Centre for Teaching & Learning
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Kriteria vir Beloning, Erkenning en Bevordering van Onderrig

​​​​​​​​ 

Die Universiteit Stellen​​​​​​bosch ​Toekennings Vir Uitnemende Onderrig 2020​

​​​


1. INLEIDIN​G​

​​​Die voorgestelde instrument vir sodanige erkenning van uitnemende onderrig was “'n aantal toegewyde interne institusionele toekennings wat spesifiek erkenning gee aan onderrigprestasies, met die HELTASA-toekennings as 'n belangrike verwysingspunt". In antwoord op daardie aanbeveling is 'n stelsel van institusionele toekennings vir uitnemende onderrig in 2017 ingestel.
​ 

1.1 Goeie en uitnemende onderrig

Ingevolge die US se Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) is goeie onderrig die verwagte norm aan die Universiteit: “Goeie onderrig word in enige stadium van hulle loopbane van alle akademici vereis." “Goeie onderrig" “is onderrig wat:

  • doeltreffende, aktiewe leer fasiliteer, d.w.s. leer wat tot hoë studentesuksessyfers[1] lei en (module- en program)uitkomste van 'n hoë standaard lewer, en terselfdertyd
  • 'n bekostigbare vlak van hulpbronne (soos personeeltyd, studentetyd en fisiese infrastruktuur) vereis, ook gedagtig aan die vereistes van navorsing en gemeenskapsinteraksie".

      (Aanbevelings van die Taakgroep oor die Bevordering en Erkenning van Onderrig, 2015:4) 

“Goeie onderrig" is sinoniem met reflektiewe praktyk (sien Afdeling 3):

Nadenkende praktisyns besin doelbewus en krities oor hulle onderrigpraktyk, en hersien en dokumenteer hulle professionele groei stelselmatig.
(Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5) 

Hoewel goeie onderrig oor alle stelsels van die Universiteit heen erken word, word uitnemende onderrig erken, beloon én bevorder (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5). Die omskrywing van uitnemende onderrig in die kriteria vir die nasionale HELTASA-toekennings vir uitnemendheid in onderrig en leer (2018:1) is as 'n riglyn vir hierdie dokument aanvaar en aangepas:

'n Uitnemende dosent is bewus van hul konteks (wat verder strek as die onmiddellike omgewing) en dink na oor die maniere waarop hul vakrigting, instelling, eie geskiedenis en studente se lewenservarings onderrig en leer beïnvloed. 'n Uitnemende dosent is 'n nadenkende praktisyn wat oor 'n aantal jare meer doeltreffend geword het wat betref kennis van onderrig en leer, ervaring van onderrig en die fasilitering van leer, en stelselmatige waarnemings van wat in die klaskamer gebeur (onder meer hoe eksterne faktore studente raak) met die oog daarop om studentebetrokkenheid en leeruitkomste te verbeter. 'n Uitnemende dosent toon ʼn gewilligheid om met nuwe middele tot hul beskikking te eksperimenteer en integreer innoverende praktyke in hul onderrig. 'n Uitnemende dosent beskik oor 'n duidelik verwoorde onderrigfilosofie wat op opvoedkundige teorie berus en vir 'n universiteitsonderrigkonteks geskik is. Ervaring van onderrig kan sowel voor- as nagraadse vlakke insluit. “Onderrig" kan in die breë vertolk word as onder meer kurrikulumontwerp en -lewering, waarvan laasgenoemde in die klas, aanlyn of deur materiaalontwikkeling kan geskied. 

Die US toekennings vir uitnemende onderrig is derhalwe 'n geleentheid om uitnemende onderrig aan die Universiteit te erken, te beloon en te bevorder.

1.2 Uitgangspunte

Die uitgangspunte sluit die volgende in:

