Center for Student Counseling & Development
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​​​​​​​​​​ UPSS emergency number Afr.png

STUDENTE ERVARINGS

In samewerking met ons studente en die Afdeling: Studentesake het ons ʼn projek afgeskop waarmee ons van die stories van US-studente en hul uitdagings met trauma en geestes- en psigologiese gesondheid vertel. Hier onder deel studente hul ervarings in hul eie woorde, met die hoop dat dit ook ander sal help.

​   ​
​​​Coping With Failure_rs.png​​​

Ek kom van ʼn klein dorpie in die Oos-Kaap. Ek het my graad by ʼn universiteit nader aan die huis behaal en ek is trots daarop om nou my nagraadse studies aan die US, een van die top universiteite in die wêreld, voort te sit. Aan die begin van die jaar was alles vir my baie nuut hier... nuwe ervarings, nuwe mense. Alles het goed gegaan totdat ek ʼn eksamen gedruip het. Ek het nog nooit voorheen nie deurgekom nie. Dit het vir my gevoel of my hele wêreld in duie stort... dit het gevoel of ek ʼn groot mislukking is. Ek was so teleurgesteld en het gevoel dat ek nie goed genoeg is nie. Ek het ook niemand gehad met wie ek kon praat nie. Dit was heeltemal oorweldigend – daar was negatiewe stemmetjies in my kop wat vir my gesê het ek sal dit nooit maak nie. Tot ek eendag besluit het om hulp te soek. En met dié dat ek met iemand begin praat het en ook my Bybel gelees en gebid het, het ek die mislukking begin hanteer. Hierdie goed het my gehelp om weer op te staan en weer krag te kry. Ek het geleer dat om te misluk nie die einde van die wêreld is nie – eintlik is dit ʼn goeie leerervaring. Moenie toelaat dat een of twee mislukkings jou definieer nie. Mislukking is deel van die lewe en is ʼn geleentheid om te groei. As jy die heeltyd bang is om te misluk, gaan geleenthede om te leer en te ontwikkel by jou verby. My pad na sukses was deur mislukking.

​​​Effects of Violence at Homers.png​​​

Ná baie jare van werksoek, het ek besluit om weer te gaan leer. Maar dit het nie sonder opofferings van my kant gekom nie. Ek moes my NNT-toelatingstoets op ʼn leë maag skryf, want daar was nie kos in die huis nie. Ek het net taksiegeld gehad om tot by die assesseringsentrum te kom en moes al die pad terug stap. Toe dit tyd word vir my om as eerstejaar Stellenbosch toe te gaan, was daar nog uitdagings. Nie ek of my ma het busgeld vir my gehad nie. Maar ek was nie van plan dat dit my van stryk bring om universiteit toe te gaan nie. Ek het besluit om te ryloop, met nie ʼn sent aan my vir kos vir die pad nie. Ek het dit reggekry om ná drie dae op die pad, sonder dat ek geëet het, by die universiteit aan te kom. Ek het baie swaargekry in my eerste jaar. Oplaas het ek ʼn gesprek met ʼn sielkundige by die SSVO gehad. Dit het my ontsettend baie gehelp. Ek kon begin praat oor probleme waaroor ek nog nooit met enigiemand gesels het nie. Ek het besef dat ek nie alleen is nie en dat daar by Stellenbosch baie studente is met wie dit finansieel swaar gaan. Ek dink wat my gehelp het, was om vir hulp te vra en ondersteuning te kry. Ek het gesien dat mense bereid was om te help toe ek uitgereik het om gehelp te word. Volgende jaar sal my finale jaar wees.

 



















​ ​ ​



















​​​








































Not Giving Up_rs.png Ek het met gesinsgeweld en finansiële misbruik in die huis grootgeword. Toe ek universiteit toe kom, was dit vir my ongelooflik moeilik om op kampus te wees terwyl ek weet dat die geweld en mishandeling by die huis net voortgaan. Ek was baie bekommerd oor die veiligheid en welstand van my sibbe – my broers en susters – en hierdie bekommernisse het my kop baie besig gehou. Dit het my aandag afgelei, wat dit moeilik gemaak het om aan te gaan en te fokus. My enigste ware fokus was om uit te werk hoe ek kon help met die situasie by die huis. Ek het so skuldig gevoel want dit het vir my gevoel dat ek van die moeilike situasie by die huis ontsnap het deur weg te wees, maar my sibbe moes dit steeds hanteer. Die realiteit was dat ek nie die situasie tuis kon verander nie.


Maar dit het gevoel of ek hulle verraai. ʼn Paar jaar later het ek verskeie kere gedruip. Ek moes aansoek doen vir hertoelating. Teen hierdie tyd het ek dit ernstig oorweeg om op te skop. My drome het uit my gesigsveld verdwyn... ʼn Keerpunt het gekom toe ek in terapie oor my probleme begin praat het. Ek kon my situasie met nuwe oë beskou en ek kon erken wat regtig aan die gang was. Ek het besef dat ek in ʼn kringloop van kommer was en dat dit niks aan die situasie verander het nie. Ek het besef dat die situasie by die huis besig was om my lewe te ruïneer. Dis nie wat ek wou gehad het nie. Uiteindelik het ek myself afgevra wat ek kon doen aan hoe dinge was. Ek moes aanvaar dat ek die situasie daar by die huis nie kon verander nie; dit was nie in my hande nie. Wat ek kon doen was om beheer te neem oor my reaksie op die uitdagings in my lewe. Ek het begin deur bietjie vir bietjie oop te maak vir my vriende. Voorheen het ek gevoel dat ek dit alles op my eie moes hanteer en dit vir my vriende moes wegsteek, so dit was moeilik om met hulle te praat. Maar om oop te maak het gehelp om ontslae te raak van ʼn onnodige las, en tot my verbasing wou my vriende my ondersteun. Hulle het dit waardeer dat ek my swaarkry met hulle gedeel het. Ek het myself begin afvra: Wat wil ek vir my lewe en toekoms hê? Ek het begin om klein treetjies met die oog hierop te gee. Hierdie benadering het op die ou end my sterkpunt geword. ʼn Belangrike ding wat ek besef het, was dat my verbintenis aan my studies en my toekoms my deel van die oplossing vir my sibbe in die toekoms kan maak. Namate ek beheer oor my lewe teruggeneem het, het ek weer my drome begin onthou. My entoesiasme oor my studies het teruggekom en ek kon weer onthou waarheen ek akademies gesproke gewerk het. Nog ʼn droom wat ek kon herontdek was om by ʼn liefdadigheidsorganisasie betrokke te raak – sulke werk het my nog altyd na aan die hart gelê. Dit het my gehelp om te voel dat ek werklik ʼn verskil kon maak. Ek wou ook nog altyd my eie klein besigheid begin om ʼn inkomste te genereer. Deur een tree op ʼn slag te neem het ek die besigheid aan die gang gekry en onlangs het ek selfs begin om om die wins te belê. Dit is iets wat ek my nooit sou kon indink aan die begin van hierdie jaar nie! Dit was ʼn moeilike proses en as slegte goed by die huis gebeur, het dit steeds ʼn invloed op my, omdat ek my sibbe probeer ondersteun. Maar dit help my om te onthou dat ek opstaan teen die uitwerking van die mishandeling en kwessies by die huis op my lewe juis deur my lewe terug te eis.