pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

NAGRAADSE Studies​​

      hoekom Stellenbosch?




​​​​​​​​​​​​​

belangrike plekke/fasiliteite 

rekenaarfasiliteite​

Verskeie rekenaarsentrums op kampus bied rekenaars met internettoegang vir studente se gebruik. Toegang tot die netwerk is eers ná registrasie beskikbaar, en vereis ’n gebruikernaam en wagwoord. Hoewel jy ná registrasie voltyds toegang tot die rekenaarsentrum sal hê, kan jy ook jou eie skootrekenaar saambring, wat jy by die Universiteit se Afdeling IT vir netwerktoegang kan registreer​. 

Jou studentekaart bied toegang tot die rekenaarsentrums op kampus. Aansluitingspunte vir persoonlike en skootrekenaars is in die meeste universiteitskoshuise beskikbaar. ’n Vorm (op die webtuiste van die Afdeling IT) moet voltooi word om aansoek te doen om by die netwerk aan te sluit. Studente kan vir die rekenaarfasiliteite by die onderskeie rekenaarkamers hieronder registreer. Die registrasiefooi word jaarliks bepaal en per semester gehef​.

Die fooi sluit onbeperkte e-postoegang in, maar ’n ekstra fooi moet betaal word vir toegang tot eksterne webtuistes. Toegang tot die Universiteit Stellenbosch se tuisblad is gratis. Let daarop dat die rekenaarsentrum wat jy gebruik, afhang van die fakulteit waarin jy studeer. As jy in jou akademiese departement rekenaartoegang sal hê, is dit goedkoper om nie by ’n rekenaarsentrum óók te registreer nie​.


Fakulteit
​L​​igging

Lettere en Sosiale Wetenskappe, Regsgeleerdheid, Opvoedkunde, Teologie

Humarga

Letteregebou
Derde verdi​eping

AgriWetenskappe, Natuurwetenskappe

NARGA
Admin A

Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

FHARGA

Rekeningkunde en Statistiek

Ingenieurswese 

FIRGA
Ingenieurswesegebou

 

universiteit STELLENBOSCH biblioteek

Die Universiteit Stellenbosch Biblioteek is een van die grootste ondergrondse biblioteke ter wêreld. Dit bevat meer as 600 000 fisiese boeke en gebinde tydskrifte. Die totale vloerruimte is so groot soos drie rugbyvelde (17 000 m2). Daar is studieruimtes vir meer as 1 400 studente, en 27 studiehokkies vir nagraadse studente. Verskeie seminaarkamers vir gespreksgroepe is ook te kry (moet vooraf by ontvangs bespreek word)​. 

Van die US Biblioteek se versamelings word buite die hooffasiliteit, elders op die Stellenboschkampus, gehou, maar alles is op ’n rekenaardatabasis gekatalogiseer. Boonop is daar ’n hele paar ander satellietbiblioteke om die verskillende fakulteite te bedien, waaronder die Teologiebiblioteek, die Regsbiblioteek en die Mediese Biblioteek by Tygerberg. Die Konservatoriumbiblioteek het ’n groot musiekversameling waarna jy in individuele luisterhokkies kan luister, sowel as ’n uitgebreide versameling bladmusiek. Raadpleeg die webtuiste van die US Biblioteek vir toegang tot aanlyn databasisse en vaktydskrifte, en om boeke op reserwe te plaas en tussenbiblioteeklenings aan te vra. Die afdeling vir nasionale en internasionale tydskrifte en koerante is op die onderste verdieping geleë. Daar is ook ’n fotokopieerkamer op die boonste verdieping. Die kopieermasjiene werk met jou studentekaart. Geregistreerde studente het hulle studentekaarte nodig om die biblioteek binne te gaan en boeke uit te neem.

As jy nie een van die biblioteekpersoneellede van aangesig tot aangesig kan spreek nie, gebruik gerus ons e-navraagstelsel, Vra ’n bibliotekaris.

Die biblioteek is gesluit op openbare vakansiedae en op die eerste en laaste Saterdag van die jaar. Veranderinge aan biblioteektye word gewoonlik ​by die ingang geadverteer, maar is ook te kry by: https://libguides.sun.ac.za/h​ours​.

Vir verdere inligting oor die US Biblioteek en sy dienste, gaan na https://library.sun.ac.za/af-za/Pages/Home.aspx​.​​​

 

die LANGENHOVEN-STUDENTesentrum (NEELSIE)

Die Langenhoven-studentesentrum, wat beter bekend is as die Neelsie, is die sosiale hartklop van die kampus. Dit heet na die Afrikaanse skrywer CJ Langenhoven, wat ook aan die Universiteit studeer het. Hierdie moderne sentrum bied studente ’n wye verskeidenheid kommersiële, finansiële en vermaakdienste. Die kossaal het sitplek vir 1 200 studente, en die verskillende kos- en kitskoswinkels het iets vir elke smaak, van volledige tuisgekookte etes tot ligte maaltye en wegneemkos. Daar is ook ’n aantal koffiewinkels, avontuur- en reiswinkels, gesondheid- en skoonheidswinkels, boekwinkels, ’n geriefswinkel, ’n wassery, klereboetieks, heelwat geskenkwinkels en ’n paar akademiese en sakedienste. Jou studentekaart bied jou toegang tot die fotostaatmasjiene in die fotokopieerkamer in die Neelsie. Standard Bank, Absa Bank, Nedbank en Eerste Nasionale Bank (FNB) het boonop takke in die sentrum. Absa bied valutadienste. Jy kan by enige van hierdie banke ’n rekening open en die kitsbankfasiliteite gebruik​.

Banktye:

Nedbank
Maandag tot Vrydag 09:00 – 15:30

Standard Bank
Maandag tot Vrydag 09:00 – 15:30
Saterdag 08:30 – 11:00

Absa Bank
Maandag tot Vrydag 08:00 – 15:30

First National Bank
Maandag tot Vrydag 09:00 – 15:30

Wat het ek nodig om ’n bankrekening te open?

  • Paspoort
  • Bevestigingsbrief dat jy by die Universiteit geregistreer is (te key by US Internationaal)
  • Bewys van woonadres

Op die boonste verdiepings van die Neelsie is daar 'n danssaal, twee eetsale, die kantore van die Studenteraad, verskeie klubs en verenigings, die redaksiekantoor van die studentekoerant Die Matie, 'n uitsaai-ateljee vir die kampusradiostasie MFM (skakel in by 92.6 FM), 'n donkerkamer vir die Fotografieklub, en 'n restaurant. 

Die Matieland-poskantoor is ook in die Neelsie geleë.

Poskantoortye:
Maandag, Dinsdag, Donderdag en Vrydag 08:30–16:30
Woensdag 09:00–16:30, Saterdag 08:00–12:00
Pos word 13:00 op weeksdae gehaal.