Afrikaans & Dutch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Skrywerswerkswinkels

Die Departement Afrikaans en Nederlands bied sedert 1999 slypskole oor kreatiewe skryfwerk aan vir studente en lede van die publiek. Die doel met ons jaarlikse werkswinkels is om aan aspirantskrywers die geleentheid te bied om hul talente te slyp onder leiding van 'n gevestigde skrywer of 'n kundige uit die skryf- en uitgewersprofessie. Poësie is verreweg die gewildste genre, maar daar word ook op gereelde grondslag werkswinkels in ander genres aangebied: kortverhale (onder meer kontreiverhale en tydskrifverhale); rubrieke en essays; romans; dramas; en kinder- en jeugliteratuur. Daar is ook al werkswinkels vir hoërskoolleerlinge aangebied. Meer as 50 skrywers het reeds by hierdie werkswinkels as aanbieders opgetree, byvoorbeeld die Hertzogpryswenners Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Henning Pieterse, Petra Müller, Deon Opperman en Tertius Kapp.

Ons onderneem nie om binne enkele ure van iemand 'n beroemde skrywer te maak nie. Wat ons wel probeer doen, is om sluimerende talente wakker te maak en om kreatiewe en kritiese denke te help ontwikkel. Daarvoor verskaf ons 'n ruimte vir die bespreking van aspirantskrywers se werk binne groepsverband. Verder word werkswinkelgangers blootgestel aan die skryfwerk van gevestigde skrywers ten einde hul leeservaring te verruim. Slaggate waarin maklik getrap word, word uitgewys. Inligting oor publikasiemoontlikhede en manuskripversorging word verskaf.

Die werkswinkels vind gewoonlik oor naweke (Vrydagmiddag tot Saterdagmiddag; of slegs Saterdag) by die Departement Afrikaans en Nederlands plaas. Die program bestaan uit onder meer praatjies, werksessies en teksbesprekings. Ten einde reg te laat geskied aan die werkswinkelformaat en doeltreffende interaksie te verseker, word getalle beperk. Deelnemers moet voor die tyd ʼn manuskrip instuur (byvoorbeeld drie gedigte of ʼn kortverhaal), wat deur die aanbieders nagegaan word en dan in die werksessies bespreek word.

Omdat die Departement die skrywerswerkswinkels as ʼn diens aan die gemeenskap beskou, word die inskrywingsgeld so laag moontlik gehou. Die inskrywingsgeld sluit die volgende in: aantekeninge (boekies met deelnemers se gedigte/verhale, notas, ens.), tee/koffie en ligte verversings.

 

Geen werkswinkels word vanjaar aangebied nie.