pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​Departement WINGERD- EN WYNKUNDE​

​Hierdie departement is uniek, want dit is die enigste een by ’n Suid-Afrikaanse universiteit wat nagraadse studies oor wingerdbou en wynkunde en oor wingerd- en wynbiotegnologie onderneem

Wingerdbou

Navorsing draai om wingerdfisiologie, die ekofisiologie van korrelrypwording, en presisiewingerdbou, waaronder afstandswaarneming. Die konsep van terroir word ook as ’n geïntegreerde benadering tot druifgehalte in die konteks van ’n toegewyde wynstyl ondersoek. Tafeldruifkultivars word bestudeer as ’n belangrike deel van Suid-Afrikaanse wingerdproduksie. Die verbetering van wingerdmateriaal deur somatiese embriogenese en daaropvolgende genetiese transformasie, of deur die uitskakeling van virusse, is ’n belangrike bykomende fokus.

Wynkunde

Navorsing handel oor die invloed van verskeie wynmaakprosesse, waaronder reduksiebehandelings van wit sap en beheerde suurstofbyvoeging. Die invloed van wyngis en melksuurbakterieë op wynaroma, en die wisselwerking tussen die organismes, word ook bestudeer. Die fenoliese samestelling van druiwe, en hoe dít in die ooreenstemmende wyne weerspieël word, is ’n verdere studiegebied. Wynveroudering word bestudeer en geëvalueer met betrekking tot die chemiese profiel van die wyn. Alle navorsing streef daarna om enige faktore wat wynsamestelling, -styl en -gehalte beïnvloed te kontekstualiseer.

Wingerd- en Wynbiotegnologie

Die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynnavorsingsinstituut funksioneer oor fakulteite heen en aanvaar studente uit verskeie relevante akademiese omgewings. Die instituut se navorsingswerk skep nuwe kennis oor wingerd, gis en bakterieë, sowel as die genetiese verbetering van hierdie wynverwante organismes. ’n Verdere studiegebied is die gebruik van natuurlike antimikrobiese agense om die mikro-organismes wat wynbederf veroorsaak te stuit. Spanne studente en navorsers werk gewoonlik saam aan multidissiplinêre navorsingsprojekte en maak gebruik van moderne molekulêre benaderings wat spesifiek gegrond is op geïntegreerde hoëprestasie-omika-tegnologieë en gevorderde analitiese instrumente soos infrarooi spektroskopie, HPLC en GC-MS. 

Die doel van ons navorsing is om die volhoubare, omgewingsvriendelike en kostedoeltreffende produksie van druiwe en wyn van ’n hoë gehalte te verseker

NAGRAADSE KWALIFIKASIES
 HONNEURSGRADE  MAGISTERGRADE  DOKTORALE​GRA​DE
Aansoekproses