School of Accountancy
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​

Skool vir Rekeningkunde 

Wie is ons? 

Die Skool vir Rekeningkunde se ontstaan gaan sover terug as die van die eertydse Fakulteit Handel en Administrasie, naamlik 1925 - slegs sewe jaar na die totstandkoming van wat nou Stellenbosch Universiteit is. Die eerste personeellid in die Departement Rekeningkunde was 'n plaaslike rekenmeester wat as 'n senior lektor in Rekeningkundige Wetenskappe aangestel is: ene mnr. BJA Thomas.

In 1960 is prof. CA Smith as die eerste Professor in die Departement Rekeningkunde aangestel.

In 2013 is die struktuur en naam van die Departement Rekeningkunde verander na die Skool vir Rekeningkunde, wat dit vandag steeds is.

Vandag is die Skool die grootste akademiese omgewing in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en in Stellenbosch Universiteit, met meer as 90 dosente en ondersteuningspersoneel. Ons bedien 'n inname van meer as 2000 nuweling eerstejaarstudente elke jaar in ons modules, asook meer as 3300 voorgraadse en 480 nagraadse studente in totaal.

Die Skool streef daarna om toegang vir studente tot sy programme te verbreed sonder om akademiese uitmuntendheid in te boet.

Die Skool het 'n rekord van uitnemende uitslae in die eksterne professionele eksamens, wat ons oudstudente elke jaar aflê. As voorbeeld is die slaagkoers van ons oud-HonsBRek-studente elke jaar onder die beste drie van universiteite landswyd, terwyl ons ook gereeld oudstudente onder die Top 10 studente landswyd in hierdie uitdagende eksamen het.

Die Skool se afgestudeerde HonsBCom(Bestuursrekeningkunde) studente vaar eweneens uitstekend in die CIMA professionele eksamens.

As groot akademiese omgewing in Stellenbosch Universiteit, is navorsing (met ander woorde, die skep van nuwe kennis) ʼn verdere prioriteit vir die Skool. Dosente in die Skool is dus voortdurend besig met innoverende navorsing in die onderskeie vakgebiede in die Rekeningkundige wetenskappe, hetsy in hul individuele hoedanighede of as studieleiers en mentors vir studente.

Personeel in hul persoonlike hoedanigheid, asook die Skool as entiteit, streef daarna om ʼn positiewe impak op beide die gemeenskap van Stellenbosch en omliggende gebiede en ook op nasionale vlak te maak.​


Strategiese fokusareas van die Skool​

  • Handhawing van uitmuntende studente-deurvloeikoerse in beide voor- en nagraadse programme.
  • Handhawing van uitmuntende slaagkoerse van alumni-studente in professionele eksamens.
  • ʼn Getransformeerde, demografies verteenwoordigende studentekorps wat holisties ontwikkel word deur die integrasie van die kurrikulum en die ko-kurrikulum.
  • Aanstelling en behoud van uitstekend gekwalifiseerde dosente met ʼn voortdurende fokus op diensbillikheid.
  • Handhawing van relatief uitmuntende vlakke van navorsingsuitsette.
  • Om ʼn impak te maak op die plaaslike en nasionale gemeenskap deur die aanwending van ons kundigheidsareas.



 


​​​