Management
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Nuwe koers vir US

Sleutelmomente op reis na voorlegging aan die Raad op 29 April 2013

Daar het sedert Februarie 2012 breedvoerige raadpleging met verskille universiteitsliggame plaasgevind om by die punt uit te kom waar daar Maandag 29 April deurslaggewende voorleggings vir die US se toekoms aan die Universiteitsraad gemaak sal word.

    • 27 en 28 Februarie 2012: Voorlegging deur Rektor aan personeellede en studente oor die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Kampusmeesterplan vir Fasiliteite en Mobiliteit.
    • 22 Maart 2012: Gesprekke deur Rektor met Studenteparlement oor aspekte van diversiteit en transformasie.
    • 11 April 2012: Voorlegging deur Rektor aan personeellede oor vordering met US se HOOP Projek
    • 7 Mei 2012: Raad bespreek Verslag oor die Bevordering van Gelykheid, Menseregte en Inklusiwiteit in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Raad neem kennis dat daar ʼn behoefte aan kwantitatiewe en kwalitatiewe inligting oor diversiteit en inklusiwiteit aan US bestaan, en versoek US Bestuur om 'n aksieplan op te stel wat institusioneel ʼn verwelkomende omgewing sal skep waarin gelykheid, diversiteit en transformasie gedy.
    • 1 Junie 2012: Spesiale Raadsgesprek oor Taal en Diversiteit aan die US.
    • 25 Junie 2012: By Raadsvergadering onderneem Rektor om die "Strategiese Raamwerk vir die Eeuwisseling en Daarná" as die Universiteit se rigtinggewende dokument te hersien.
    • 27 en 28 Julie 2012: By die Winter- Institusionele Beplanningsforum (IBF) word gefokus op 'n toekomsperspektief vir die Universiteit. Daar word besin oor globale en plaaslike dryfkragte wat meewerk om 'n toekomstige omgewing te skep waarbinne die US suksesvol en volhoubaar moet funksioneer. Die jaar 2030 word as bestuurshorison gekies.
    • 25 September 2012: Raad bespreek IBF-verslag, waarin gerapporteer word dat insette gelewer is oor die vorm en grootte van die US, inskrywingsbeplanning, die rol van tegnologie en virtuele leeromgewings, globale en Afrika-tendense, diversiteits- en transformasie-imperatiewe, asook sistemiese volhoubaarheid. Raad versoek ʼn verfynde Institusionele Plan, Bestuursvisie 2030, Transformasieplan, Plan vir Verwelkomende Kultuur en ʼn Groeistrategie. Taakspanne word op die been gebring om hieraan te werk, asook aan die gebruik van inligtings- en kommunikasietegnologie in leer en onderrig.
    • 15 Oktober 2012: Studenteraad (SR) bied ʼn openbare gesprek oor transformasie aan, en die Transformaties Forum word tot stand gebring.
    • 8 November 2012: By die jaarlikse Konvokasievergadering doen Rektor en Viserektore voorleggings oor die Kampusmeesterplan en besluite en prosesse van Raad en die Rektor se Bestuurspan.
    • 22 Januarie 2013: Konvokasiegesprek oor konsep-koshuisplasingsbeleid
    • Februarie en Maart 2013: Rektorsvoorleggings aan en gesprekke met fakulteitsrade en -bestuur.
    • Januarie tot Maart 2013: Verdere beplanning deur Uitvoerende Bestuurslede.
    • 14 en 15 Februarie 2013: Konsultasie met top- en middelvlakbestuurslede by Somer IBF.
    • 15 Maart 2013: Rektorsvoorlegging aan en gesprek met Senaat. (Nuwe koers is ook deurlopend met Senaat in 2012 bespreek, soos dit ontvou het).
    • 11 April 2013: Konvokasie aanvaar tydens ʼn spesiale vergadering ʼn mosie ten gunste van nuwe voorgestelde koshuisplasingsbeleid.
    • 25 April 2013: Oorlegpleging tussen die vier Wes-Kaapse universiteite – Kaapse Skiereiland (CPUT), Kaapstad, Stellenbosch en Wes-Kaap – oor beste praktyke in hoëronderwystransformasie. Die Kaapse Hoëronderwyskonsortium (Chec), die Menseregtekommissie en Instituut vir Geregtigheid en Versoening neem ook aan gesprek deel.
    • 26 April 2013: Rektorsgesprek met Uitvoerende Komitee van Studenteraad (ook voorafgaande vergaderings in 2013 en 2012).
    • 26 April 2013: Gesprek tussen Bestuur en Dekane.