Centre for Teaching & Learning
Welkom by Universiteit Stellenbosch

O&L Gidse

​ 

 A Handbook for Teaching and Learning in Higher Education Enhancing academic and Practice.pdf

A Handbook for Teaching and Learning in Higher Education is sensitief vir die kompeterende vereistes van onderrig, navorsing en akademieskap, asook akademiese bestuur.  Met hierdie verskillende kontekste as agtergrond, fokus die boek op die ontwikkeling van professionele akademiese vaardighede vir onderrig.  Hierdie ten volle opgedateerde en uitgebreide uitgawe (teen die agtergrond van die vinnige tempo waarteen tegnologie uitbrei en ontwikkel asook die diverse studente in instellings) sluit nuwe materiaal in, byvoorbeeld oor e-leer, klasgee vir groot groepe, formatiewe en summatiewe assessering, en die begeleiding van navorsingsstudente.  Deel 1 ondersoek onderrig en begeleiding in Hoër Onderwys en fokus op 'n verskeidenheid benaderings en kontekste.  Deel 2 ondersoek onderrig in dissipline-spesifieke areas en sluit nuwe hoofstukke in oor ingenieurswese, ekonomie, regte, en die kreatiewe en uitvoerende kunste.  Deel 3 fokus op die verbetering van praktyk.  Die boek is geskryf om die uitnemendheid in onderrig wat vereis word om leer van die hoogste gehalte te lewer te ondersteun en is dus noodsaaklike leesstof vir all nuwe dosente, veral enige iemand wat 'n geakkrediteerde kursus in onderrig en leer in Hoër Onderwys doen.  Die boek is ook vir ervare dosente wat graag hulle onderrig wil verbeter.  Diegene wat in volwasse leer en die ontwikkeling van onderrig werk sal die boek ook baie waardevol vind.

 

Learning to Teach in Higher Education South Africa.pdf

ʼn Ondersoek na die inwerking van institusionele konteks op die professionele leer van akademici in hulle rol as onderriggewers
ʼn Onderneming waaraan agtien navorsers verbonde aan agt universiteite saamwerk

Die volledige verslag is op die RHO se webblad beskikbaar: http://www.che.ac.za/media_and_publications /higher-education-monitor/higher-education-monitor-14-learning-teach-higher.

VOORWOORD

"Onderrig en leer is nooit neutraal nie. Elke aspek is ideologies van aard: vanaf die toelating van studente tot die bepaling van kurrikuluminhoud, tot die gebruik van sekere soorte leermateriaal, tot die pedagogiese benadering, tot die assesseringsmodus en die gehalte van terugvoer. Die vorm van vakkundige kennis kan wissel vanaf meer subjektief en debatteerbaar tot meer objektief en algemeen aanvaar, maar onderrig en leer bly sterk politieke handelings wat alle instellings, fakulteite en vakrigtings oorspan. Daarom is dit te verwagte dat, wanneer 'n land diepgaande sosiale verandering ondergaan, dit ideologiese eise aan onderrig en leer sal stel" (HE Reviewed, CHE 2016 p. 143; eie vertaling).

Daar is talle en uiteenlopende faktore wat onderrig en leer as politieke daad beïnvloed, vanaf breë sosiale bewegings wat die inhoud wat onderrig word, uitdaag, tot die maniere waarop hulpbronne histories toegedeel is, tot die waardes en oogmerke van verskillende vakrigtings, tot die meer onmiddellike institusionele en fakulteitskonteks waarbinne dit alles plaasvind. Om te leer oor hoe om in die hoër onderwys in Suid-Afrika onderrig te gee, lewer 'n tydige en goed nagevorsde bydrae tot ons begrip van die invloede wat daardie meer onmiddellike vlak – die institusionele konteks – op die professionele leer van akademici in hulle rol as onderriggewers het. Dit ondersoek vrae soos of dit die professionele leerproses beïnvloed as onderrig plaasvind in 'n konteks waar hulpbronne skaars is; of die departementele leierskapstyl outoritêr is; en of verhoogde navorsingsuitset 'n sterk dryfveer by die betrokke instelling is. En, indien dit wel 'n invloed het, watter implikasies het dit vir die fasilitering van geleenthede vir akademici 'om te leer om onderrig te gee' op die vlak van hoër onderwys? 

Hierdie verslag is deur 'n akademiesepersoneel-ontwikkelingspan vanuit agt institusionele kontekste aangepak en bied 'n omvattende, genuanseerde en teoreties begronde stel insigte in die invloed van konteks op die manier waarop akademici leer om onderrig te gee. Sulke insigte kan die ontwikkeling van inisiatiewe vir professionele leer informeer, op die vlak van institusionele sowel as die nasionale politiek. Die verslag is een van die uitkomste van 'n grootskaalse navorsingstudie wat tussen 2011 en 2016 uitgevoer is en deur befondsing vanaf die Nasionale Navorsingstigting moontlik gemaak is. Dit het talle navorsingsartikels, boeke en PhD-navorsing tot gevolg gehad, en het sodoende op sigself 'n instrument geraak wat navorsers en verdere navorsing oor die onderwerp help ontwikkel. Die span het besluit om samewerkend te funksioneer, met al die moontlikhede en moeilikhede wat dit behels, soos in hoofstuk 7 beskryf. Sodoende bied die onderneming ook 'n insiggewende blik op en insig in sulke navorsingsmetodologieë.

