Engineering
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Meer oor

​​​​​​​​​​Die Fakulteit Ingenieurswese by Universiteit Stellenbosch is een van Suid-Afrika se vernaamste verskaffers van topgehalte ingenieurs. Dit het in 1944 tot stand gekom en het tans vyf ingenieursdepartemente, te wete:

Bedryfsingenieurswese

Elektriese & Elektroniese Ingenieurswese

Meganiese & Megatroniese Ingenieurswese

Prosesingenieurswese (Chemiese Ingenieurswese)

Siviele Ingenie​urswese

Die Fakulteit word gehuisves in 'n groot gebouekompleks wat oor uitstekende onderriglokale en navorsingslaboratoria beskik. Daar is ongeveer 3 800 Matie ingenieurstudente waarvan ongeveer 2 900 voorgraads en 9​00 nagraads studeer.

 Ingenieursgrade deur Universiteit Stellenbosch toegeken

Voorgraads

BIng (Bedryfs)

BIng (Chemies)

BIng (Elektries & Elektronies)

BIng (Meganies)

BIng Megatronies)

BIng (Siviel)

 

Nagraads 

Nagraadse Diploma in Ingenieurswese

MIng (Gestruktureerd)​

MIng (Navorsing)

PhD

DPhil

Die Fakulteit se Jaarboek bevat gedetailleerde inligting oor die graadprogramme en toelatingsvereistes.

 

Erkenning van Ingenieursgrade

Al ons BIng-grade is deur die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese (ECSA) geakkrediteer vir registrasie van gegradueerdes as Professionele Ingenieurs na toepaslike ondervinding in die praktyk. Die grade word ook in die oorsese lande erken wat ondertekenaars van die Washington Accord is, soos Australië, Kanada, Nieu-Seeland, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika, om slegs 'n paar te noem.

Die BIng-graad verleen ook gewoonlik direkte toegang tot die volgende vlak van nagraadse studie in ingenieurswese by die meeste buitelandse universiteite. 'n Stellenbosse ingenieursgraad maak dus letterlik die deure oop na die wêreld!

 

Navorsing

Die Fakulteit Ingenieurswese staan op die voorpunt van basiese en toegepaste navorsing en geniet internasionale erkenning hiervoor. Die fokus is op die nuutste en interdissiplinêre navorsing en daarom is daar sterk groei in navorsing en nagraadse programme. 'n Sterk tradisie van samewerking met die industrie word gehandhaaf. Kontraknavorsing en konsultasiewerk word deur die verskillende interne liggame in die vyf departemente uitgevoer wat insluit:

 

Die Instituut vir Bedryfsingenieurswese

Die Instituut vir Termodinamika en Meganika

Die Sentrum vir Elektriese & Elektroniese Ingenieurswese

Die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudie

Die Sentrum vir Prosesingenieurswese

Die Sentrum vir Siviele Ingenieurswese

 

Ons navorsingsaktiwiteite word ondersteun deur hoogs bekwame personeel asook laboratoria, berekeningsfasiliteite en navorsingsinfrastruktuur van wêreldgehalte. Ons is bevoorreg om studente van die hoogste kaliber te lok. Nagraadse studente word begelei deur topgehalte navorsers en akademici wat hul kennis in 'n stimulerende en kollegiale omgewing deel.

Die Fakulteit is navorsingsintens en is een van die grootste bydraers tot die navorsingsinkomste van Universiteit Stellenbosch.

 

Gemeenskapsinteraksie

Die Fakulteit bring hoop deur verskeie van sy gemeenskapsinteraksieprojekte, beide in die vorm van sosiale verantwoordelikheid en kontraknavorsing vir die industrie.

Kontraknavorsing word in die navorsingsentra en institute in noue samehang met die akademiese departemente se werksaamhede uitgevoer. Afgesien van noodsaaklike navorsingskundigheid wat aan die ingenieursbedryf beskikbaar gestel word, word jaarliks beduidende bedrae in die Fakulteit teruggeploeg in die vorm van beurse aan nagraadse studente, navorsingsmateriaal, toerusting, programmatuur, boeke en navorsingsreise. 

Die Fakulteit kom sy sosiale verantwoordelikheid na deur verskeie interaksies met die skolegemeenskap, soos bv. TRAC en die Wiskunde Tutorprogram. TRAC, met eksterne borgskappe, bied leerders landwyd die geleentheid om met praktiese, eksperimentele werk 'n beter begrip van fisiese wetenskappe te verkry. Die nasionale hoofkantoor is in die Fakulteit Ingenieurswese gesetel waar die Fakulteit ook deel het aan die oorsigfunksie. Met die Wiskunde Tutorprogram bied ingenieurstudente tutoriale aan leerders in plaaslike hoërskole om leerders se belangstelling in ingenieurswese te prikkel, en om hulle te help om beter slaagpunte te verkry in hierdie noodsaaklike vak vir ingenieurstudie.

Die Fakulteit het verskeie Uitreik​programme om belangstelling in wetenskap, ingenieurswese en tegnologie te prikkel.

 

Stell​​​enbosch - 'n historiese en skilderagtige dor​p

Stellenbosch is 'n polsende universiteitsdorp met 'n ryk geskiedenis. Dit is Suid-Afrika se oudste dorp naas Kaapstad, en is in 1679 gestig. Die skilderagtige dorp het eikeboomlanings en word deur majestueuse berge omring. Die Stellenbosch wynstreek is een van die oudstes in die Suidelike Halfrond.

Stellenbosch is naby Kaapstad wat studente die beste van beide wêrelde bied: 'n dorpsatmosfeer, minder as 'n uur se ry van die opwindende, kosmopolitiese stad, Kaapstad. Vir natuurliefhebbers is daar talle stap- en fietsryroetes en berge om uit te klim. Slegs 25 km verder kan seeliefhebbers hulle verlustig in mooi strande waar hulle kan swem, branderplankry, duik en aan ander watersport deelneem.

 

Studentelewe

Die dorp en die Universiteit op Stellenbosch bied studente 'n wye verskeidenheid geleenthede en uitstekende fasiliteite vir byna alle sporttipes, kultuuraktiwiteite en studentepret.​