Centre for Teaching & Learning
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Kriteria vir Beloning, Erkenning en Bevordering van Onderrig

​​

 

 

 

 

DIE UNIVERSITEIT STELLENBOSCH se RIGLYNE vir TOEKENNINGS VIR UITNEMENDE ONDERRIG

 

 

1.       INLEIDING

 

In die verslag van die Taakgroep vir die Bevordering en Erkenning van Onderrig, wat die Senaat in Junie 2015 aanvaar het, is daar aanbeveel dat die Universiteit uitnemende onderrig op institusionele vlak erken. Die voorgestelde instrument vir sodanige erkenning van uitnemende onderrig was “'n aantal toegewyde interne institusionele toekennings wat spesifiek erkenning gee aan onderrigprestasies, met die HELTASA-toekennings as 'n belangrike verwysingspunt". In antwoord op daardie aanbeveling is 'n stelsel van institusionele toekennings vir uitnemende onderrig in 2017 ingestel. Die uitgangspunte sluit die volgende in:

 

    1. 'n Versoek vir benoemings vir die institusionele toekennings vir uitnemendheid in onderrig word jaarliks gedurende die eerste kwartaal of vroeg in die tweede kwartaal onder die akademiese gemeenskap van die Universiteit Stellenbosch (US) versprei, met die oog op oorhandiging van die toekennings teen die einde van die akademiese jaar.
    2. Die getal toekennings per fakulteit word by benadering bepaal op grond van die getal voltyds-ekwivalente permanente en tydelike onderrigpersoneel (met inbegrip van personeellede van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat uit die provinsiale begroting vergoed word). Die getal kandidate wat elke fakulteit vir hierdie toekennings kan aanwys, is dus soos volg:
      1. Krygskunde, Teologie, Regsgeleerdheid en Opvoedkunde: een kandidaat elk
      2. AgriWetenskappe, Ingenieurswese en Natuurwetenskappe: twee kandidate elk
      3. Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe, Lettere & Sosiale Wetenskappe, en Ekonomiese & Bestuurswetenskappe: vier kandidate elk.
    3. Die toekenningsbedrag kan van tyd tot tyd aangepas word na gelang van die beskikbare finansiering, maar word op R25 000 per toekenning vasgestel.
    4. Die toekennings word in die suksesvolle kandidate se salarisrekeninge inbetaal. Belasting word vanselfsprekend afgetrek.
    5. Die toekennings word in twee kategorieë aangebied, naamlik Ontluikende Dosent en Uitgelese Dosent.
    6. Uitnemende onderrig word beoordeel aan die hand van 'n onderrigportefeulje sowel as 'n onderhoud.
    7. Die kriteria vir die beoordeling van uitnemende onderrig strook met die kriteria vir die nasionale HELTASA-toekennings vir uitnemendheid in onderrig en leer.
    8. Fakulteite se keuringsproses behoort teen die einde van die derde kwartaal van die akademiese jaar afgehandel te wees.
    9. 'n Institusionele aankondiging van die suksesvolle kandidate word gedurende die vierde kwartaal gedoen en by 'n plegtigheid teen die einde van daardie kwartaal gevier.


 

2.       DOELWITTE VAN DIE TOEKENNINGS

 

Ingevolge die US se Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) is goeie onderrig die verwagte norm aan die Universiteit: “Goeie onderrig word in enige stadium van hulle loopbane van alle akademici vereis." “Goeie onderrig" “is onderrig wat:

  • doeltreffende, aktiewe leer fasiliteer, d.w.s. leer wat tot hoë studentesuksessyfers[1] lei en (module- en program)uitkomste van 'n hoë standaard lewer, en terselfdertyd
  • 'n bekostigbare vlak van hulpbronne (soos personeeltyd, studentetyd en fisiese infrastruktuur) vereis, ook gedagtig aan die vereistes van navorsing en gemeenskapsinteraksie".

      (Aanbevelings van die Taakgroep oor die Bevordering en Erkenning van Onderrig, 2015:4)

 

Hoewel goeie onderrig oor alle stelsels van die Universiteit heen erken word, word uitnemende onderrig erken, beloon én bevorder (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5). Die omskrywing van uitnemende onderrig in die kriteria vir die nasionale HELTASA-toekennings vir uitnemendheid in onderrig en leer (2018:1) is as 'n riglyn vir hierdie dokument aanvaar en aangepas:

 

'n Uitnemende dosent is bewus van hul konteks (wat verder strek as die onmiddellike omgewing) en dink na oor die maniere waarop hul vakrigting, instelling, eie geskiedenis en studente se lewenservarings onderrig en leer beïnvloed. 'n Uitnemende dosent is 'n nadenkende praktisyn wat oor 'n aantal jare meer doeltreffend geword het wat betref kennis van onderrig en leer, ervaring van onderrig en die fasilitering van leer, en stelselmatige waarnemings van wat in die klaskamer gebeur (onder meer hoe eksterne faktore studente raak) met die oog daarop om studentebetrokkenheid en leeruitkomste te verbeter. 'n Uitnemende dosent toon ʼn gewilligheid om met nuwe middele tot hul beskikking te eksperimenteer en integreer innoverende praktyke in hul onderrig. 'n Uitnemende dosent beskik oor 'n duidelik verwoorde onderrigfilosofie wat op opvoedkundige teorie berus en vir 'n universiteitsonderrigkonteks geskik is. Ervaring van onderrig kan sowel voor- as nagraadse vlakke insluit. “Onderrig" kan in die breë vertolk word as onder meer kurrikulumontwerp en -lewering, waarvan laasgenoemde in die klas, aanlyn of deur materiaalontwikkeling kan geskied.

