Centre for Teaching & Learning
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Vrae wat Dikwels Gevra Word

​​​​​​1.       Wat is 'n onderrigportefeulje?
'n Onderrigportefeulje is die “verhaal" van jou en jou onderrigpraktyk as 'n beroepsopvoeder. Dit bestaan uit twee hoofafdelings: a) 'n nadenkende narratief oor jou onderrig, jou studente se leer, en jou eie beroepsleer, en b) bylaes met voorbeelde om jou narratief te staaf.

2.       Waarom behoort ek 'n onderrigportefeulje te hê?

  • 'n Onderrigportefeulje is allereers 'n instrument om oor jou onderrigpraktyk te besin. Om 'n portefeulje te skep, moet jy terugdink aan hoe jy voorheen klas gegee het, en dan daardie vorige praktyk in jou huidige en toekomstige onderrig probeer verander, verbeter of regstel. Daarom moet jy jou onderrigervarings ontleed en vertolk, en krities nadink oor alle aspekte van jou onderrig sowel as oor hoe jy jou onderrigpraktyk kan verbeter.

  • Jou portefeulje toon hoe jy die verwantskap tussen onderrig en leer in jou onderrigpraktyk verstaan, en wys ook hoe jy jou onderrigpraktyk met verloop van tyd ontwikkel. Die skep van 'n portefeulje is dus 'n doeltreffende manier om jouself as 'n professionele opvoeder te leer ken.  

  • Jy sal 'n onderrigportefeulje nodig kry om:

  • aansoek te doen om bevordering;

  • aansoek te doen om 'n onderrigtoekenning van die Universiteit of nasionale bronne; of

  • jou jaarlikse prestasiebeoordeling te voltooi.


    3.       Wat moet ek alles by my portefeulje insluit?
    Jou portefeulje behoort hoofsaaklik oor die volgende drie gebiede van akademiese werk te handel:

  • Jou onderrig- en opvoedkundige ontwikkeling
  • Jou akademieskap en beroepsleer
  • Jou bydraes tot die Universiteit en die gemeenskap

    Jy behoort die een of ander vorm van bewys van jou betrokkenheid en besinning op elk van hierdie gebiede in te sluit, hoewel jy waarskynlik in bepaalde stadiums van jou akademiese loopbaan meer op sekere gebiede as ander sal konsentreer.

    Jou portefeulje behoort die volgende elemente te bevat, in die volgorde hieronder:
  1. 'n Verkorte CV wat oor jou onderrig handel
  2. 'n Nadenkende narratief wat uit die volgende bestaan:
    1. Jou onderrigomgewing
    2. 'n Verklaring van jou onderrigfilosofie
    3. Jou onderrigmetodes, -strategieë en -aktiwiteite
    4. Jou kurrikula
    5. Hoe jy studenteleer assesseer
    6. Jou bydraes tot jou departement, die Universiteit en gemeenskap
    7. Jou beroepsleer
  3. Bylaes met aanvullende materiaal wat die inligting in jou narratief dokumenteer of staaf, byvoorbeeld studenteterugvoer, studentesuksessyfers en portuurbeoordelings (interne en eksterne moderatore, 'n kollega, ensovoorts). Sluit ook verteenwoordigende voorbeelde van moduleraamwerke, kursusinhoud, assessering en onderrigbedrywighede in.

     4.       Hoe moet ek my portefeulje struktureer?
    Die portefeulje bestaan oor die algemeen uit jou nadenkende narratief en die bylaes wat by (3) hierbo uiteengesit word. Die elemente van die portefeulje word in bogenoemde volgorde gerangskik.

    5.       Wat word bedoel met “'n verklaring van my onderrigfilosofie"?
    'n Verklaring van jou onderrigfilosofie is 'n nadenkende narratief wat as die raamwerk vir jou portefeulje dien – 'n soort “goue draad" wat deur jou portefeulje loop. Dit verwoord jou persoonlike filosofie oor onderrig en jou studente se leer, en sluit jou oortuigings, doelwitte, waardes en praktyke in verband met onderrig en leer in. 
     
    Hou veral die volgende drie belangrike punte in gedagte:
  • Die verklaring van jou onderrigfilosofie is nie veronderstel om jou as 'n “volmaakte opvoeder" uit te beeld nie. Die gedagte is dat jy jou mislukkings sowel as jou suksesse aantoon, en veral ook hoe jou mislukkings tot jou suksesse gelei het. Daarom moet jy jou ontwikkeling as opvoeder naspoor.
  • Jou filosofie behoort verband te hou met literatuur oor onderrig in die hoër onderwys.
  • Jou filosofie behoort na die ander komponente van jou portefeulje te verwys.

    Die verklaring van jou onderrigfilosofie behoort sowat twee bladsye te beslaan.

    'n Nuttige bron in hierdie verband is Trinity College Dublin se “Writing a teaching philosophy statement" (https://www.tcd.ie/CAPSL/resources/teaching-philosophy-statements/).

    6.       Kan ek getuigskrifte insluit?
     Ja. Jy kan tot twee getuigskrifte van studente, portuur, jou departementele voorsitter, eksterne moderatore, ensovoorts in 'n bylae insluit. Verwys ook in jou narratief na hierdie getuigskrifte.

    7.       Kan ek studenteterugvoer insluit?
     Jy kan twee of drie voorbeelde van studenteterugvoer kies en in 'n bylae plaas. As jou narratief spesifiek verwys na studenteterugvoer waaruit jy iets geleer het, kan jy daardie terugvoer in 'n bylae insluit.

    8.       Hoe lank behoort my portefeulje te wees?
     'n Onderrigportefeulje behoort oor die algemeen nie langer as 50 bladsye te wees nie. Jou narratief behoort sowat 20 bladsye en jou bylaes ongeveer 30 bladsye te beslaan.

    9.       Moet ek my CV insluit?
     Jy kan 'n verkorte CV van sowat twee bladsye insluit wat op jou onderrig konsentreer. Die CV word aan die begin van die portefeulje geplaas.

    10.   In watter formaat moet my portefeulje wees?
     Jy kan jou portefeulje in hetsy Word-/pdf- of elektroniese formaat opstel. As jy om 'n toekenning of bevordering aansoek doen, sal daar dalk ander spesifieke vereistes wees waaraan jy moet voldoen.

    Meer inligting oor beskikbare elektroniese formate verskyn elders in hierdie portefeuljehandleiding. 

    11.   Waar kan ek om hulp aanklop?
    Kontak gerus die SOL-raadgewer in jou fakulteit, of e-pos dr Karin Cattell by kcattell@sun.ac.za.