pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement FISIKA​​​

Die Departement Fisika het ’n sterk navorsingsfokus en -geskiedenis op die drie terreine van kernfisika, laserfisika en teoretiese fisika. Navorsing word in die Departement se eie goed toegeruste laboratoriums sowel as in samewerking met nasionale institute soos iThemba LABS, die WNNR se Nasionale Lasersentrum en die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (NITheCS) onderneem. Danksy ’n aktiewe en lewendige navorserkohort het die US se Departement Fisika hom as een van die voorste navorsingsgerigte departemente van sy soort in die land gevestig. Die groot getal uithalerpublikasies wat die Departement oplewer, getuig van die gehalte van die navorsing wat hier onderneem word. 

Die Fisikadepartement is die tuiste van die Navorsingsleerstoel in Fotonika, Ultravinnige en Ultra-intensiewe Laserwetenskap, wat deel is van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoelinisiatief (SARChI).​​


​NAVORSINGSGEBIEDE 

​​KERNFISIKA

Navorsingstemas is soos volg:

  • Teoretiese en eksperimentele ondersoek van kernstruktuur en -reaksies.
  • Ontwikkeling van tegnieke om omgewingstraling te moniteer.
  • Studie van die impak van straling op menslike weefsel.

​TEORETIESE FISIKA

Teoretici spesialiseer op ’n aantal terreine. Kwessies wat lede van die Instituut vir Teoretiese Fisika ondersoek, wissel van die fundamentele aspekte van kwantummeganika, swartgate en die gedrag van enkelgolwe, tot teoretiese oorwegings van fisika in polimeerwetenskap en biologiese stelsels op sellulêre vlak.

LASERFISIKA (LASERNAVORSINGSINSTITUUT)

Die Lasernavorsingsinstituut bied ’n unieke geleentheid vir lasergebaseerde honneurs-, magister- en PhD-navorsing. Die projekte waarin ons nagraadse studente praktiese ervaring opdoen, sluit in die meting van ultravinnige reaksies in nuwe tipes sonselle, die vasvang en beheer van enkel-ione om kwantumteorie te toets, kwantuminligtingsteorie, nanofotonika, die skep en manipulasie van ligpulse met unieke eienskappe met behulp van nielineêre optika, die ontwikkeling van beeldingsmodaliteite om biologiese monsters te bestudeer, en die laserskeiding van mediese isotope.​​

​​NAGRAADSE KWALIFIKASIES​​

 HONNEURSGRADE​
  • HonsBSc (Fisika) ​​met 'n keuse van die volgende strome​:​
    • ​​- Laserfisika
    • ​- Kernfisika
    • - Stralings- en Gesondheidsfisika
    • - Teoretiese Fisika​​
​​​​​  MAGISTERGRADE​  DOKTORALEGRADE
Aansoekproses