Centre for Learning Technologies
Welkom by Universiteit Stellenbosch

TOEREKENING: ikone onder lisensie deur Adobe Stock Images

modes-afr.jpg

Vermengde leer as oorhoofse benadering wat op verskillende verskaffingsmodusse toepaslik is​

Alle verskaffingsmodusse – hetsy van aangesig tot aangesig (F2F), hibridiese leer (HL) of volledige aanlyn leer (FAL) – kan 'n vermenging van metodes en tegnologieë van F2F-onderrig, ‑leer en ‑assessering behels om leer in 'n bepaalde konteks te fasiliteer. Aan die US verstaan ons vermengde leer (VL) as die sistematiese, sinvolle en konteksresponsiewe vermenging van verskillende pedagogiese benaderings, onderrigmetodologieë en toepaslike digitale tegnologieë in kombinasie met die beste kenmerke van F2F-interaksie. Gevolglik kan vermengde leer as 'n breë begrip van hedendaagse onderrig, leer en assessering beskou word (Hrastinski, 2019) wat die proses van kurrikulumontwerp vir F2F, HL en FAL kan rig, verryk of bemiddel. Daarby kan VL ook die plek (in die klaskamer of 'n elektroniese ruimte) en die medium (d.w.s. of die tegnologie wat benut word internetafhanklik of internetondersteund is) van onderrig bepaal (Czerniewicz, 2022).

Voorbeelde van VL-benaderings is die omgekeerde klaskamer (waar studente bv. 'n podsending moet kyk voordat hulle 'n klas bywoon) en ARTLA, wat tydens die Covid-10-pandemie gebruik is. 

Verdermeer, vermengde leer as 'n oorhoofse pedagogiese benadering maak voorsiening vir 'n kombinasie van sinchrone van aangesig tot aangesig (intydse skakeling tussen studente en 'n dosent/tutor in 'n spesifieke ruimte op dieselfde tyd, hetsy van aangesig tot aangesig of virtueel) of asinchrone aanlyn leer (vanaf verskillende liggings, op verskillende tye en teen eie tempo). Vermengde leer erken steeds die beste kenmerke van aangesig tot aangesig leer, met 'n kombinasie van gepaste aanlyn betrokkenheid om die leerervarings van studente te verryk en te ondersteun. In hierdie oorhoofse benadering van toepassing op verskeidenheid van verskaffingsmodusse, werk die SLT en vermengde leer koördineerders (VLK's) in die fak​ulteite nou saam om onderrig, leer en assessering met leertegnologieë uit te brei.

Deur middel van vermengde leer poog ons om leergeleenthede vir studente te skep wat andersins onmoontlik sou gewees het in konvensionele van aangesig tot aangesig- of aanlynkursusse. Ons doen dit met behulp van leertegnologieë (bv. SUNLearn en MS Teams om slegs 'n paar te noem).

Uitgebreide afstandsonderrig, -leer en -assessering (ARTLA)

​Die wêreldwye COVID-19-krisis het binne ’n uiters kort tydperk ’n aantal groot verskuiwings in die hoër onderwys teweeggebring. Soos die meeste ander instellings, moes die US ook vinnig na ten volle aanlyn aanbieding oorslaan met die skielike opskorting van kampusaktiwiteite om die verspreiding van die virus te keer. Dit is egter belangrik om daarop te let dat aanlyn onderrig, leer en assessering in ’n krisistyd en die konvensionele ontwikkeling van ten volle aanlyn kursusse twee verskillende benaderings is. Nietemin kan die een by die ander aansluit: Deur voort te bou op die nuwe kennis wat ons gedurende die krisis opgedoen het, en op die praktyke en benaderings wat ons ontwikkel het, kan ons die weg vir sinvolle en volhoubare gemengde, hibridiese of ten volle aanlyn leer in die toekoms baan. Die lesse wat ons in dié tyd geleer het, kan ook in die toekoms ’n invloed op moontlike veranderinge in ons volkontakaanbod hê.​

In 2021 het die US beweeg van die ERTLA van 2020 na die huidige Uitgebreide (eerder as Nood) Afstandsonderrig, -Leer en -Assessering (ARTLA). 'n Gedifferensieerde benadering, met 'n mengsel van GL-, HL- en aanlyn leer (AL)-komponente, word gevolg. Daar is buigsaamheid aan die US oor die toepassing van ARTLA en 'n uniforme benadering sal nie deur al die fakulteite gevolg word nie. Raadpleeg gerus 'n adviseur by die SLT, 'n GLK in u fakulteit of die Leertegnologieë Ondersteuningspan vir verdere konsultasie.​


Leer van aangesig tot aangesig (F2F) oftewel volledige‑kontak-leer

Geskik vir kredietdraende én niekredietdraende, akademiese én nieakademiese aanbiedings

As die verskaffingsmodus F2F is, word die module of program in 'n fisieke klaskamer of fasiliteit aangebied, meestal deur dosente/fasiliteerders vir studente wat persoonlik teenwoordig is. Die meeste summatiewe assesserings vind op kampus plaas (in baksteen-en-sement-fasiliteite). Die meeste onderrig, leer en assesserings word steeds op kampus of in die klaskamer gefasiliteer aan die hand van die tradisionele klasrooster waarvolgens studente daagliks leergeleenthede op kampus bywoon. F2F-leer- en ‑onderrigprogramme is tans die formaat waarin die meeste US-modules aan voltydse studente aangebied word. F2F-leer voorsien vir verskillende onderrig-en-leermetodologieë, en kan 'n vermenging van tradisionele klaskamermetodes en aanlyn interaksie insluit (Cronje, 2020; Hrastinski, 2019). ​

Vir bystand en/of ondersteuning vir hierdie wyse van aanbieding, kontak asseblief u fakulteitsad​viseur by die Sentrum vir Onderrig en Leer.