  • ​'n Versoek vir benoemings vir die institusionele toekennings vir uitnemendheid in onderrig word jaarliks gedurende die eerste kwartaal of vroeg in die tweede kwartaal onder die akademiese gemeenskap van die Universiteit Stellenbosch (US) versprei, met die oog op oorhandiging van die toekennings teen die einde van die akademiese jaar.
  • ​Die getal toekennings per fakulteit word by benadering bepaal op grond van die getal voltyds-ekwivalente permanente en tydelike onderrigpersoneel (met inbegrip van personeellede van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe wat uit die provinsiale begroting vergoed word). Die getal kandidate wat elke fakulteit vir hierdie toekennings kan aanwys, is dus soos volg:
    • ​Krygskunde, Teologie, Regsgeleerdheid en Opvoedkunde: een kandidaat elk
    • AgriWetenskappe, Ingenieurswese en Natuurwetenskappe: twee kandidate elk
    • Geneeskunde & Gesondheidswetenskappe, Lettere & Sosiale Wetenskappe, en Ekonomiese & Bestuurswetenskappe: vier kandidate elk.
  • Die toekennings word in twee kategorieë aangebied, naamlik Ontluikende Dosent en Uitgelese Dosent. (Meer besonderhede oor die twee kategorieë is onder Afdeling 3 beskikbaar.)
  • In sowel die Ontluikende Dosent as die Uitgelese Dosent kategorie word uitnemende onderrig primêr aan die hand van 'n onderrigportefeulje beoordeel. (Meer besonderhede oor die onderrigportefeulje is onder Afdeling 5 beskikbaar.)
  • Kandidate in beide die Ontluikende Dosent en Uitgelese Dosent kategorieë word na ʼn onderhoud met die institusionele keuringskomitee genooi. (Meer besonderhede oor die onderhoud is onder Afdeling 4 beskikbaar.)
  • Kandidate in die Uitgelese Dosent kategorie doen ʼn kort aanbieding vir die institusionele keuringskomitee. (Meer besonderhede oor die aanbieding is onder Afdeling 4 beskikbaar.)
  • Kandidate in die Uitgelese Dosent kategorie sluit ʼn verslag van ʼn ewekniewaarneming van minstens een kontaksessie by hul portefeulje in. (Raadpleeg asseblief 5.3.2 a).)
  • Eweknieterugvoer van kollegas wat ʼn verslag van die waarneming van minstens een kontaksessie insluit
  • Die kriteria vir die beoordeling van uitnemende onderrig strook met die kriteria vir die nasionale HELTASA-toekennings vir uitnemendheid in onderrig en leer.
  • Fakulteite se keuringsproses behoort teen die einde van die derde kwartaal van die akademiese jaar afgehandel te wees.
  • 'n Institusionele aankondiging van die suksesvolle kandidate word gedurende die vierde kwartaal gedoen en by 'n plegtigheid teen die einde van daardie kwartaal gevier.
  • Die toekenningsbedrag kan van tyd tot tyd aangepas word na gelang van die beskikbare finansiering, maar word op R25 000 per toekenning vasgestel.
  • Die toekennings word in die suksesvolle kandidate se salarisrekeninge inbetaal. Belasting word vanselfsprekend afgetrek.
​ ​

​​2. ​​​DOELWITTE VAN DIE TOEKEN​NINGS

Die doelwitte van die toekennings is:

  • om op institusionele vlak steun aan uitnemende onderrig en leer in die hoër onderwys te toon;
  • om 'n akademiese korps te skep wat in hulle vakrigtings én oor die instelling heen inspirasie en leiding in onderrig en leer kan bied;
  • om gesprekvoering oor, en openbare bewustheid van, die betekenis van uitnemende onderrig vir die wêreld eerder as in die wêreld[2] aan te moedig;
  • om die akademieskap[3] van onderrig en leer te bevorder;
  • om die ontwikkeling van professionele dosente in die hand te werk; en
  • om waardering te skep vir lesse wat geleer word in plaas daarvan om slegs aan suksesse waarde te heg.
​ ​

​ ​3. ​​GE​​SKIKTHEID

Alle personeellede wat onderrig gee – sowel permanente as kontrakaanstellings – kom vir hierdie toekennings in aanmerking.

Slegs individuele aansoeke word aanvaar.

Volgens die Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) ontwikkel dosente se onderrigrol “van nadenkende praktisyns, tot vakkundige opvoeders, wat dan onderwysvakkundiges en uiteindelik toonaangewende onderwysvakkundiges word." Nadenkende praktyk word as sinoniem met “goeie onderrig" beskou (sien omskrywing onder Afdeling 1) en is die norm aan die US. “Nadenkende praktisyns" word dus oor die Universiteit heen as goeie dosente erken, maar kom nog nie vir 'n toekenning vir “uitnemende onderrig" (sien omskrywing onder Afdeling 1) in aanmerking nie.

Die toekenning vir Ontluikende Dosent is bedoel vir akademici wat in hulle onderrig as “vakkundige opvoeders" optree: 

Nadenkende praktisyns besin doelbewus en krities oor hulle onderrigpraktyk, en hersien en dokumenteer hulle professionele groei stelselmatig. Vakkundige opvoeders put boonop uit opvoedkundige literatuur om oor hulle onderrigpraktyk en professionele groei na te dink, en beweeg ook verder as persoonlike besinning na waarneming en portuurbeoordeling van hulle onderrig.
(Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5)

Die toekenning vir Ontluikende Dosent kan slegs eenmalig ontvang word.

Die toekenning vir Uitgelese Dosent is bedoel vir akademici wat in hulle onderrig as “onderwysvakkundiges" of “toonaangewende onderwysvakkundiges" optree:

Onderwysvakkundiges vors hulle onderrigpraktyk na en dokumenteer hulle professionele groei met die oog daarop om hulle bevindinge in die openbaar te publiseer en tot bestaande onderrig- en leerkennis by te dra. Toonaangewende onderwysvakkundiges dra deur publikasie tot bestaande onderrig- en leerkennis by en bied institusionele, nasionale en internasionale leierskap op die gebied van onderrigpraktyk.
(Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5)

Die toekenning vir Uitgelese Dosent kan een keer elke vyf jaar ontvang word.

