Unit for Construction Materials
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Huidige Navorsing

​​​​​​

​​​​​​​​​​ecoBlocks.jpgOmgewings-Vriendelike Boumateriale​

Die huidige impak van die konstruksie bedryf op die omgewing is kommerwekkend. As gevolg daarvan het daar 'n groot aanvraag na omgewingsvriendelike boumateriale ontstaan. Nuwe boumateriale, of slegs 'n verbetering van konvensionele boumateriale, is noodsaaklik vir 'n meer volhoubare ontwikkelde omgewing. Die doel van navorsing in hierdie veld, is nie net om nuwe boumateriale te ontwikkel nie, maar ook om die omgewingsimpak van die materiale wat tans gebruik word, te verminder. Ekstensiewe navorsing word gedoen op alternatiewe messelwerk eenhede met 'n fokus op materiaal ontwikkeling, strukturele toetse, bepaling van geskikte spesifikasies en volhoubare implementering op groot skaal. Die gebruik van natuurlike vesels in 'n sement-gebaseerde matriks, sement-gebaseerde binders wat meer omgewingsvriendelik is en alkali geaktiveerde materiale word ook ondersoek as moontlike plaasvervangers vir konvensionele beton. 


fibreReinforcedConcrete.jpgVesel-Versterkte Beton​

Die gebruik van vesel-versterkte beton (FRC) is besig om toe te neem, weens die positiewe bydrae wat dit tot beton se meganiese eienskappe lewer. Vesels word dikwels in twee kategorieë verdeel, naamlik mikro en makro vesels. Vesels wat 15 mm of korter is, word geklassifiseer as mikro vesels terwyl vesels 30 mm en langer geklassifiseer word as makro vesels. Verskeie materiale word gebruik om sintetiese vesels te vervaardig. Hierdie materiale sluit onder andere staal, polipropileen, glas en PVA in. Natuurlike vesels is ook tans in gebruik. Die hoofrede vir die byvoeging van vesels tot beton is die verbeterde gedrag wat beton ten toon stel wanneer dit begin kraak, hoofsaaklik a.g.v. plastiese krimping. Mikro vesels word ook gebruik om die duktiliteit van beton te vermeerder. Die effek van mikro vesels op beton duktiliteit kan waargeneem word tydens die vervorming van verharde sement-gebaseerde samestellings (SHCC). Die navorsingsfokus lê tans op sintetiese makro vesels en die effek daarvan op die kruip gedrag van gekraakte FRC.


freshAndYoungConcrete.JPGVars en Jong Beton​

Die gedrag van vars en jong beton het ʼn groot invloed op beide die meganiese- en duursaamheidseienskappe van verharde beton. Vars beton verwys na beton wat sopas gegiet is terwyl jong beton verwys na beton wat slegs ʼn paar dae oud is. Die eienskappe wat hoofsaaklik nagevors word is deformasie, defekte, reologie en meng ontwerp. Weens die wye omvang van die onderwerp, is die huidige fokus op die voorkoming van krake wat vorm in jong beton. Die vorming van krake moet so ver moontlik verhoed word omdat die teenwoordigheid van die krake 'n groot afname in die diensleeftyd van strukture veroorsaak. Navorsing in hierdie veld sluit ondersoeke van plastiese versakking krake, plastiese krimp krake sowel as termiese krake van vars en jong beton, in. Die beoogde doel van die navorsing is om riglyne te ontwikkel vir die voorkoming van vroeë ouderdom krake in vars en jong beton. Hierdie navorsing sal ook lei tot die uitbreiding van kennis in die betrokke veld.


highPerformanceConcrete.jpgHoë-Verrigting Beton​​​

Hoë-Sterkte Beton (HSC) is 'n tipe Hoë-Verrigting Beton (HPC), waarvan die druksterkte wissel tussen 60 MPa en 120 MPa. Die Suid-Afrikaanse struktuur ontwerpkode, SANS 10100, wat tans in gebruik is, bevat geen riglyne vir die ontwerp van beton elemente met sterktes hoër as 50 MPa nie. Die Europese kode, EN 1992-1, maak wel voorsiening vir beton met kubussterktes tot en met 105 MPa. Die hersiene weergawe van SANS 10100, sal die Suid-Afrikaanse beton industrie toelaat om beton met kubussterktes, so hoog as 105 MPa, te kan spesifiseer. Daar is egter tans beperkte kennis beskikbaar oor HSC wat uit plaaslike materiale vervaardig is. Navorsing in hierdie veld beoog om die eienskappe van HSC, vervaardig uit plaaslike materiale, te ondersoek. Daar word ook gekyk na die ontwikkeling van 'n meng-ontwerp metode wat geskik sal wees vir hierdie materiale. 'n Onvermydelike eienskap van HPC is outogene krimp, daarom word daar spesiale fokus daarop geplaas. Metodes om hierdie tydafhanklike deformasie te verhoed, word ondersoek.