Hibridiese leer (HL)

Geskik vir kredietdraende én niekredietdraende, akademiese én nieakademiese aanbiedings

Hibridiese leer, ook bekend as hibridiese 'blokmodus'-leer, behels dat 'n akademiese program of module vir volgehoue periodes volledig aanlyn gelewer word, aangevul deur minder of korter maar nietemin hoogs betrokke en interaktiewe periodes ('kalenderblokke') met (F2F-)kontaksessies op kampus (Czerniewicz, 2022;, McCluskey et al. 2019, Samarawickrema & Cleary, 2021; Weissmann et al., 2021). 

Die kalenderblokke[1] van aanlyn leer sal waarskynlik hoofsaaklik uit asinchroni​ese leer bestaan, wat studente die buigsaamheid toelaat om teen hulle eie pas te leer met behulp van stellasiewerk en studieleiding by wyse van aanlyn leergeleenthede. Die ideaal is egter dat aanlyn leer ook sinchroniese afstandsleergeleenthede insluit, soos webinare en aanlyn assesserings. Sulke intydse sessies word ingereken by die minimum kontak tyd (Raad op Hoër Onderwys [RHO], 2014) wat die DHOO vereis.

Die ‘’blokmodus’-klasroosterontwerp van HL-aanbiedings is bedoel om studente te voorsien van ’n betrokke maar buigsame leerervaring wat nie van hulle verg om voltyds op kampus te wees nie. Dit verbeter toegang vir nieresidensiële geleentheidstudente, werkende professionele persone en ander studente wat nie gereeld na ons kampus kan reis of voltyds hier kan woon nie. Aangesien die HL-model dit moontlik maak om kontaksessies op kampus tydens resestye te skeduleer, kan dit ook voorsien in die behoeftes van residensiële studente wat verdere-geleentheid-modules moet afhandel.

Wanneer leiers 'n program en module(s) voorstel wat 'n HL-verskaffingsmodus gaan gebruik, moet hulle 'n HL-leerstrategie in die moduleontwerp insluit (via die modulespesifikasiedokument, Vorm​ B) om te verseker dat die program of module die volgende in ag neem:

  • die minimum voorgeskrewe sinchroniese ure vir die soort kwalifikasie;
  • hoe die program vir asinchroniese leergeleenthede gaan voorsien, en watter leergeleenthede die gepasste sal wees om leer in die betrokke vakgebied/dissipline te verryk;
  • watter sinchroniese leergeleenthede aanlyn gefasiliteer kan word (en hoe); en
  • watter geleenthede vir kennisverwerwing ideaal gesproke op kampus moet plaasvind (bv. oriëntering en praktiese/laboratoriumwerk).​

1 'n Hibridiese klasrooster bestaan gewoonlik uit (i) langer kalenderblokke van volgehoue aanlyn leer en (ii) korter periodes van lesings op kampus. 'n Klasrooster in so 'n blokformaat is bedoel om besonder gepas te wees vir werkende professionele persone en studente wat nie kan bekostig om op kampus te woon of gereeld heen en weer te reis nie.

Lees hier meer oor HL.​


Volledige aanlyn leer (FAL)

Geskik slegs vir niekredietdraende aanbiedings (waaronder kortkursusse en leer​eenhede)

Die hele aanbod is doelbewus by voorbaat ontwerp om volledig aanlyn via digitale tegnologie aangebied te word. FAL staan ook as afstandsonderrig of afstandsleer bekend (Fresen, 2018). Onderrig‑, leer‑ en assesseringsaktiwiteite geskied hoofsaaklik asinchronies (meer as 30% van veronderstelde ure) omdat dit studente in staat stel om op verskillende tye en plekke met leermateriaal om te gaan. Die leerontwerp kan nietemin pedagogieë insluit wat vir beperkte sinchroniese studentebetrokkenheid voorsien. Hierdie soort kontak word gewoonlik met behulp van 'n aanlyn platform geskeduleer. 

Aangesien die US nie geakkrediteer is om kredietdraende modules of programme volledig aanlyn aan te bied nie, is hierdie leweringsmodus slegs vir nieakademiese en niekredietdraende aanbiedings, soos leereenhede en kortkursusse, beskikbaar. Die Universiteit se akademiese aanbiedings moet aan die minimum voorgeskrewe kontaktyd voldoen wat vir residensiële instellings geld, en sluit opkampus omgang met fasiliteerders in.*​

*Tydens die Covid-19-pandemie is alle HOI's as 'n uitsonderingsmaatreël toegelaat om hulle programme aanlyn aan te bied. Lees hier meer oor ARTLA.​

​​​​​​​​​​​Om die volledige dokument: ʼn Oorsig van verskaffingsmodusse aan die Universiteit Stellenbosch wat deur die Komitee vir Leer en Onderrig op 18 Augustus 2022 goedgekeur is, af te laai, klik hier.​

​​​​​​​​​