Afrikaans & Dutch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Werkswinkels

Oor ons Skrywerswerkswinkels


Die Departement Afrikaans en Nederlands is van plan om weer die Skrywerswerkswinkels aan te bied – hierdie keer onder die Leerstoel in Kreatiewe Skryfkunde. Kom kyk gou weer hier vir besonderhede.

Die Departement bied ook ’n hele aantal kredietdraende nagraadse kortkursusse in taalpraktyk en Nederlandse taalverwerwing aan.



Ons Skrywerswerkswinkels se geskiedenis

Die Departement Afrikaans en Nederlands bied sedert 1999 slypskole oor kreatiewe skryfwerk aan vir studente en lede van die publiek. Die doel met ons jaarlikse werkswinkels is om aan aspirantskrywers die geleentheid te bied om hul talente te slyp onder leiding van 'n gevestigde skrywer of 'n kundige uit die skryf- en uitgewersprofessie. Poësie is verreweg die gewildste genre, maar daar word ook op gereelde grondslag werkswinkels in ander genres aangebied: kortverhale (onder meer kontreiverhale en tydskrifverhale); rubrieke en essays; romans; dramas; en kinder- en jeugliteratuur. Daar is ook al werkswinkels vir hoërskoolleerlinge aangebied. Meer as 50 skrywers het reeds by hierdie werkswinkels as aanbieders opgetree, byvoorbeeld die Hertzogpryswenners Marlene van Niekerk, Ingrid Winterbach, Henning Pieterse, Petra Müller, Deon Opperman en Tertius Kapp.