 

Die US toekennings vir uitnemende onderrig is derhalwe 'n geleentheid om uitnemende onderrig aan die Universiteit te erken, te beloon en te bevorder.

 

Die doelwitte van die toekennings is:

  • om op institusionele vlak steun aan uitnemende onderrig en leer in die hoër onderwys te toon;
  • om 'n akademiese korps te skep wat in hulle vakrigtings én oor die instelling heen inspirasie en leiding in onderrig en leer kan bied;
  • om gesprekvoering oor, en openbare bewustheid van, die betekenis van uitnemende onderrig vir die wêreld eerder as in die wêreld[2] aan te moedig;
  • om die akademieskap[3] van onderrig en leer te bevorder;
  • om die ontwikkeling van professionele dosente in die hand te werk; en
  • om waardering te skep vir lesse wat geleer word in plaas daarvan om slegs aan suksesse waarde te heg.

     

3.       GESKIKTHEID

 

Alle personeellede wat onderrig gee – sowel permanente as kontrakaanstellings – kom vir hierdie toekennings in aanmerking.

 

Slegs individuele aansoeke word aanvaar.

 

Volgens die Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) ontwikkel dosente se onderrigrol “van nadenkende praktisyns, tot vakkundige opvoeders, wat dan onderwysvakkundiges en uiteindelik toonaangewende onderwysvakkundiges word." Nadenkende praktyk word as sinoniem met “goeie onderrig" beskou (sien omskrywing onder Afdeling 2) en is die norm aan die US. “Nadenkende praktisyns" word dus oor die Universiteit heen as goeie dosente erken, maar kom nog nie vir 'n toekenning vir “uitnemende onderrig" (sien omskrywing onder Afdeling 2) in aanmerking nie.

 

Die toekenning vir Ontluikende Dosent is bedoel vir akademici wat in hulle onderrig as “vakkundige opvoeders" optree:

 

Nadenkende praktisyns besin doelbewus en krities oor hulle onderrigpraktyk, en hersien en dokumenteer hulle professionele groei stelselmatig. Vakkundige opvoeders put boonop uit opvoedkundige literatuur om oor hulle onderrigpraktyk en professionele groei na te dink, en beweeg ook verder as persoonlike besinning na waarneming en portuurbeoordeling van hulle onderrig.

(Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5)

 

Die toekenning vir Ontluikende Dosent kan slegs eenmalig ontvang word.

 

Die toekenning vir Uitgelese Dosent is bedoel vir akademici wat in hulle onderrig as “onderwysvakkundiges" of “toonaangewende onderwysvakkundiges" optree:

 

Onderwysvakkundiges vors hulle onderrigpraktyk na en dokumenteer hulle professionele groei met die oog daarop om hulle bevindinge in die openbaar te publiseer en tot bestaande onderrig- en leerkennis by te dra. Toonaangewende onderwysvakkundiges dra deur publikasie tot bestaande onderrig- en leerkennis by en bied institusionele, nasionale en internasionale leierskap op die gebied van onderrigpraktyk.

(Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5)

 

Die toekenning vir Uitgelese Dosent kan een keer elke vyf jaar ontvang word.

 

'n Individu behoort self die toekenning te identifiseer waarom hulle aansoek wil doen en moet dit op die dekblad van die aansoek aandui. ('n Templaat vir die dekblad sal voorsien word.) Die fakulteits- of institusionele keuringskomitee kan nietemin 'n aansoek na 'n ander kategorie verskuif, met ander woorde, 'n aansoek kan van die vlak van Ontluikende Dosent na dié van Uitgelese Dosent verskuif word, of andersom. Indien die institusionele keuringskomitee 'n kandidaat se portefeulje as “belowend" eerder as “ontwikkelend" of “uitnemend" beskou (sien Afdeling 6), vergeleke met ander portefeuljes op dieselfde vlak, kan die aansoek vir verdere portefeulje-ontwikkeling na die betrokke fakulteit terugverwys word.

 

