pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

NAGRAADSE Studies​​

      HOEKOM Stellenbosch?


​​

​​​​​​​​​​​​

ALGEMENE INGLIGTING

KAMPUSSE EN FAKULTEITE​

Die Universiteit Stellenbosch het vyf kampusse en tien fakulteite:

Die sentrale kampus is op die prentjiemooi universiteitsdorp Stellenbosch, in die hartjie van die Kaapse Wynland, geleë. Die kampus is sowat 50 km vanaf Kaapstad en 30 km vanaf die Kaapstadse internasionale lughawe.

Die sentrale kampus bevat agt fakulteite. Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe is op Tygerbergkampus langs die akademiese hospitaal Tygerberg in Parow geleë, en die Fakulteit Krygskunde – die enigste van sy soort in Suid-Afrika, en een van slegs twee in Afrika – by die Militêre Akademie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag op Saldanha. Die Stellenbosch Bestuurskool – deel van ons Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe – is op die Bellvilleparkkampus geleë. Ons vyfde kampus, op Worcester, is in 2012 geopen met die bekendstelling van die Ukwanda Landelike Kliniese Skool van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Hier kry studente in die geneeskunde en gesondheidswetenskappe die geleentheid om hulle kliniese opleiding op 'n landelike platform te ontvang. 


akademiese inligting​

Die Suid-Afrikaanse akademiese lewe is soortgelyk aan dié in Europa. Kursusse is 'n kombinasie van lesings en seminare met individuele laboratoriumtyd en biblioteekwerk. Studente spesialiseer reeds in 'n vroeë stadium en bestudeer een of twee dissiplines vir drie of vier jaar. Assessering in die meeste vakke bestaan uit deurlopende evaluering met opdragte, mondelinge, aanbiedings, een halfjaartoets en 'n jaareindeksamen. Honneursprogramme is oor die algemeen 'n kombinasie van klasmodules (met seminare en laboratoriumtyd) en 'n navorsingstesiskomponent. Magisterprogramme is hetsy 'n kombinasie van klasmodules (met seminare en laboratoriumtyd) en 'n aansienlike navorsingstesiskomponent, of slegs navorsing.

Die akademiese jaar bestaan uit twee semesters: die eerste van Februarie tot Junie, en die tweede van Julie tot November. Doktorale programme het 'n minimum registrasietydperk van twee jaar voordat die graad verleen kan word. Studente werk egter gewoonlik ongeveer drie jaar aan hulle doktorsgraad en doen onafhanklik navorsing onder leiding van 'n promotor. Doktorale kandidate in alle fakulteite moet 'n omvangryke proefskrif indien, en moet gewoonlik ook 'n mondelinge eksamen aflê.

Jy kan in sekere omstandighede jou krediete van 'n buitelandse universiteit na die Universiteit Stellenbosch oordra. Hou egter in gedagte dat ten minste 50% van jou krediete aan ons instelling verwerf moet word om jou graad hier te ontvang.


matie gemeenskapsdiens

Matie Gemeenskapsdiens (MGD) het ’n jare lange geskiedenis van studentevrywilligerwerk in die gemeenskappe rondom die Stellenbosch- en Tygerbergkampusse. Studente kan op verskillende maniere by vrywilligerwerk betrokke raak, onder meer deur​:

  • residensiële strukture;
  • verenigings
  • fakulteitskomitees​;
  • sportaktiwiteite;
  • MGD self (individuele studente wat graag betrokke wil raak​)​.

Studentevrywilligers volg 'n geakkrediteerde program om hulle vir vrywilligerwerk toe te rus en voor te berei.

Die kursus is geakkrediteer op vlak 6 van die Nasionale Kwalifikasieraamwerk en stel studente bekend aan:

  • die konsep van gemeenskapsontwikkeling
  • projekbestuur en innovasie; en
  • betrokke burgerskap teen die agtergrond van internasionale en nasionale ontwikkeling​.

Van die projekte waarby studente betrokke is, val onder die volgende kategorieë​:

  • Onderwys (mentorskap)
  • Leierskap en lewensvaardighede
  • Gesondheidsbevordering en -bewusmaking
  • Kuns (handwerk en drama)
  • Sport
  • Omgewingsbewusmaking

maties hands.png
Die geakkrediteerde kursus en studente se gemeenskapswerk ontvang amptelike erkenning van die US en verskyn op studente se ko-kurrikulêre transkrip.​

Vir verdere inligting of om betrokke te raak, kontak Renee Hector Kannemeyer.


huisvesting

Sowat 330 van die Universiteit se nagraadse studente maak van ons huisvesting op Stellenboschkampus gebruik. 

Let daarop dat toelating tot 'n akademiese program nie plasing in Universiteitshuisvesting waarborg nie. Alle studente moet afsonderlik om huisvesting aansoek doen.

Twee tipes huisvesting is beskikbaar:

  • Huisvesting wat deur die Universiteit bestuur word – in die vorm van kamers in studentehuise en gemeubileerde woonstelle. Studente voorsien hulle eie beddegoed en breekware, en geen etes word verskaf nie. Alle eenhede is met rekenaarnetwerkpunte toegerus.
  • Huisvesting wat deur agente of privaat eienaars voorsien word​.

Huisvesting (wat nie deur die Universiteit bestuur word nie) word in verskeie publikasies en op aanlyn mediaplatforms geadverteer​:

  • Raadpleeg die snuffelgids in die plaaslike koerant (Eikestadnuus)
  • Gaan na die webtuiste van US Internasionaal vir ’n lys verhuringsagentskappe​.


Internationale studente​

As nagraadse student, het jy ’n aantal moontlikhede wat huisvesting betref: Jy kan in kamers of woonstelle van Universiteit Stellenbosch Internasionaal woon, of dalk verkies jy privaat verblyf. Universiteit Stellenbosch Internasionaal probeer namens studente optree, en sal jou so ver moontlik bystaan om aanvaarbare huisvesting op te spoor​.

Kontakbesonderhede
Mnr Grant ​Leukes
interhouse@sun.ac.​​​za
021 808 4207​


Suid-Afrikaanse studente

Voornemende Suid-Afrikaanse studente wat vir ’n plek in Universiteitshuisvesting in aanmerking wil kom, moet dít in afdeling E van die nagraadse aansoekvorm aandui wanneer hulle om toelating aansoek doen. Let daarop dat alle huisvesting selfsorg is​.

Kontakbesonderhede
 Koshuisplasingskantoor
 info@sun.ac.​​​za
 021 808 9111​


vervoer

Indien jy daarin belang stel om Suid-Afrika te verken of dalk net op ’n kort uitstappie wil gaan, is daar heelwat moontlikhede om op Stellenbosch of in Kaapstad ’n motor vir ’n naweek of langer te huur. Jy kan ’n motor huur indien jy 21 of ouer is en oor ’n geldige rybewys beskik. As jy beplan om maande lank op Stellenbosch te bly, kan dit selfs goedkoper wees om ’n motor te koop en weer te verkoop wanneer jy vertrek​.

Bus-, spoor- en lugvervoer

Hoewel daar geen busdiens tussen Stellenbosch en Kaapstad is nie, kan jy ’n trein haal. Vir verdere inligting oor koste en die treinrooster, raadpleeg die webtuiste van Metrorail. Vir langer afstande is daar bus-, trein- of lugvervoer. Met ’n studentekaart sal die trein die goedkoopste vervoer wees, maar dit duur heelwat langer as die bus, of as ’n vlug vir baie lang afstande. Daar is ’n aantal busdienste en lugrederye in Suid-Afrika – kyk gerus aanlyn vir inligting en besprekings​.