pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement MIKROBIOLOGIE​​

Die Departement Mikrobiologie bestaan al langer as 50 jaar en handhaaf die afgelope meer as drie dekades ’n hoë navorsingsprofiel met die klem op bakteriologie-, mikologie- en omgewingsnavorsing, met toepassings in die voedsel-, farmaseutiese en bio-energiebedryf. Die Departement se navorsing oor gissoorte van bedryfsbelang het reeds internasionale erkenning verwerf, en plaaslik ontwikkelde gis word wêreldwyd geproduseer. Die navorsing oor die produksie van bakteriosiene deur melksuurbakterieë is ook internasionaal bekend, en EntiroTM, ’n kommersiële priobiotiese produk wat in die plaaslike mark geskep is, word internasionaal bemark. Boonop is daar ’n sterk navorsingsbelangstelling in watermikrobiologie en mikrobiese ekologie, veral biofilms en interaksies, en die identifisering van belangrike mikrobiese taksa in die fynbosbioom.

Daar is drie navorsingsleerstoele in die Departement Mikrobiologie:
  • Die Navorsingsleerstoel in Biobrandstowwe en Ander Skoon Alternatiewe Brandstowwe, wat deel is van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoelinisiatief (SARChI);
  • Die ERWAT Navorsingsleerstoel in Afvalwaterbestuur; en
  • Die Rand Water Leerstoel in Openbare Gesondheid.​

NAVORSINGSGEBIEDE 

​BAKTERIESE NAVORSING

Hierdie breë navorsingsgebied behels onder meer projekte oor die molekulêre biologie van bakterieë en hulle plasmiede, sowel as oor melksuurbakterieë, hulle taksonomie, hulle gebruik in gefermenteerde voedsel, die bakteriosiene wat hulle produseer, en hulle nywerheids-, veeartseny- en mediese toepassings.

​​SWAM- EN GISNAVORSING

Ons ondersoek die diversiteit en heteroloë uitdrukking van ensieme wat vir die ontbinding van plantmateriaal in filamentagtige swamme en gis gebruik word, met ’n breër klem op die toepassing van ensieme in bioraffinaderye en voedselprosesse. Ander projekte handel oor ensiemontdekking en -ontwerp, en beter geenuitdrukking in swamme en gis. Daar is heelwat oorvleueling tussen die studie van plantontbindingsensieme, die toepassing van ander ensieme van bedryfsbelang, gisfisiologie, en genetika.

​​OMGEWINGSNAVORSING

Konsentreer op mikrobiese gemeenskappe in fynbosgrond, met die klem op uitgesoekte genera soos Cryptococcus, Mucor, Fusarium and Penicillium. Waterverwante navorsing handel oor die monitering en optimalisering van huishoudelike reënwateropvangtenke, die profilering van waterpatogene vir antibiotiese en metaalweerstandigheid, waterbehandeling en -ontsmetting, sowel as waterhulpbronbestuur en -benutting. Laasgenoemde sluit ook die omgewingswetenskap in, veral om die verskillende eise wat aan natuurlike hulpbronne gestel word (soos vir voedselproduksie, energie, ensovoorts) te evalueer.​​​

​NAGRAADSE KWALIFIKASIES​​​

 HONNEURSGRADE​  MAGISTERGRADE​  DOKTORALEGRADE
Aansoekproses