4.       AANSOEK- EN KEURINGSPROSES

  • Die kantoor van die Viserektor (Leer en Onderrig) stuur die versoek vir aansoeke gedurende die eerste kwartaal of vroeg in die tweede kwartaal van die akademiese jaar aan die dekane en visedekane (onderrig en leer) (of gelykstaande persone) van elke fakulteit. Die versoek sit die doelwitte van die toekennings en die prosesse vir die toekenning daarvan uiteen.
  • Die dekane en visedekane (onderrig en leer) (of gelykstaande persone) van elke fakulteit word gevra om die versoek onder alle akademiese personeellede (permanente en kontrakaanstellings) te versprei.
  • Elke fakulteit identifiseer moontlike benoemdes en reël hulle eie interne prosesse om kandidate te kies. Die fakulteitskeuringskomitees behoort die SOL-adviseur vir die fakulteit in te sluit. Kandidate kan ook hulleself benoem.
  • Fakulteite moet op die dekblad, wat voorsien sal word, aandui of hulle kandidate om die toekenning vir Ontluikende Dosent of Uitgelese Dosent aansoek doen. (Raadpleeg Afdeling 3 en 5 vir riglyne oor die twee toekennings.)
  • Ooreenkomstig die Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) word die onderrigportefeulje as hoofinstrument gebruik om uitnemende onderrig te beoordeel. Die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) kan versoek word om ondersteuning met portefeulje-ontwikkeling te bied.
  • Elke fakulteit se gekose kandidaat/kandidate berei 'n portefeulje voor wat aan die kriteria vir uitnemende onderrig in die versoek vir aansoeke voldoen. (Sien Afdeling 5 en 6.) Die kandidaat/kandidate kan SOL of ander eweknieë vir kritiese raad en terugvoer nader.
  • Fakulteitskeuringskomitees moet hulle kandidaat/kandidate van terugvoer oor hulle portefeuljes voorsien én genoeg tyd gun om hulle portefeuljes voor die finale indieningsdatum, naamlik die laaste weekdag in Augustus, te hersien.
  • 'n Institusionele keuringskomitee van kollegas uit die Afdeling Leer- en Onderrigverryking sowel as 'n aantal visedekane (onderrig en leer) word deur die Viserektor (Leer en Onderrig) of hul afgevaardigde aangestel en gelei. Hierdie komitee beoordeel benoemdes se onderriguitnemendheid op twee maniere:
  • 'n Vergelykende oorsig van onderrigportefeuljes op die vlakke van Ontluikende Dosent en Uitgelese Dosent aan die hand van die rubrieke wat in Afdeling 6 voorsien word. Elke portefeulje word deur twee komiteelede beoordeel, waarna die volle komitee die beoordelings by die keuringsvergadering bespreek.
  • 'n Onderhoud van 10 minute met elke benoemde gedurende die keuringsvergadering
  • Alle benoemdes ontvang skriftelike terugvoer oor hulle portefeuljes.
  • Die suksesvolle benoemdes word in die vierde kwartaal van hulle keuring in kennis gestel, en ontvang hulle toekennings by 'n plegtigheid aan die einde van daardie kwartaal.
  • Suksesvolle kandidate in die kategorie Uitgelese Dosent kan aangemoedig word om vir die nasionale HELTASA-toekennings vir uitnemendheid in onderrig en leer in die daaropvolgende jaar aansoek te doen. Benoemdes wat potensiaal toon om vir 'n HELTASA-toekenning benoem te word, sal ondersteun word om hulle portefeuljes verder te ontwikkel.


 

5.       ONDERRIGPORTEFEULJE: FORMAAT, RIGLYNE VIR NADENKENDE NARRATIEF, RIGLYNE VIR BEWYSE

 

Ooreenkomstig die Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) dien die onderrigportefeulje as die hoofinstrument aan die hand waarvan uitnemende onderrig beoordeel word.

 

Aansoekers moet 'n onderrigportefeulje indien wat uit 'n nadenkende narratief en stawende bewyse bestaan. (Sien 5.1.) Die portefeulje behoort die aansoeker se aantal jaar onderrigervaring en professionele groei, huidige onderrig en professionele groei en doelwitte vir onderrig en professionele groei in te sluit.

 

'n Omvattende portefeuljehulpbron sal op die SOL-webtuiste beskikbaar wees. Die SOL-fakulteitsadviseurs kan deur middel van individuele konsultasies of werksessies bystand met portefeuljesamestelling verleen. Akademici met ervaring van die samestelling van 'n onderrigportefeulje kan versoek word om as medefasiliteerders van werksessies oor portefeulje-ontwikkeling op te tree.

 

5.1  Formaat

 

Portefeuljes kan in pdf-formaat of 'n elektroniese formaat van die aansoeker se keuse ingedien word. Vir elektroniese portefeuljes kan die voorskrifte oor die volgorde van komponente, getal bladsye en dekblad aangepas word, mits die elektroniese weergawe alle vereiste elemente vir portefeuljes in pdf-formaat bevat.

 

Die gemengdeleerkoördineerder of gelykstaande professionele steunpersoneellede in fakulteite kan genader word om hulp met die ontwikkeling van aanlynportefeuljes te verleen. Die portefeuljehulpbron op die SOL-webtuiste kan ook geraadpleeg word.

 

