Mechanical & Mechatronic Engineering
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Megatroniese ingenieurswese

​​​

​Megatroniese ingenieurswese is ʼn nuwe fokus in ingenieurswese wat blyk al meer belangrik word in die toekoms, beide in Suid-Afrika sowel as internasionaal. Die behoefte aan megatronika (wat dit moontlik maak om eenvoudiger, meer ekonomiese, betroubare en veelsydige stelsels te ontwerp), met outomatisasie as die jongste hulpmiddel tot produktiwiteit, neem elke dag toe.

Megatroniese ingenieurswese is ʼn sinergistiese kombinasie van noukeurige/presisie meganiese ingenieurswese, elektronika en rekenaarstelsels. ʼn Tipiese megatroniese stelsel word gekenmerk aan die nabye integrasie van meganiese onderdele, elektroniese sensors, meganiese en elektriese aandrywers ("actuators") en rekenaarbeheerders. Megatroniese ingenieurswese is ʼn interdissiplinêre veld wat spesialiseer in die beheer van gevorderde hibriede stelsels. Hierdie stelsels word gevind in verskeie industrieë waar meganiese en elektroniese ingenieurswese gekombineer word met rekenaarstelsels, bv. die lugvaart-industrie, vervoer-industrie, chemiese prosessering, rekenaars, kommunikasie, elektronika, gesondheidsorg, vervaardiging en mynbou.

Op nagraadse vlak kan megatroniese ingenieurs spesialiseer in verskeie rigtings. Besoek gerus ons webblaaie oor Nagr​aadse Studie en Navorsing vir meer inligting oor die beskikbare opsies.

Brosjure met inligting

 

Wat gaan jy leer?


By Stellenbosch Universiteit bevat die BIng (Megatronies)-program elemente van beide die BIng (Meganies) en die BIng (Elektries en Elektronies) programme. Die belangrikste verskil tussen die meganiese en megatroniese programme is die feit dat meganiese ingenieurs toegerus word om megatroniese stelsels te ontwikkel met bestaande beheerders (bv. rekenaars, PLCs, ens.), terwyl megatroniese ingenieurs ook toegerus word om gespesialiseerde beheerders (bv. ingeboude beheerders) en die relevante elektronika te ontwikkel. In die BIng (Megatronies)-program word van die meer gespesialiseerde dele van die BIng (Meganies)-program vervang met elektronika en rekenaar-ingenieurswese van die BIng (Elektries en Elektronies)-program.

Besoek asb. die Fakulteit Ingenieurswese se webwerf vir ʼn aflaaibare weergawe van ons jaarboek. Die jaarboek bevat meer inligting rakende voorgraadse studie, soos bv. die kurrikulum van elke jaar, asook modulebeskrywings.


Loopbane in megatroniese ingenieurswese

​Megatroniese ingenieurs (mans en dames) kan in enige grootte onderneming aangestel word, beide in Suid-Afrika sowel as internasionaal. Daar is verskeie klein en medium-grootte ondernemings wat megatroniese stelsels ontwikkel en dus megatroniese ingenieurs benodig. Internasionale neigings toon dat megatroniese ingenieurs in die afsienbare toekoms al meer benodig gaan word in Suid-Afrika.

  • Lugvaart-industrie
  • Outomobiel-industrie
  • Chemiese prosessering
  • Rekenaars
  • Kommunikasie
  • Opvoeding
  • Elektronika
  • Gesondheidsorg
  • Vervaardiging en outomatisasie
  • Mariene ingenieurswese
  • Navorsing en ontwikkeling