pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement PLANT- EN DIERKUNDE​​​

Die Departement voorsien nagraadse onderrig en navorsing in ’n aantal internasionaal mededingende navorsingsprogramme. Plant- en Dierkunde is ’n leier op die terrein van evolusionêre biologie, met ’n bepaalde klem op die unieke geleenthede wat die biodiversiteit van Afrika bied. 

​Die Departement is die tuiste van die DWI/NNS Sentrum van Uitnemendheid in Indringerbiologie (SIB). Die SIB wil wetenskaplike kennis voorsien om die begrip, beheer en bestuur van indringerspesies te verbeter en sodoende alle Suid-Afrikaners se lewensgehalte te verhoog. Ook die Skool vir Klimaatstudie is hier geleë, wat kruisdissiplinêre navorsingsvermoë skep deur die klimaatsverwante kennisstelsels van verskillende fakulteite en die klimaatsbeleide en -inisiatiewe van die openbare sektor te kombineer​.


NAVORSINGSGEBIEDE

​​EVOLUSIONÊRE EKOLOGIE

Hierdie navorsing volg ’n geïntegreerde benadering, wat van molekulêre tot gemeenskapsienings behels, om twee oorhoofse temas te ondersoek: 

  • Die evolusie en ekologie van interaksies tussen plante en hulle simbionte; 
  • Die diversifisering van die Kaapse biota, en die gevolge vir saambestaan. 
​Spesifieke onderwerpe sluit in die evolusie van spesialisasie, plantdiversifisering, plantkweekstelsels, gemeenskapsamestelling, ko-evolusie, plant-insek-diversiteitsverhoudings, insek-/voël-gedrag, saadverspreiding, soortvorming, hibridisasie, poliploïdie, interaksies tussen plante, insekte, swamme en bakterieë, diversiteit van plantgroeivorme, en plantsistematiek en -taksonomie.

DIER-PLANT-INTERAKSIES

​Hierdie navorsing sluit ’n verskeidenheid onderwerpe in en volg ’n geïntegreerde benadering tot die studie van plantdiversifisering, plant-insek-interaksies, plant-insek-diversiteitsverhoudings, insekgedrag en hoe dit met plant-evolusie verband hou, blomkleur, verspreidingsevolusie, die oorsprong en instandhouding van spesies, spesiesaambestaan, en die diversifisering van Kaapse plante en diere. Dier-plant-interaksies word ook op ’n meer toegepaste manier benader, met die klem op bestuiwingsekosisteemdienste in Suid-Afrikaanse landboustelsels. 

GEDRAGSEKOLOGIE

​Die klem hier val hoofsaaklik op dierekommunikasie, veral die evolusie van diereseine, ongeag of dit reukgebaseerd, akoesties of visueel is. Een aspek van die navorsing is die ontleding en identifisering van die seinstelsels wat sosiale insekte vir koloniekoördinering en -funksionering gebruik, wat noodsaaklik is om die evolusie van sosialiteit in die diereryk te verstaan. Verskillende kommunikasiestrategieë by voëls en soogdiere ten opsigte van mimetisme, maatkeuse, maatbewaking, gebiedsafbakening en hulpgedrag word ook ondersoek. 

NAVORSINGSGROEP OOR KAAPSE FLORA

​THierdie navorsing handel oor filogenetiese rekonstruksie en die algemene biologie van die organisme (bv. morfologie, palinologie, kariologie en voortplantingstelsels) om die evolusie van verskeie Kaapse afstamminge te rekonstrueer. Dit konsentreer op die evolusie van alternatiewe groeivorme, die evolusie en ontleding van tristiliese voortplanting, die evolusie van weerspannigheid, verskillende saailingverkrygingstrategieë, en die rol van hibridisasie om diversiteit te bevorder.

INDRINGERBIOLOGIE

Lede onderneem navorsing oor die biodiversiteitsgevolge van biologiese indringing. Die hoofdoel van die Sentrum vir Indringerbiologie se werk is om die tempo en impak van biologiese indringing te verminder deur wetenskaplike begrip te bevorder en voorspellings- en navorsingsvermoë te bou. 

