pgstudies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

nagraadse Studies​​

      HOEKOM​ Stellenbosch?




​​​​​​​​​​​​​

​StudentELEWE

GODSDIENS​

Stellenbosch bied verskeie moontlikhede vir studente van verskillende geloofsgemeenskappe. Die dorp het ’n aantal kerke, sowel as ’n sinagoge en moskee​.

vermaak

Om op ’n wyntoer te gaan is een van studente se gunstelingtydverdrywe. Stellenbosch is omring deur pragtige wingerde, en baie van die plase bied gratis wynproesessies vir die publiek aan. Die meeste bedien ook koffie of selfs iets te ete. Brosjures oor die verskillende wynroetes in die streek is by die meeste toerisme-agentskappe te kry. Wees ook op die uitkyk na kos- en wynfeeste in die Stellenbosch-omgewing. Vir verdere inligting, raadpleeg die webtuiste van Stellenbosch Wynroetes​.

Stellenbosch is ’n lewendige dorp met heelwat aktiwiteite vir oud én jonk. ’n Eklektiese versameling restaurante en kroeë, prentjiemooi wynplase, teaters en konsertsale sal sorg dat jy altyd iets het om jou mee besig te hou. Vir verdere inligting oor wat tans op Stellenbosch aan die gang is, gaan na die webtuiste Vibescout.


restaurante​

Die wye verskeidenheid restaurante, koffiewinkels en kitskoswinkels deur die hele Stellenbosch het iets vir elke smaak en begroting. Die gebied rondom Dorp-, Kerk-,Andringa- en Ryneveldstraat is veral feestelik, en jy sal heelwat toeriste hier aantref wat buite oor ’n bord kos, koppie koffie of glas wyn kuier​.


sport en ontspanning​

As jy sport geniet, is die Universiteit Stellenbosch die ideale plek om te studeer. Die Universiteit is trots op sy geskiedenis van uitmuntende sportprestasies. Die tuiste van sport is Coetzenburg, waar nie net provinsiale en nasionale spelers hulle talent slyp nie, maar waar duisende studente ook net vir ontspanning en pure pret aan 'n verskeidenheid sportsoorte deelneem. Coetzenburg is tussen Stellenboschberg en die Eersterivier geleë en kyk uit oor die asemrowende bergtonele van die Jonkershoekvallei, wat dit een van die voorste sportkomplekse in die land maak. Dit dien ook as 'n oefenterrein vir internasionale superatlete.

Die Universiteit het meer as 20 mededingende sportklubs vir prestasiesport. Maties Rugby, wat in 1880 gestig is, is die oudste en gewildste, en het al ten minste 150 Springbokspelers en nie minder nie as elf Springbokkapteins opgelewer. Ons ander klubs, veral atletiek en hokkie, het ook al diep spore in die sportwêreld getrap.

Die Universiteit bied die volgende sportsoorte aan: atletiek, pluimbal, basketbal, kanovaart, krieket, landloop, fietsry, duik, skerm, gholf, gimnastiek, hokkie, perdry, judo, skerpskutterskuns, netbal, valskermspring, roei, rugby, sokker, muurbal, branderry, swem, gesinchroniseerde swem, tafeltennis, tennis, driekamp, onderwatersport, vlugbal, waterpolo en stoei​.

verenigings​

Daar is 'n wye verskeidenheid verenigings wat deur studente met gemeenskaplike belangstellings gestig en bedryf word. Dít sluit in 'n voetslaanklub, verskeie godsdienstige verenigings, en klubs vir digkuns, drama, rolprente en baie meer. Nader gerus die Studenteraadskantoor (op die derde verdieping van die Neelsie) vir kontakbesonderhede van die verskillende verenigings.

Klik hier vir 'n lys verenigings​.​​​​​​​​​​​