Hoewel die verslag nie spesifiek daarop gerig is om iets nuuts of verrassends oor die kulturele en kontekstuele verskille tussen instellings op te lewer nie, bied dit nietemin 'n samehangende vertolking van sulke komplekse en dwarsliggende omstandighede wanneer dit deur 'n enkele teoretiese lens beskou word. Om die waarheid te sê, die begrippe 'struktuur', 'kultuur' en 'bemiddeling' soos die sosiale realis Margaret Archer dit in haar werk ontwikkel het, vorm die teoretiese agtergrond van die navorsing. Die teorie voorsien vir die analitiese onderskeid tussen verskillende domeine met die oog daarop om die wisselwerking tussen verhoudings te begryp, maar dit bied ook die hoop dat sosiale transformasie bewerkstellig kan word deur sekere modi van refleksiwiteit te beoefen. Die verslag haal Archer aan om aan te voer dat dit moontlik is om mense se posisie in die samelewing te transformeer, maar dat sodanige "transformasie deels afhang van die subjektiewe refleksiwiteit van primêre agente wat aktief daaraan wil meewerk om hulpbronverdeling in die samelewing te hervorm" (eie vertaling). Dit was dalk nie altyd vir die navorsers maklik om met 'n enkele teoretiese lens te werk nie, maar hierdie teoreties begronde navorsing bied 'n sinvolle geheelbeeld van die verskille en ooreenkomste tussen die institusionele kontekste aan die agt universiteite. Dit wys ook die onderlinge verskille uit in die invloed op professionele leer, en dui roetes aan waarvolgens onderrig en leer in die Suid-Afrikaanse hoër onderwys verbeter kan word. 

Een van die groot bydraes van hierdie verslag wat die gang van onderrig en leer waarskynlik beduidend gaan beïnvloed, is die konsepsuele verskuiwing vanaf 'professionele ontwikkeling' na 'professionele leer'. Soos 'n eksterne evalueerder opgemerk het: "In die konteks van die dekolonisasiedebat het [hierdie verskuiwing] die potensiaal om 'n buigsamer kontinuum te bied waarop verskillende leergeleenthede geplaas kan word" (eie vertaling). Dit erken ook die belang van groeps- en individuele bemiddeling, en van informele kontekste, vir leer om onderrig te gee. 

Die publikasie van hierdie verslag neem die RHO se voortgesette pogings verder om die gehalte van onderrig en leer in hoër onderwys te verbeter en te bevorder. Dit verryk ook die meer praktiese deurvoering van gehalteversekering in hoër onderwys – iets wat vir die RHO grootliks bestaan het uit ingesteldheid op onderrig en lees, hetsy deur akkreditasie, oudits of die gehalteverbeteringsprojek (Eng. QEP) wat in 2014 geloods is en waarvolgens universiteite versoek is om by vier fokusareas betrokke te raak, onder meer "om akademici as onderriggewers te ontwikkel" (eie vertaling). Deelname aan die QEP het oor die afgelope drie jaar bygedra tot verhoogde bewussyn oor die hele onderwyssektor heen van hoe belangrik dit is dat akademici se vermoëns om universiteitsonderrig te gee, ontwikkel word – veral in die lig van verskerpte klem op studentesukses deur die regering sowel as hoëronderwys-instellings self. Gevolglik is universiteite besig om doelbewuster op te tree om akademici te help om hierdie vaardigheid te ontwikkel. Die tydsberekening van hierdie navorsing is dus goed, nie net omdat dit ons kollektiewe begrip uitbrei van die kompleksiteite en nuanses in die onderlinge verbande tussen struktuur, kultuur en bemiddeling wat akademici in hulle rol as onderriggewers informeer en beïnvloed nie, maar ook omdat dit as nuttige hulpbron dien vir instellings in hulle pogings om onderriggewers en onderrig op universiteitsvlak te verryk. 

Die Hoër Onderwys Monitor-reeks, wat in die eerste uitgawe van 2003 uiteengesit is, "is daarop gemik om navorsing en die voortbrenging van kennis en vertolkingsraamwerke te stimuleer, wat kan bydra tot beter teoretisering oor hoër onderwys, deegliker ontleding van die kompleksiteite van hoër onderrig, en doeltreffender strategieë vir verandering en vordering" (eie vertaling). Ons hoop is dat hierdie verslag presies dit sal verrig. 

Ons bedank die Nasionale Navorsingstigting vir hulle befondsing van die projek, wat die navorsing sowel as die daaropvolgende verslag moontlik gemaak het; prof Brenda vir haar leiersrol in die navorsingspan; ons eksterne evalueerders; en die individuele skrywers vir die tyd wat hulle daaraan bestee het om voorlopige weergawes van hulle hoofstukke aan dr Webbstock van die RHO by 'n werksessie in Mei 2016 voor te lê.

Prof Narend Baijnath, HUB