pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement CHEMIE EN POLIMEERWETENSKAP​​​​​

Die Departement is een van die voorste chemienavorsingsdepartemente in Suid-Afrika en is by ’n wye verskeidenheid navorsingsinisiatiewe betrokke, waaronder die land se grootste polimeerwetenskapnavorsingsprojek. Dit is ook die enigste departement by ’n Suid-Afrikaanse universiteit wat ’n BSc-graad in Tekstiel- en Polimeerwetenskap aanbied. Daarbenewens konsentreer aktiewe navorsingsgroepe in die Departement op belangrike chemiese kwessies op die gebied van analitiese, supramolekulêre, fisiese, anorganiese en organiese chemie. Hipermoderne navorsingslaboratoriums en -toerusting ondersteun Chemie en Polimeerwetenskap se navorsingswerk. 


​NAVORSINGSGEBIEDE 

Hoewel die Departement interdissiplinêre navorsing aanmoedig, kan die oorhoofse navorsingstemas soos volg geklassifiseer word:

ANALITIESE CHEMIE

’n Kernfokus van analitiese navorsing is die gebruik van ultramoderne chromatografie- en massaspektrometrietegnieke vir die beter chemiese tipering van komplekse mengsels, met toepassings wat strek van Suid-Afrikaanse voedsel tot natuurlike produkte. ’n Verdere navorsingsgebied is die chemie en skeiding van die platinumgroepmetale (PGM’s) met behulp van berekeningsmetodes, gevorderde kernmagnetiese resonansie, en atoomspektroskopie.

ANORGANIESE EN ORGANOMETAALCHEMIE

Navorsingsinisiatiewe handel oor die toepassing van anorganiese chemie in nywerheid en geneeskunde. Dít sluit in die ontwikkeling van nuwe homogene katalisators, metaalgeneesmiddels, en ligandstelsels vir gebruik in ekstraktiewe metallurgie. Funksionele metaalnanodeeltjies word ook vir ’n verskeidenheid toepassings ontwikkel en getipeer.

FISIESE CHEMIE

Hierdie navorsing behels die gebruik en toepassing van hoëvlakberekeningstegnieke om die struktuur en eienskappe van geïsoleerde molekules, kristalstelsels en chemiese reaksies te bestudeer.

ORGANIESE CHEMIE

Hierdie navorsingsgebied behels die sintese van klein organiese molekules met kenmerkende funksies. Dít sluit in die voorbereiding van funksionele ligande vir die ontwikkeling van nuwe selektiewe katalisators, en die ontwerp en sintese van klein molekules as moontlike geneesmiddels en toetse vir medisinale chemietoepassings op gebiede soos malaria, MIV/vigs, Covid-19 en kanker.

POLIMEERWETENSKAP

Die Departement Chemie en Polimeerwetenskap is die enigste van sy soort in die land met ’n dieptefokus op nagraadse opleiding in polimeerwetenskap. Dít beteken die Departement is uniek geplaas om hoëgehaltenavorsing op verskeie polimeerwetenskapterreine te onderneem, waaronder analitiese polimeerchemie, polimerisasiemetodologie en polimeervesels (slim- of funksionele tekstiele en nanovesels). Navorsingsgebiede sluit in nuwe polimere (vryeradikaalpolimerisasie en bedekkings; die strukturele eienskappe van poliolefiene; gevorderde makromolekulêre argitektuur), polimeertipering en elektrospinnery.

SUPRAMOLEKULÊRE CHEMIE EN MATERIALE

​Groepe op hierdie navorsingsgebied ontwerp, sintetiseer en tipeer nuwe funksionele materiale, veral poreuse materiale wat vir gassorpsie gebruik kan word, met toepassings op die terrein van gasberging en -skeiding. Hoewel toepassing sterk beklemtoon word, bied sulke nuwe materiale ook dikwels interessante insigte wat by ander chemieterreine aansluiting vind.​

​NAGRAADSE KWALIFIKASIES​​​
Aansoekproses