  • Portefeuljes moet vergesel word van 'n voltooide dekblad met die handtekening van die dekaan van die fakulteit. ('n Templaat vir die dekblad sal saam met die versoek vir aansoeke voorsien word.)
  • Ná die dekblad moet 'n foto van die aansoeker en 'n verkorte curriculum vitae (twee bladsye) ingesluit word. Die curriculum vitae behoort die aansoeker se onderrig en professionele groei te beklemtoon.
  • Die portefeulje self moet uit twee dele bestaan:
  • 'n Nadenkende narratief oor die onderrigpraktyk van die aansoeker (wat die persoon doen, hoe, en veral waarom). (Raadpleeg 5.2 vir meer besonderhede.) Die narratief kan in pdf-, digitale of multimediaformaat (soos 'n digitale verhaal) wees. Indien die narratief in pdf-formaat is, behoort dit hoogstens 20 en minstens 10 bladsye te beslaan. Indien die narratief in 'n digitale of multimediaformaat is, behoort dit nie langer as 50 minute te duur vir die leser om dit aandagtig deur te werk nie (wat luister- of kyktyd vir enige klank- of videogrepe insluit). Alle aansprake in die narratief moet met bewyse gestaaf word.
  • Die bewyse kan in die vorm van bondige voorbeelde in die nadenkende narratief self en/of verwysings/hiperskakels na bylaes wees. (Raadpleeg 5.3 vir meer besonderhede.) Bylaes in 'n geskrewe pdf-formaat moet hoogstens 30 bladsye beslaan. Indien die bylaes in 'n digitale of multimediaformaat is, behoort dit nie langer as 30 minute te duur vir die leser om dit aandagtig deur te werk nie. Indien die bylaes sowel pdf- as multimediamateriaal (klank- of videogrepe) insluit, behoort dit nie langer as 30 minute te duur om alle inhoud deur te werk nie.
  • Indien die narratief en/of bylaes die maksimum lengte oorskry, sal die keuringskomitees geen inhoud ná bogenoemde perke vir elke afdeling oorweeg nie.
  • Portefeuljes in pdf-formaat moet ʼn lettergrootte van 11 en reëlspasiëring van 1,5 gebruik.
  • Enige multimedia-insetsels met klankinhoud moet duidelik hoorbaar wees.
  • Onvolledige aansoeke sal nie vir die toekennings in ag geneem word nie. Die keuringskomitees sal egter terugvoer bied aan aansoekers wat onvolledige aansoeke ingedien het.
  • Aangesien die institusionele keuringskomitee verskillende vakrigtings verteenwoordig, moet aansoekers dít wat hulle onderrig uitnemend maak op ʼn algemeen toeganklike manier verwoord.

 

5.2  Riglyne vir nadenkende narratief

 

Die voorstelling van uitnemende onderrig in aansoeke om hierdie toekennings behoort te draai om nadenkendheid, 'n kritiese ingesteldheid en (onderrig)praktyk.

 

Die nadenkende narratief behoort te beskryf hoe die aansoeker klas gee en waarom hulle dit so doen. Die klem van die narratief val dus op 'n kritiese besinning oor alle aspekte van die aansoeker se onderrigpraktyk. Die kern van hierdie besinning is die aansoeker se onderrigfilosofie. Indien die aansoeker nie vertroud is met die konsep of praktyk van kritiese besinning en/of nog nie voorheen 'n onderrigfilosofie opgestel het nie, kan SOL se hulp ingeroep word.

 

Die nadenkende narratief behoort ook die aansoeker se professionele groei te toon, veral wat hul akademieskap van onderrig en leer[4] betref. Dit behoort dus nie slegs suksesse in te sluit nie, maar – veral – ook uitdagings, foute en lesse wat geleer is. Daarbenewens moet die narratief aandui hoe die aansoeker beplan om hul professionele groei verder te voer – nie net in hul onderrigpraktyk nie, maar ook hul akademieskap van onderrig en leer.

 

Die narratief moet op opvoedkundige literatuur berus. Raadpleeg die vereistes vir die toekennings in Afdeling 2 en die beoordelingskriteria in Afdeling 6. Die SOL-fakulteitsadviseurs en die aanlyn SOL-portefeuljehulpbron kan verdere bystand bied.

 

Aansoekers behoort in hulle narratief oor die volgende vier elemente te besin:

 

5.2.1  Konteks

 

Om hulle te help nadink, kan aansoekers hulleself vrae soos die volgende afvra:

 

Waar vind u onderrig plaas? Watter makro-, meso- en mikrokwessies moet u in u onderrig in ag neem? Hoe weerspieël u kurrikulumbesluite en onderrigbenaderings die geografiese, historiese en maatskaplike konteks van u klaskamer? Op watter maniere bevorder of beperk u konteks hoe u klas gee en assesseer? Hoe integreer u belangrike plaaslike en aktuele kwessies by u kurrikulum? Watter institusionele, studente-, professionele, nasionale en internasionale kontekstuele kwessies beïnvloed u onderrig- en leerkonteks? Hoe roer u kurrikulum kwessies aan wat die planeet raak? Watter veranderinge het u aan die kurrikulum aangebring om seker te maak dat dit gepas is vir u konteks? Hoe bevorder u onderrig 'n bewustheid/besef van die groter wêreldkonteks?

 

5.2.2  Studente

 

Om hulle te help nadink, kan aansoekers hulleself vrae soos die volgende afvra:

Wie is u studente? Hoe verseker u deur u onderrig dat alle studente ingesluit voel en aktief by hulle eie leer betrek word? Hoe bepaal u watter lewenservarings/persoonlike omstandighede u studente met hulle saamdra klas toe? Hoe gee u klas sodat studente aangemoedig voel om aan kennisproduksieprosesse deel te neem? Hoe hanteer u die uitdaging van onvoldoende studentevoorbereiding in u kurrikulum? In watter opsigte bied u kurrikulumstruktuur voldoende ondersteuning aan studente? Hoe ontwikkel u studente se vermoëns en berei hulle voor om kritiese burgers van die toekoms te wees? Watter verryking is daar in u kurrikulum en onderrigstrategieë vir studente met uitsonderlike vermoëns? Hoe pas u u onderrig aan na aanleiding van u studente se terugvoer? Hoe vertolk u die suksesdata van u studente in die konteks van u kurrikulum en onderrigstrategieë?

