Center for Student Counseling & Development
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Verwelkomingsinligting

​​​​​

SENTRUM VIR STUDENTEVOORLIGTING EN -ONTWIKKELING

Die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) is verbind tot die voorsiening van sielkundige, ontwikkelings- en ondersteuningsdienste aan die Universiteit Stellenbosch-gemeenskap in ons strewe om vennote vir sukses te wees. Ons visie is om ’n toeganklike, inklusiewe en kliëntgesentreerde sentrum te wees, met ons waardes gebaseer op medemenslikheid. Die personeel sluit in kliniese, voorligtings  en opvoedkundige sielkundiges, beraders, maatskaplike werkers, intern sielkundiges, studente-assistente, projek/portefeulje-koördineerders, ʼn psigometris, ondersteuningsbeamptes en administratiewe personeel. Die SSVO bestaan uit vier eenhede wat deur hul kernfunksies poog om burgerskap deur die fasilitering van welwees en persoonlike verantwoordbaarheid te bevorder. Die SSVO het kantore op die Stellenbosch- en die Tygerberg-kampus. 

Stellenbosch

Victoriastraat 37, Stellenbosch

Tel: 021 808 4707 / 021 808 4994 (kantoorure)

Tygerberg

Staan voor die hoofingang van die Opvoedkundegebou en stap links om na die sy-ingang vir gestremde persone. Die SSVO-kantoor (nr 0073) is aan die regterkant net voor die glasdeure vir gestremde persone.

Tel: 021 927 7020 (kantoorure)

Webblad www.sun.ac.za/ssvo

 

24-uur-nooddiens in samewerking met ER24 (die spesiale nauurse nommer en oor naweke is 010 205 3032)

In geval van sielkundige nood tydens kantoorure, skakel ons kantoor by 021 808 4994 of e‑pos ons by supportus@sun.ac.za.

 

Die volgende Eenhede word in vyf sentraal geleë geboue in Victoriastraat, Stellenbosch, gehuisves:

 

Eenheid vir Akademiese Voorligting en Ontwikkeling (EAVO)

Die Eenheid lewer 'n ontwikkelingsgerigte diens wat toegespits is op die akademiese uitdagings wat studente ervaar. Die span bestaan uit opvoedkundige sielkundiges, 'n psigometris, 'n geregistreerde berader en intern-sielkundiges. Ondersteuning word aan studente verleen deur hulp met studiemetodes, die hantering van toets- en eksamenstres, tydsbestuur, en die optimalisering van hulle potensiaal aan die hand van individuele konsultasies, werksessies en selfhelpmateriaal. Loopbaanvoorligting is beskikbaar vir geregistreerde studente. Stuur gerus 'n e‑pos aan studysuccess@sun.ac.za vir 'n individuele afspraak of vir meer inligting oor ons werksessies.

 

Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste (EPO)

Die Eenheid bied individuele, groepsterapie en werksessies. Vertroulike en professionele dienste word deur sielkundiges en beraders gelewer. Die Eenheid bied psigoterapie vir 'n wye spektrum probleme wat studente ervaar, onder meer depressie, hoë spanning, aanpassingsprobleme, middelmisbruik, en verhoudings- of gesinsprobleme.

Die Eenheid implementeer inname‑/siftingsessies as deel van die proses wanneer studente, wat sielkundige uitdagings ervaar, 'n afspraak wil maak. Die doel van hierdie inname‑/siftingsessies is om die aard en die erns van die probleem te bepaal en 'n gepaste toewysing na die volgende intervensievlak te maak. 'n Nauurse sielkundige nooddiens is ook vanaf 16:00 tot 08:00 en oor naweke (die ER24‑krisislyn se nommer is 010 205 3032) vir geregistreerde studente beskikbaar.