EVOLUSIONÊRE EN EKOFISIOLOGIE

Navorsing beoog om die oorsake en gevolge van klein- en grootskaalse variasie in die fisiologie van diere te verstaan, met ’n sterk klem op ektotermiese diere soos reptiele en insekte. Ons bestudeer ’n aantal heelorganismekenmerke, waaronder metaboliese tempo, waterverlies, temperatuurtoleransie, en prestasie- en fiksheidsensitiwiteit. ’n Verskeidenheid benaderings (vergelykende studies, eksperimentele evolusie, mesokosmosse en veldstudies) word gevolg om hierdie kenmerke te bestudeer en sodoende die organismes se plastiese en aanpassingsreaksies in ’n ekologies relevante raamwerk voor te stel.

EVOLUSIONÊRE GENOMIKA

​Lede van hierdie groep kombineer hulle diverse molekulêre ontledingsvaardighede om die evolusiegeskiedenis van land-, varswater- en mariene plante en diere te bestudeer. Die navorsing is nie tot enige bepaalde takson beperk nie. Die doel is om konseptuele, eksperimentele, analitiese en berekeningskundigheid op die gebied van molekulêre ekologie, bewaringsgenetika, vergelykende sitogenetika, populasiegenetika, filogeografie, vergelykende genomika en molekulêre filogenetika te versterk. 

MARIENE NAVORSING

Die navorsingsgroep het vier hooffokusgebiede, naamlik die biogeografie en voortplanting van die polikeetwurm, mariene indringer-ekologie, molekulêre mariene ekologie, en die volhoubare kweking van weekdiere. Hulle gebruik moderne navorsingstegnieke om die dinamiese Suider-Afrikaanse mariene omgewing beter te verstaan. Navorsingsprojekte is divers en strek van die toepassing van genetika in mariene beskermde gebiede, tot navorsing oor die impak van uitheemse mariene spesies. ​

WÊRELDWYEVERANDERINGSEKOLOGIE

Die klem val hoofsaaklik op klimaatsverandering en verbandhoudende invloede op unieke en dikwels biodiversiteitsryke Suider-Afrikaanse land-ekosisteme, waaronder sub-Antarktiese eilande. Eksperimentele ekofisiologiese en stelselsekologiese benaderings word gevolg om die meganistiese begrip van biodiversiteitsreaksies op klimaatsveranderingstendense en ander dryfvere van wêreldwye verandering sowel as die strukturele en funksionele invloede op ekosisteme verder uit te bou. In samewerking met die voorste groepe wêreldwyd word hierdie kennis dan met nisgebaseerde modellering (NBM) van bioklimaat, hibridiese NBM-/demografiese benaderings en dinamiese wêreldwye plantegroeimodellering gekombineer. Voorspellingstoepassings dek ’n wye verskeidenheid ruimtelike skale, van sublandskap tot kontinentaal. Die navorsing het dikwels implikasies vir beleid en biodiversiteits- en ekosisteembestuur. 

MEDISINALE PLANTBIOTEGNOLOGIE

Hierdie groep bestudeer plaaslike mense se gebruik van plante vir medisinale doeleindes. Die doel is om ’n beter begrip te vorm van die omgewingsinvloede op medisinale plante en verbandhoudende sekondêre metaboliete, en veral op die reguleringsmeganismes wat by die produksie van sekondêre metaboliete betrokke is. Biotegnologie word op ’n bewarings- en kommersialiseringstrategie toegepas. Die groep konsentreer hoofsaaklik op belangrike medisinale plante in die wyer Kaapstreek. 

PLANTMOLEKULÊRE EKOLOGIE

Hierdie navorsing handel hoofsaaklik oor die evolusionêre biologie en molekulêre ekologie van sowel inheemse as indringerplantspesies. Die vernaamse navorsingsfokusgebiede sluit in:

  • ’n begrip van die onderliggende demografiese prosesse by inddringerplantpopulasies;
  • die historiese biogeografie van inheemse plantpopulasies, en die prosesse waardeur dit gevorm is;
  • die landskapgenetika van inheemse plantpopulasies; en
  • die gevolge van uiterste langafstandverspreiding in die verklaring van histories disjunkte plantspesieverspreidings.​

​NAGRAADSE KWALIFIKASIES​​​​​

 HONNEURSGRADE  MAGISTERGRADE​  DOKTORALEGRADE
Aansoekproses