Center for Student Counseling & Development
Welkom by Universiteit Stellenbosch

OOR ONS

​​

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid by die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling, bevorder gesamentlike optrede ten opsigte van sosiale geregtigheid en diskoers rakende sosiale ongelykwaardighede by US. Die Eenheid vir Gelykwaardigheid koördineer, skep bewustheid en doen opleiding oor seksualiteit, geslag, MIV/Vigs en anti-diskriminasie in vennootskap met relevante kampusstrukture.

Die eenheid is verantwoordelik vir die koördinering en implementering van die beleide van US oor Onbillike Diskriminasie (in proses), Seksuele Teistering en MIV/Vigs.

Ons dien as die gesentraliseerde eenstopdiens vir beide studente en personeel wat aanmeldings van onbillike diskriminasie en verskeie vorme van teistering hanteer. Die Eenheid vir Gelykwaardigheid bied 'n instapdiens by Victoriastraat 39. Alternatiewelik kan ons by die volgende e-posadresse gekontak word:

    • unfair@sun.ac.za om gevalle van diskriminasie, teistering, seksuele teistering en viktimisasie aan te meld; of
    • matiesurpass@sun.ac.za vir enige algemene navrae of opleiding/bewustheidsversoeke.

    Volg ons asseblief op Facebook en Twitter vir inligting en om met ons in kontak te bly.

    Ten opsigte van die beleid oor onbillike diskriminasie (in proses), is die Eenheid verantwoordelik om:

    • te verseker dat die beleid effektief gekommunikeer word;
    • deur middel van voortgesette opvoeding en opleiding bewustheid van hierdie beleid te verseker;
    • te verseker dat alle oriëntasie van personeel en studente opleiding oor basiese konstitusionele regte en die tersaaklike SU-beleide insluit, in besonder die verbod op alle vorme van onbillike diskriminasie, teistering of viktimisasie;
    • te verseker dat elke personeellid per fakulteit en per ondersteuningsafdeling opgelei word ten opsigte van wat die beleid behels;
    • te verseker dat studenteleiers (insluitende mentors, huiskomiteelede en lede van die Studenteraad) jaarliks opgelei word ten opsigte van wat die beleid behels;
    • te verseker dat die bemarkingsmateriaal en kontakbesonderhede van die eenheid maklik toeganklik is;
    • diensvlakooreenkomste met die Menslike Hulpbronne-afdeling en die Transformasiekantoor te formaliseer om ten opsigte van opleidingsinisiatiewe en bewustheidsveldtogte saam te werk;
    • in samewerking met die Transformasiekantoor gereelde opnames te maak oor die aard van die institusionele klimaat van US ten opsigte van hierdie beleid;
    • die inwerkingstelling van die beleid te moniteer en gereeld aan die Direkteur van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) asook die Bestuurder: Personeel-welwees van Menslike Hulpbronne en die Hoof: Transformasiekantoor terugvoer te gee; en
    • klagtes van studente en personeel te ontvang en te assesseer, en om die effektiewe funksionering van ondersoeke te verseker, fasiliteer en bestuur.