Maatskaplike werkers lewer 'n diens ter ondersteuning van studente se sosiale welsyn. Gedurende die akademiese jaar lewer die maatskaplike werkers professionele psigososiale dienste soos steun, leiding en berading aan studente wat ongemak met sosiale kwessies ervaar. Die werkers bestuur die voedselsekerheidsprogram en studente wat om hulp aansoek doen, word holisties geassesseer en gepas bygestaan indien aangedui.

Vir navrae of om 'n afspraak vir enige van ons dienste te maak, rig 'n e‑pos aan supportus@sun.ac.za.  Afsprake vir alle dienste kan aanlyn of in persoon plaasvind.


Eenheid vir Gestremdhede (EG)

Die Eenheid vir Gestremdhede bied 'n reeks dienste aan studente met gestremdhede wat strek van raad oor toepaslike oplossings vir akademiese ondersteuning, tot pasgemaakte studiemateriaal. Die Eenheid se aktiwiteite word deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Beleid oor Gestremdheidstoegang gerig. Ons adviseer studente met gestremdhede oor die beskikbare ondersteuning wanneer hulle by die US arriveer. Ons bespreek ook gepaste akademiese ondersteuning en verseker dat akademiese materiaal toeganklik is vir studie-, toets- en eksamendoeleindes. Die EG bied verskeie opleidingsgeleenthede aan studente en personeel. Dit sluit in die Lei‑met‑gestremdheid‑program vir studente en die fasilitering van personeelopleiding deur die Siyakhula-opleidingsessies. Kom gesels gerus met ons oor enige gestremdheidsverwante onsekerhede. Tree met ons in verbinding by disability@sun.ac.za. Volg ons op die Studentesake Facebook-blad sowel as die “Disability Unit" Facebook-blad by @sudisabilityunit, asook ons Instagram‑bladsy by @sudisabilityunit vir bywerkings en inligting. Kom besoek ons ook gerus by Victoriastraat 39, House Simon Nkoli Huis, Stellenbosch.​

Hier is vyf videos wat meer inligting oor die EG verskaf.​

Studente-ervaring video met US student, Luigia Nicholas (1) 
Studente-ervaring video met US student, Ilze Aaron​​

Studente-ervaring video met US student, L​uigia Nicholas (2)

Studente-ervaring video met US student​, Lathi Msi ​

Studente-ervaring video met US student, Luigia Nicholas (3)


​​​​​

Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste (EGLD)

Die Eenheid ondersteun studente met die oorgang vanaf hoëronderwys na die wêreld van werk. Dit sluit in individuele sessies oor hul loopbaan, groepsessies oor CV-skryf, onderhoudsvaardighede, hul aanlyn LinkedIn‑profiel en bekendstelling aan netwerkgeleenthede met maatskappye via loopbaanuitstallings en hulp met werksoekmetodes. Al ons kerndienste word aanlyn aangebied.

Die Eenheid bestuur 'n aanlyn loopbaandienste-bestuurstelsel genaamd MatiesCareers (bit.ly/MatiesCareers) wat studente maklike toegang bied om werk te soek en aansoek te doen vir permanente werk, internskappe, deeltydse werk en vrywillige werksgeleenthede. Alle US studente word sterk aangemoedig om op die stelsel te registreer. Dit is belangrik vir studente om reeds vanaf hul eerste jaar te begin voorberei vir hul oorgang na die wêreld van werk. MatiesCareers verskaf inligting oor die Eenheid se dienste en interessante aktiwiteite wat op die kampus plaasvind. Dit bied ook die geleentheid aan studente om aanlyn vir die Eenheid se dienste te registreer. Verskeie werkgewers is op die stelsel geregistreer. Studente kan dus ook hul CV's oplaai vir potensiële werkgewers en soektogte doen na werkgewers se inligting en werksgeleenthede. MatiesCareers laat studente toe om 24/7 op die hoogte te bly met die Eenheid se bedrywighede en die wêreld van werk. Stuur vir ons 'n e-pos by careerservices@sun.ac.za.