
Die SoEL kortkursus dra 12 krediete en is op vlak 8 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk. Die kursus word oor 'n tydperk van een jaar in 'n gemengdeleermodus aangebied vir SU leiers in onderrig. Dit behels ten minste vier persoonlike kontaksessies (ongeveer 32 uur), gestruktureerde aanlyn leer deur selfstudie, kleingroepsessies en deur samewerking tussen kohorte en binne-in die kohort (ongeveer 88 uur).
Die doelwitte en uitkomste van die kortkursus is soos volg:
- Om opvoedkundige leiers (soos visedekane vir onderrig en leer, programleiers, departementsvoorsitters, dosente, hoofde en personeel van onderrig-en-leerverwante eenhede of van professionele akademiese steundienste) by vakkundige benaderings tot onderrigleierskapspraktyke te betrek.
- Om opvoedkundige leiers bekend te stel aan literatuur oor die akademieskap van opvoedkundige leierskap én die implikasies wat dit vir hulle eie opvoedkundige leierskapskonteks inhou.
- Om navorsingsvaardighede op die gebied van die akademieskap van onderrigleierskap op deelnemers se eie konteks toe te pas (soos deur literatuur te bestudeer, navorsingsprobleme te omskryf, navorsingsmetodes te ontwerp en resultate te versprei).
- Om bewys te lewer van kritiese besinning oor opvoedkundige leierskap in die vorm van 'n miniportefeulje.
Die kursus is gegrond op twee kennisgebiede, naamlik Akademiese Leierskap (AL) en die Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL). Deur konsepsuele raamwerke op albei hierdie gebiede met mekaar in verband te bring, bemeester deelnemers 'n teoretiese lens waardeur hulle hulle eie praktyke as onderrigleiers krities kan beskou en bevraagteken. Ander ondersteunende raamwerke en praktyke sluit in besinning, veranderingsbestuur en innovasie en kontekstuele bewustheid.

Die kursusinhoud word in vier hooftemas ingedeel:
Die Kontekstualisering van Onderrigleierskap; Navorsing oor Onderrigleierskap,
Kurrikulumleierskap en Pedagogiese leierskap.
Hierdie temas oorvleuel en word deurgaans gelyktydig hanteer.
Aanlyn leer vind in die vorm van 'n gestruktureerde leesprogram plaas waar elke deelnemer literatuur oor die vier temas moet bestudeer. Elkeen se leesstukke word dan in kleiner en groter groepe bespreek. Aanlyn aktiwiteite en werkstukke word ook ingesluit.
Die kursusassessering is sowel formatief as summatief. Die formatiewe assesserings (mylpale aan die einde van elke kwartaal) dien as voorbereiding vir die twee groot summatiewe assesserings, wat aan die einde van die kortkursus ingedien moet word. Die assesseringstake word beoordeel aan die hand van die mate waarin deelnemers:
- tersaaklike vakkundige literatuur benut en integreer om hulle eie onderrigleierskapspraktyke te rig;
- doelbewus oor onderrigleierskapspraktyke en professionele groei nadink met die oog op voortgesette ontwikkeling; en
- nougesette navorsingsontwerp, -metodologie en -ontleding op 'n aspek van hulle eie onderrigleierskapspraktyke toepas.
Die kursus volg 'n makkermodel: Elke deelnemer het 'n sogenaamde “SoEL-mate" uit 'n vorige kohort, wat reeds die kortkursus voltooi het, om ondersteuning te bied.
Vir meer inligting, kontak Dr Nicoline Herman (nherman@sun.ac.za)

Vier van die 2020 SoEL deelnemers gedurende die eerste kontaksessie in Den Bosch op 31 Januarie: (vlnr) Dr Taryn Bernard, Lt Kol Bontle Monnanyane, Me Heidi October, Dr Louise Botha.
Die eerste kohort het die SoEL kursus voltooi en hulle sertifikate ontvang