting oor die aansoekproses vir die PhD​ en die vereiste stawende dokumente is ​hier te kry​.


NAGRAADSE KWALIFIKASIES​​​​ 
​​​  MAGISTERGRADE
  • M in Maatskaplike Werk
 DOKTORALEGRADE
  • PhD ​(​Maatskaplike Werk)​​
Aansoekproses