School of Accountancy
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Meesters opsies: MCom (Belasting) / MRek (Belasting)

​​​​​​​​​​​​​

Algemeen

Die Universiteit van Stellenbosch bied die grade MRek (Belasting) en MCom (Belasting) gedoseerde opsies as tweejarige programme aan. Daar is geen verskil in die inhoud van hierdie twee graadprogramme nie. Die keuse tussen die twee graadprogramme hang af van die kwalifikasies deur die betrokke student verwerf voor die aanvang van hierdie programme. 

Studente wat in besit is van 'n Hons BRek graad, BRekLLB graad of die Nagraadse Diploma in Rekeningkunde streef MRek na, terwyl studente wat in besit is van beide 'n BCom graad (met regsvakke) en ʼn LLB graad, MCom nastreef. 

Die doel van die programme is om kandidate voor te berei as belastingkonsultante en hulle in staat te stel om belastingwetgewing en regspraak te kan interpreteer ten einde belastingadvies en -opinies te verskaf. Dosente en studieleiers bestaan uit voltydse personeel van die Universiteit van Stellenbosch asook verskeie belastingkundiges wat werksaam is in die handel en nywerheid, die rekenmeestersprofessie of by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Die program word slegs in Engels aangebied. 

Inhoud van die programme​

Twee opsies is beskikbaar onder beide die MRek (Belasting) en die MCom (Belasting).

Gedoseerde opsie (BEL 888)

Eerste jaar: Gevorderde Belasting 871*

  • Lesings vind meestal plaas op 'n aantal Saterdae per jaar van 08h00 tot ongeveer 14h00 
  • Die wyse van lewering sal sinkroniese lesings aanlyn of fisiese van aangesig tot aangesig lesings op kampus wees.
  • Verskeie werksopdragte moet deur die jaar ingehandig word.
  • 'n Mondelinge aanbieding wat met sekere navorsingswerkstukke verband hou moet gemaak word. Die onderwerp van die navorsingswerkstuk vir Bel 872 moet gekies en goedgekeur word.
  • 'n Oopboek eksamen moet gedurende September afgelê word.

Tweede jaar: Gevorderde Belasting-werkstuk 872*'n Navorsingsprojek v​an beperkte omvang volgens die voorskrifte van die Skool vir Rekeningkunde moet voltooi word, bestaande uit 'n navorsingswerkstuk asook 'n verwante artikel publiseerbaar in 'n geakkrediteerde vaktydskrif.

*Let wel: Hierdie twee modules moet individueel geslaag word en die slaag van Gevorderde Belasting 871 is 'n voorvereiste vir Gevorderde Belastingwerkstuk 872.

Tesisopsie (BEL 878)
Eerste en tweede jaar:
'n Navorsingsprojek volgens die voorskrifte van die Skool vir Rekeningkunde, bestaande uit ʼn tesis asook 'n verwante artikel publiseerbaar in 'n geakkrediteerde vaktydskrif.

Die program onder die doseeropsie word op ʼn tweejaarlikse siklus aangebied. Dit beteken dat 'n nuwe groep studente slegs elke tweede jaar tot die program toegelaat word. Die volgende siklus sal in Januarie 2024 'n aanvang neem. Slegs aanlyn-aansoeke word aanvaar en vir die 2024-siklus moet dit die Universiteit voor/op 31 Oktober 2023 bereik.

Lesings wat onder die doseeropsie aangebied word bestaan uit interaktiewe groepsbesprekings en daar word van studente verwag om deeglik voor te berei vir hierdie lesings. Die bywoon van alle lesings is verpligtend en die graad moet binne twee jaar voltooi word, met 'n maksimum van drie jaar wat toegelaat word. Streng vereistes geld vir toelating tot die derde jaar van studies.

Bywoning van lesings wat handel oor skryfvaardighede en die skryf van ʼn navorsingsvoorstel is verpligtend. 

Die inhoud van die program word met elke inname hersien en geen besonderhede is tans beskikbaar nie. 


Toelatingsvereistes

MRek (Belasting)

Die grade HonsBRek, BRekLLB of die Nagraadse Diploma in Rekeningkunde (NDR) (na verwerwing van 'n erkende BCom of BRek baccalaureusgraad) van hierdie Universiteit of van 'n ander graad, plus sodanige ander voorbereidende werk wat die Senaat vir die doel goedgekeur het.

MCom (Belasting):

Beide die grade BCom (met Regsvakke) en LLB van hierdie Universiteit of 'n ander graad plus sodanige ander voorbereidende programme wat die Senaat vir die doel goedgekeur het.

Aangesien slegs 'n beperkte aantal studente in die program geakkommodeer kan word, sal 'n vooraf goedkeurings- en toelatingsproses, in ooreenstemming met die Universiteit se oorhoofse beleid, plaasvind. ʼn Aansoek vir hierdie program waarborg dus nie aanvaarding tot die program nie. ʼn Maksimum van 10 studente vir elke gekombineerde inname van MCom (Belasting) en MRek (Belasting) Doseer opsie elke twee jaar. Die getal word bepaal gebaseer op die beskikbare kapasiteit van personeel om as studieleiers vir navorsingswerkstukke op te tree (beskikbare studieleidingskapasiteit).

Verdere voorvereistes is:

  • Minstens 60% (70% in die geval van akademiese klerke) vir Belasting, as vakgebied en vir die grade in die geheel, tydens al jou vorige studie. Akademiese klerke moet die 70% in die HonsBRek-graad (met die navorsingskomponent) behaal.
  • Praktiese ervaring in die belastingveld verkry deur voltooide leerlingskap (klerkskap) ten einde as Geoktrooieerde Rekenmeester (Suid-Afrika) of Prokureur te registreer. Akademiese klerke word vrygestel van hierdie vereiste.
  • As deel van die keuringsproses, word van aansoekers op kortlys verwag om 'n vyf-bladsy belastingopinie oor 'n spesifieke belastingvraag in te handig as deel van die tweede rondte van die keuringsproses. Die belastingopinie wat ingedien word, sal deur die programleier en/of die afdelingshoof Belasting geëvalueer word om die professionele bevoegdheid van kandidate te beoordeel (taalgebruik, logiese argumentasie toegepas, bronne geraadpleeg om die mening te formuleer en finale gevolgtrekking). In hierdie verband sal die programleier en/of die afdelingshoofhoof van Belasting hul eie ervaring in akademiese belastingnavorsing benut. Kandidate wat die meeste professionele bevoegdheid demonstreer in die voltooiing van die belastingopinies, sal tydens die keuringsproses voorkeur geniet.


Aansoekvorms

Aansoeke vir die doseeropsie (888) ten opsigte van die 2024-siklus sluit op 31 Oktober 2023.  

Voornemende studente kan elektronies aansoek doen deur op die onderstaande skakel te kliek:​ ELEKTRONIESE AANSOEKE​​​​

Aansoekvorms is ook by die Fakulteitsekretaris, Me Lauren Delport, beskikbaar:
Telefoon: +27 21 808 4837

Epos: Me Lauren Delport
Adres: Administrasie Blok A, Universiteit Stellenbosch​


Programleier inligting​

​Me. C Thiart, CA(SA), MAcc (Taxation) 
Telefoon: +27 21 808 3702 
Epos: cthiart@sun.ac.za​

Inligting oor gelde vir Internasionale Studente 

Volg asseblief hierdie skakel ​​​​