 

5.2.3  Kennis

 

Om hulle te help nadink, kan aansoekers hulleself vrae soos die volgende afvra:

 

Wat is u vakrigting/beroep en wat is die belangrikste kenmerke daarvan? Met watter aspekte van die kursus of program sukkel u studente en hoe hanteer u dit deur u onderrigbenadering? Hoe maak u die praktyke van die vakrigting en/of beroep vir almal toeganklik deur u onderrig- en assesseringsbenaderings? Op watter maniere stel u onderrig studente in staat om toegang tot die vakrigting te bekom? Wat doen u om te sorg dat u studente tot kennisproduksie kan bydra, en nie net tot kennisverbruik nie? Hoe sorg u dat u dissiplinêre diepte behou? Watter invloed het u aktiewe akademieskap op u onderrig? Hoe verbeter u bydraes tot u vakrigting u onderrig?

 

5.2.4  Groei

 

Om hulle te help nadink, kan aansoekers hulleself vrae soos die volgende afvra:

 

Watter vernuwende benaderings verryk u onderrig? Hoe gebruik u tegnologie om u studente se ervaring te verbeter en hulle belangrike konsepte beter te laat verstaan? Hoe gebruik u alternatiewe onderrig- en leertegnieke om studentebetrokkenheid te verbeter? Hoe gaan u te werk om u eie onderrig krities te evalueer? Hoe gaan u te werk om aktief ewekniebeoordeling en -kritiek te bekom om u onderrig te verryk? Hoe dink u het u mettertyd in 'n uitnemende dosent ontwikkel? In watter opsig(te) het u tot kurrikulumontwikkeling bygedra? Hoe bevorder u benadering tot assessering studenteleer? Hoe dra u akademieskap tot ontwikkeling binne (én buite) die instelling by?

 

Die stelle vrae hierbo behoort aansoekers te help dink aan die soort kwessies waaroor hulle dalk in hulle aansoeke wil besin. Hoewel aansoekers 'n mate van besinning oor ál vier elemente moet toon, word die vrae slegs voorsien om gedagtes te stimuleer – aansoekers hoef nie elke vraag te beantwoord nie. Aansoekers hoef ook nie met betrekking tot ál vier elemente toppresteerders te wees nie, maar moet soveel aspekte van hierdie elemente moontlik in hulle portefeuljes aanroer. Dit behoort duidelik en saaklik te geskied.

 

Verdere riglyne vir die inhoud van die narratief word in die riglyne vir bewyse hieronder uiteengesit.

 

    1.   Riglyne vir bewyse

       

      Aansprake wat in die nadenkende narratief gemaak word, moet met bewyse gestaaf word wat aan die hand van die evalueringskriteria gekies is (raadpleeg Afdeling 6). Die bewyse kan die vorm aanneem van bondige voorbeelde in die narratief self en/of kernagtige bylaes met langer voorbeelde en ander stawende inligting. Bylaes behoort slegs bewyse vir spesifieke stellings of aansprake in die narratief in te sluit. Bewyse behoort dus oordeelkundig gekies te word en die narratief moet direkte verwysings of hiperskakels na alle bylaes bevat.

       

      Die bewyse behoort te toon in watter opsigte die aansoeker se onderrig uitnemend eerder as net goed is, en hoe die aansoeker van goed tot uitnemend ontwikkel het.[5] 

       

      SOL kan bystand verleen met die keuse van bewyse en die samestelling van bylaes.

       

      5.3.1  Ontluikende Dosent

       

      Vir die kategorie Ontluikende Dosent behoort bewyse van uitnemende onderrig in te sluit die aansoeker se onderrigpraktyk, professionele groei en betrokkenheid by die akademieskap van onderrig en leer, soos wat hieronder uiteengesit word:

       

      5.3.1.1  Inligting oor die aansoeker en hul onderrigkonteks:

       
  • Die aansoeker se posisie by die instelling; deel-/voltyds, permanent/kontrak; vakrigting en module(s); grootte van klasse
  • Die aansoeker se onderrigkonteks, byvoorbeeld Stellenbosch-/ander kampus; gebiede met die meeste uitdagings; instaatstellende faktore; buite-/maatskaplike faktore wat onderrig beïnvloed
  • Maniere waarop die aansoeker in die diverse studentekorps se behoeftes voorsien (aansoekers moet die drie belangrikste maniere kies en die rede vir hulle keuse verduidelik)
  • Die aanpassing van kurrikulums en onderrigmateriaal by die Suid-Afrikaanse konteks
  • Hoe die aansoeker hoë dog realistiese eise aan studente stel en kritiese denke bevorder
  • Hoe die aansoeker studente aanmoedig om vir hulle eie leer verantwoordelikheid te aanvaar
  • Eweknieterugvoer van kollegas
  • Studenteterugvoer (formeel of informeel)
  • Studentesuksesdata
  • Items soos moduleraamwerke, kort uittreksels uit studiehandleidings, multimedia, aanlynmateriaal, innoverende studente-assessering, foto's
  • Suksesse behaal en – veral ook – lesse geleer.

