​​​Sentrum vir Gestremdheids- en Rehabilitasiestudies​

 

Die Sentrum vir Gestremdheids- en Rehabilitasiestudies​ bied 'n unieke nagraadse program aan professionele gesondheidswerkers. Persone wat aansoek doen is dokters, verpleegsters, spraak-en arbeidsterapeute, fisioterapeute, maatskaplike werkers, ens. Die benadering is interdissiplinêr, met die klem op die ontwikkeling van leierskapvaardighede om ontwikkeling, bestuur en evaluering en navorsing in toepaslike en koste-effektiewe rehabilitasie en gestremdheid programme te fasiliteer. Die Sentrum vir Gestremdheids- en ​Rehabilitasiestudies speel ook 'n ondersteunende rol in die kurrikulêre ontwikkeling binne die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe ten opsigte van gestremdheid en rehabilitasie-verwante aspekte.

Die sentrum is 'n gesamentlike onderneming van die universiteit en die provinsiale regering van die Wes-Kaap, en word in die Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gehuisves. Dit sou egter ook by enige ander instansie, soos van tyd tot tyd ooreengekom, gehuisves kon word.

Die sentrum is uniek in die aanbieding van omvattende rehabilitasie, opvoedings- en opleidingsprogramme, navorsings- en diensgeleenthede vir alle professionele persone in die gesondheidswetenskappe asook rehabilitasieverwante gebiede op alle vlakke van gesondheidsdienste en in die gemeenskap.