Center for Student Counseling & Development
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​ONS DIENSTE

Die Eenheid vir Gelykwaardigheid bied verskeie dienste en ondersteuning aan personeel en studente van die Universiteit. Ons fasiliteer die indien van formele en informele klagtes oor onbillike diskriminasie, teistering, viktimisasie en mishandeling; ons beywer ons vir die voorkoming van MIV en verskaf toetsing en berading; ons versprei kondome op ons kampusse; en ons lewer LGBTQIA+-ondersteuningsdienste. ​

Verslagdoening oor klagtes

Personeel en studente kan amptelike of nie-amptelike vertroulike klagtes indien oor onbillike diskriminasie, teistering, viktimisasie of mishandeling, of sulke gedrag aanmeld. Gebruik gerus die Eenheid se instapdiens by Huis Simon Nkoli, Victoriastraat 39, e-pos unfair@sun.ac.za, of skakel 021 808 3136 om ʼn afspraak te maak. ʼn Toegewyde en professionele gevallebeampte vir die bekamping van diskriminasie en teistering sal jou help.

​​MIV-berading en -toetsing

Om MIV/vigs aan die US die stryd aan te sê, bied die Eenheid gratis MIV-voorkomingsinisiatiewe, -toetsing en -beradingsdienste. Die Eenheid het ʼn toegewyde MIV-bestuurder wat jou met antwoorde op enige vrae wat jy oor MIV/vigs mag hê, sal help. 

Kondoomverspreiding​

Die Eenheid stel gratis manlike en vroulike kondome aan studente en personeel beskikbaar. Ons versprei ook kondome by verskeie geboue op sowel die Stellenbosch- as Tygerberg-kampus, insluitend al die k​oshuise. 

LGBTQIA+-ondersteuningsdienste

Die Eenheid bied berading aan lesbiese, gay, biseksuele, transgender-, queer-, interseks- en bondgenoot- (LGBTQIA+)-individue en gemeenskappe. Ons hou gespreksgroepe en bied ondersteuning deur opleiding en ontwikkeling om ʼn verwelkomende omgewing vir almal te skep en te bevestig. 

Mediasie-ondersteuningsdiens

Mediasie is die voorkeurmetode om konflik tussen mense op te los. Met sy opgeleide mediators kan die Eenheid jou help om konflik te hanteer – of jy ʼn student of ʼn personeellid is. Ons volg ʼn deeglike mediasieproses om in ʼn goeie gees oplossings wat vir al die betrokke partye aanvaarbaar is, te vind. Die mediasieproses is gratis en vertroulik, en is gerig daarop om persoonlike ontwikkeling, konflikbeslegting en interpersoonlike verhoudings te versterk. 

Ondersteuningsdiens vir die bekamping van gendergeweld

Die Eenheid het ʼn toegewyde koördineerder vir die bekamping van gendergeweld wat help om bewustheid oor gendergeweld te skep en te verhoog. Ons bied opleiding aan fakulteite, koshuise, departemente, studente en personeellede oor die bekamping van gendergeweld en gendervooroordeel.​                                ​