     

    5.3.1.2 Inligting oor die aansoeker se betrokkenheid by die akademieskap van onderrig en leer, wat die volgende insluit, maar nie daartoe beperk is nie:

     
  • Referate oor onderrig en leer wat by konferensies aangebied is, indien van toepassing (aansoekers moet die opsomming kies van wat hulle as hulle beste referaat/aanbieding beskou en hulle keuse verduidelik)
  • Artikels of ander publikasies oor onderrig en leer, indien van toepassing (aansoekers moet die opsomming kies van die artikel/publikasie wat hulle as hulle beste beskou en hulle keuse verduidelik)
  • Lidmaatskap van professionele verenigings (onderrig-en-leer- of vakkundige verenigings)
  • Interne/eksterne moderering van eksamens en verhandelings/tesisse, indien van toepassing
  • Bydraes tot universiteits- en nasionale/internasionale komitees (aansoekers moet die name van die komitees verstrek en bewys lewer van hulle bydraes)
  • 'n Lys formele en informele voortgesette professionele leergeleenthede op die gebied van onderrig en leer waarvan die aansoeker gebruik gemaak het
  • 'n Lys studente of personeellede vir wie die aansoeker as mentor of studieleier op die gebied van onderrig en leer op(ge)tree (het), indien van toepassing
  • 'n Lys toekennings wat die aansoeker vir onderrig en leer ontvang het, indien van toepassing
  • Hoe die aansoeker hul kennis en ervaring van onderrig en leer toegepas het op, of uitgebrei het na, hul departement, fakulteit, die Universiteit en gemeenskappe in die institusionele omgewing.

     

    5.3.2  Uitgelese Dosent

     

    Vir die kategorie Uitgelese Dosent behoort bewyse van uitnemende onderrig in te sluit die aansoeker se onderrigpraktyk, professionele groei en betrokkenheid by die akademieskap van onderrig en leer, soos wat hieronder uiteengesit word:

     

    5.3.2.1 Inligting oor die aansoeker en sy/haar onderrigkonteks:

     
  • Die aansoeker se posisie by die instelling; deel-/voltyds, permanent/kontrak; vakrigting en module(s); grootte van klasse
  • Die aansoeker se onderrigkonteks, byvoorbeeld Stellenbosch-/ander kampus; gebiede met die meeste uitdagings; instaatstellende faktore; buite-/maatskaplike faktore wat onderrig beïnvloed
  • Maniere waarop die aansoeker in die diverse studentekorps se behoeftes voorsien (aansoekers moet die vyf belangrikste maniere kies en die rede vir hulle keuse verduidelik)
  • Die aanpassing van kurrikulums en onderrigmateriaal by die Suid-Afrikaanse konteks
  • Hoe die aansoeker hoë dog realistiese eise aan studente stel en kritiese denke bevorder
  • Hoe die aansoeker studente aanmoedig om vir hulle eie leer verantwoordelikheid te aanvaar
  • Eweknieterugvoer van kollegas
  • Studenteterugvoer (formeel of informeel)
  • Studentesuksesdata
  • Items soos moduleraamwerke, kort uittreksels uit studiehandleidings, multimedia, aanlynmateriaal, innoverende studente-assessering, foto's
  • Suksesse behaal en – veral ook – lesse geleer.

     

    5.3.2.2 Inligting oor die aansoeker se betrokkenheid by die akademieskap van onderrig en leer, wat die volgende insluit, maar nie daartoe beperk is nie:

     
  • Referate oor onderrig en leer wat by konferensies aangebied is (aansoekers moet die drie opsommings kies van wat hulle as hulle beste referate/aanbiedings beskou en hulle keuse verduidelik)
  • Artikels of ander publikasies oor onderrig en leer (aansoekers moet die drie opsommings kies van die artikels/publikasies wat hulle as hulle beste beskou en hulle keuse verduidelik)
  • Lidmaatskap van professionele verenigings (onderrig-en-leer- of vakkundige verenigings) waartoe die aansoeker beduidende bydraes lewer te oordeel aan bewese konferensiebywoning, gelewerde referate, beoordelingsaktiwiteite, en lidmaatskap van spesiale belangegroepe of die uitvoerende komitee
  • Interne/eksterne moderering van eksamens en verhandelings/tesisse
  • Bydraes tot universiteits- en nasionale/internasionale komitees (aansoekers moet die name van die komitees verstrek en bewys lewer van hulle bydraes en impak)
  • 'n Lys formele en informele voortgesette professionele leergeleenthede op die gebied van onderrig en leer waarvan die aansoeker gebruik gemaak het
  • 'n Lys studente of personeellede vir wie die aansoeker as mentor of studieleier op die gebied van onderrig en leer op(ge)tree (het)
  • 'n Lys toekennings wat die aansoeker vir onderrig en leer ontvang het, indien van toepassing
  • ʼn Lys vaktydskrifte oor onderrig en leer waarvoor die aansoeker artikels geëvalueer het
  • Hoe die aansoeker hul kennis en ervaring van onderrig en leer toegepas het op, of uitgebrei het na, hul departement, fakulteit, die Universiteit en gemeenskappe in die institusionele omgewing.
  • Hoe die aansoeker leiding gee op onderriggebied: institusioneel, nasionaal en internasionaal.

     
  1. EVALUERINGSKRITERIA

     

    6.1 Die fakulteits- en institusionele keuringskomitees sal die volgende rubrieke gebruik om uitnemende onderrig in die aansoeke om die twee toekennings te evalueer:

     

    6.1.1 Ontluikende Dosent

     
Kontekstuele bewustheidKritiese besinningStudente-betrokkenheidInnoverende praktykAkademieskap van onderrig en leerSamehangAanbiedingUitnemende, Ontwikkelende of Belowende portefeulje (sien 6.2) en motivering

Onderrig toon bewustheid van konteks – maatskaplik sowel as onderrig en leer (vakrigting, program, fakulteit, instelling en verder) – waarin onderrig plaasvind en hoe dit onderrig en leer beïnvloed.

Bewus van studente se behoeftes. Onderrig-metodes word by konteks en studente se behoeftes aangepas.

Besin doelbewus en krities oor onderrig-praktyk. Beoordeel en dokumenteer professionele groei stelselmatig. Beweeg ook verder as persoonlike besinning, na waarneming en eweknie-beoordeling van eie onderrig. Konteks, studente, kennis en groei word beklemtoon.Betrek studente by onderrig (in lesings, tutoriale, praktiese klasse, ensovoorts) en maak hulle aktief deel van hulle eie leer. Bied 'n uiteensetting van onderrig-metodes in dié verband en toon die gevolglike impak van onderrig. Gebruik gepaste innoverende benaderings vir die vakrigting (same-werkende leer, uitstappies, gemengde leer, ensovoorts) om studenteleer te verryk.

Maak gebruik van opvoedkundige literatuur om oor onderrigprak-tyk en professionele groei te besin. Brei professionele leer en akademieskap van onderrig en leer uit. Betrek eweknieë by waarneming en beoordeling van onderrig. Positiewe impak op onderrig en leer strek ook tot buite die klaskamer.

 

Narratief het logiese vloei. Alle elemente van narratief hou direk verband met onderrig-filosofie. Bylaes staaf aansprake/ stellings in die narratief. Narratief bevat kruis-verwysings/hiperskakels na bylaes.

1. Pdf:

a) Lengte:

Narratief: 10-20 bl.

Bylaes: 30 bl.

b) Lettergrootte: 11

c) Reëlspasiëring: 1,5

d) Ordening: slegs bondige bewyse en voorbeelde in narratief; volledige bewyse in bylaes.

2. Digitaal/ multimedia:

a) Lengte:

Narratief: 50 minute

Bylaes: 30 minute

b) Gebruiker-vriendelik wat besigtiging van inhoud én hantering betref

c) Multimedia-insetsels met klankinhoud is duidelik hoorbaar

d) Ordening: slegs bondige bewyse en voorbeelde in narratief; volledige bewyse in bylaes.

 

 

6.1.2 Uitgelese Dosent

 

Kontekstuele bewustheidKritiese besinningStudente-betrokkenheidInnoverende praktykAkademieskap van onderrig en leerSamehangAanbiedingUitnemende, Ontwikkelende of Belowende portefeulje (sien 6.2) en motivering

Onderrig toon diepgaande bewustheid van konteks – maatskaplik sowel as onderrig en leer (vakrigting, program, fakulteit, instelling en verder) – waarin onderrig plaasvind en hoe dit onderrig en leer beïnvloed.

Bewus van studente se behoeftes. Onderrig-metodes is kontekstueel genuanseerd en reageer op studente se behoeftes.

Besin doelbewus, diep en krities oor onderrig-praktyk en professionele groei asook die verband tussen eie onderrig, groei en opvoedkundige literatuur, veral in die onderrig-filosofie. Konteks, studente, kennis en groei word beklemtoon.Betrek studente by onderrig (in lesings, tutoriale, praktiese klasse, ensovoorts) en maak hulle aktief deel van hulle eie leer. Bied 'n uiteensetting van onderrig-metodes in dié verband en toon die gevolglike impak van onderrig.  Gebruik gepaste innoverende benaderings vir die vakrigting (same-werkende leer, uitstappies, gemengde leer, ensovoorts) om studenteleer te verryk.

Maak omvattend gebruik van opvoedkundige literatuur om oor onderrigprak-tyk en professionele groei te besin. Uitgebreide navorsing oor onderrig-praktyk en deeglike dokumentering van professionele groei. Positiewe institusionele, nasionale of internasionale impak op onderrig- en leerkennis deur publikasies en ander bydraes. Gee leiding op die gebied van onderrigpraktyk in die instelling, nasionaal én internasionaal.

 

Narratief het logiese vloei. Alle elemente van narratief hou direk verband met onderrig-filosofie. Bylaes bied robuuste en uiteen-lopende bewyse vir aansprake en stellings in die narratief. Narratief bevat konsekwente kruis-verwysings/ hiperskakels na bylaes.

 

 

1. Pdf:

a) Lengte:

Narratief: 10-20 bl.

Bylaes: 30 bl.

b) Lettergrootte: 11

c) Reëlspasiëring: 1,5

d) Ordening: slegs bondige bewyse en voorbeelde in narratief; volledige bewyse in bylaes.

2. Digitaal/ multimedia:

a) Lengte:

Narratief: 50 minute

Bylaes: 30 minute

b) Gebruiker-vriendelik wat besigtiging van inhoud én hantering betref

c) Multimedia-insetsels met klankinhoud is duidelik hoorbaar

d) Ordening: slegs bondige bewyse en voorbeelde in narratief; volledige bewyse in bylaes.

 

 

6.2 Die volgende portefeuljebeskrywings kan as 'n bykomende riglyn vir die samestelling of beoordeling van aansoeke gebruik word:

 

6.2.1 Uitnemende portefeulje

 

Die portefeulje voer oortuigende gronde vir uitnemendheid aan deurdat die akademikus oor veelvuldige aspekte van hul konteks besin, waaronder hul studente, instelling en vakrigting/program. Die portefeulje bied 'n duidelike beskrywing van die onderrig- en leerpraktyk, en verduidelik waarom die aansoeker daardie bepaalde benadering volg (in die onderrigfilosofie). Die aansoeker se onderrigpraktyk is gegrond op uitgebreide bewyse van die akademieskap van onderrig en leer. Onderrigmetodes is kontekstueel genuanseerd en strook met die onderrigfilosofie. Robuuste en uiteenlopende bewyse word vir die aansprake in die narratief voorsien. Die akademikus is voortdurend op soek na maniere om te verbeter en is daartoe in staat om oor tyd en in reaksie op veranderende kontekste of nuwe begrip oor hul eie groei te besin. Die akademikus het 'n positiewe institusionele, nasionale of internasionale impak op onderrig en leer in die hoër onderwys. Die portefeulje lewer bewys van uitnemendheid in onderrig wat as inspirasie kan dien vir, of beter begrip kan bewerkstellig van, hierdie noodsaaklike aspek van die hoër onderwys.

 

6.2.2 Ontwikkelende portefeulje

 

Die portefeulje voer gronde vir uitnemendheid aan deurdat die akademikus oor aspekte van hul konteks besin, waaronder hul studente, instelling en vakrigting/program. Die portefeulje beskryf die onderrig- en leerpraktyk, en verduidelik waarom die aansoeker daardie bepaalde benadering volg (in die onderrigfilosofie). Die aansoeker se onderrig is gegrond op 'n mate van bewys van die akademieskap van onderrig en leer. Onderrigmetodes word aangepas by die konteks en strook met die onderrigfilosofie. Bewyse word vir die aansprake in die narratief voorsien. Die akademikus soek na maniere om te verbeter en is daartoe in staat om oor tyd oor hul eie groei te besin. Die akademikus het ook buite die klaskamer 'n positiewe impak op onderrig en leer in die hoër onderwys. Die portefeulje lewer bewys van uitnemendheid in onderrig wat beter praktyk kan bevorder en ander kan aanmoedig.

 

6.2.3 Belowende portefeulje

 

Die portefeulje begin gronde vir uitnemendheid aanvoer deurdat die akademikus oor aspekte van hul konteks besin. Die portefeulje beskryf die onderrig- en leerpraktyk en verduidelik waarom die aansoeker daardie bepaalde benadering volg (in die onderrigfilosofie). Daar is een of twee verwysings na die akademieskap van onderrig en leer. Onderrigmetodes word aangepas by die konteks, maar strook dalk nie goed met die onderrigfilosofie nie (of andersom). Hoewel daar bewyse vir sommige aansprake in die narratief voorsien word, word sekere aansprake nie gestaaf nie. Die akademikus soek na maniere om te verbeter. Die akademikus het 'n positiewe impak op onderrig en leer. Die portefeulje lewer bewys van die ontwikkeling van uitnemendheid in onderrig.

 

Belowende portefeuljes is nog nie gereed vir benoeming nie en behoort nie ingedien te word nie. Indien die institusionele keuringskomitee 'n portefeulje van “ontwikkelend" of “uitnemend" na “belowend" terugskuif, kan die aansoek vir verdere portefeulje-ontwikkeling na die betrokke fakulteit terugverwys word.

 

_____________________________



[1] “Studentesukses is 'nie net of studente 'n graad verwerf nie, maar ook of hulle die vlak van gereedheid – wat betref kennis, vermoëns en persoonlike kenmerke – bereik wat hulle in staat sal stel om te floreer in, en by te dra tot, 'n snelveranderende ekonomie en onstuimige en veeleisende wêreld-, samelewings- en dikwels ook persoonlike kontekste'. (Kuh (2008), soos aangehaal in die Raamwerk vir Institusionele Gehalteverbetering in die Tweede Gehalteversekeringstydperk, Januarie 2013)." (Aanbevelings van die Taakgroep oor die Bevordering en Erkenning van Onderrig, 2015:4)

[2] Die US het homself herposisioneer van “die beste in die wêreld" tot “die beste vir die wêreld, met die klem op konteks en responsiwiteit. Hierdie gekontekstualiseerde en responsiewe benadering tot uitnemendheid is in pas met die begrip van onderrig en leer as 'n proses met sowel sosiale as individuele dimensies. Hierdie dimensies hou verband met mekaar, maar die sosiale konteks is meer kompleks en genuanseerd, en het moontlik 'n ingrypender invloed op onderrig en leer as enige individuele kenmerke van studente of akademici." (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:2).

[3] Die Onderrig- en Leerbeleid (2018:3) omskryf “akademieskap" as “die koppeling van praktyk aan teorie en van teorie aan praktyk, wat saamgevat word deur die dimensies van ontdekking, integrasie, toepassing en onderrig". (Boyer, E.L. 1990. Scholarship reconsidered: Priorities of the Professoriate. Spesiale verslag. Carnegie-stigting vir die Bevordering van Onderrig: 5–25.)

[4] Hou asseblief die vereistes van die twee toekennings in Afdeling 3 in gedagte.

[5] Uitnemende en goeie onderrig word in Afdeling 2 omskryf.​