'n Individu behoort self die toekenning te identifiseer waarom hulle aansoek wil doen en moet dit op die dekblad van die aansoek aandui. ('n Templaat vir die dekblad sal voorsien word.) Die fakulteits- of institusionele keuringskomitee kan nietemin 'n aansoek na 'n ander kategorie verskuif, met ander woorde, 'n aansoek kan van die vlak van Ontluikende Dosent na dié van Uitgelese Dosent verskuif word, of andersom. Indien die institusionele keuringskomitee 'n kandidaat se portefeulje as “belowend" eerder as “ontwikkelend" of “uitnemend" beskou (sien Afdeling 6), vergeleke met ander portefeuljes op dieselfde vlak, kan die aansoek vir verdere portefeulje-ontwikkeling na die betrokke fakulteit terugverwys word.

​ ​

 4.  AANSOE​​K- EN KEURINGSPROSES

  • Die kantoor van die Viserektor (Leer en Onderrig) stuur die versoek vir aansoeke gedurende die eerste kwartaal of vroeg in die tweede kwartaal van die akademiese jaar aan die Dekane en Visedekane (Onderrig en Leer) (of gelykstaande persone) van elke fakulteit. Die versoek sit die doelwitte van die toekennings en die prosesse vir die toekenning daarvan uiteen.
  • Die Dekane en Visedekane (Onderrig en Leer) (of gelykstaande persone) van elke fakulteit word gevra om die versoek onder alle akademiese personeellede (permanente en kontrakaanstellings) te versprei.
  • Elke fakulteit identifiseer moontlike benoemdes en reël hulle eie interne prosesse om kandidate te kies. (Kandidate kan ook hulleself benoem.) Die fakulteitskeuringskomitees behoort die SOL-adviseur vir die fakulteit in te sluit. Daar word aanbeveel dat die fakulteitsindieningsdatum 24 Augustus 2020 behoort te wees.
  • Fakulteite moet op die dekblad, wat voorsien sal word, aandui of hulle kandidate om die toekenning vir Ontluikende Dosent of Uitgelese Dosent aansoek doen. (Raadpleeg Afdeling 3 en 5 vir riglyne oor die twee toekennings.)
  • Ooreenkomstig die Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) word die onderrigportefeulje as hoofinstrument gebruik om uitnemende onderrig te beoordeel. Die adviseurs van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) in die fakulteite bied ondersteuning met portefeulje-ontwikkeling op versoek.
  • Elke fakulteit se gekose kandidaat/kandidate berei 'n portefeulje voor wat aan die kriteria vir uitnemende onderrig in die versoek vir aansoeke voldoen. (Sien Afdeling 5 en 6.) Die kandidaat/kandidate word aangemoedig om SOL of ander eweknieë vir kritiese raad en terugvoer te nader.
  • Fakulteitskeuringskomitees moet hulle kandidaat/kandidate van terugvoer oor hulle portefeuljes voorsien én genoeg tyd gun om hulle portefeuljes voor die finale indieningsdatum, naamlik 30 September 2020, te hersien.
  • ​'n Institusionele keuringskomitee van kollegas uit die Afdeling Leer- en Onderrigverryking sowel as alle Visedekane (Onderrig en Leer) word deur die Viserektor (Leer en Onderrig) of hul afgevaardigde aangestel en gelei. Hierdie komitee beoordeel kandidate se onderriguitnemendheid op die volgende maniere:
    • 'n Vergelykende oorsig van onderrigportefeuljes op die vlakke van Ontluikende Dosent en Uitgelese Dosent aan die hand van die rubrieke wat in Afdeling 6 voorsien word. Elke portefeulje word deur twee komiteelede beoordeel, waarna die volle komitee die beoordelings by die keuringsvergadering bespreek.
    • 'n Onderhoud van 10 minute met elke kandidaat gedurende die institusionele keuringsvergadering. Die komitee stel vrae oor aspekte van die kandidaat se portefeulje wat verheldering benodig.
    • ʼn Aanbieding van 10 minute deur elke kandidaat in die kategorie Uitgelese Dosent gedurende die institusionele keuringsvergadering. Die doel van die aanbieding is nie die oordrag van inligting wat in die portefeulje ontbreek nie. Kandidate behoort die aanbieding te gebruik om een of twee aspekte van hul portefeulje wat hulle besonder belangrik ag te beklemtoon. Hulle kan die aanbieding ook gebruik om inligting wat verder as hul portefeulje strek oor te dra, byvoorbeeld hul passie vir onderrig en die redes daarvoor. Die aanbieding van hierdie kandidate gaan hul onderhoud vooraf. Hulle spandeer dus 20 minute met die institusionele keuringskomitee.
  • Alle kandidate ontvang skriftelike terugvoer oor hulle portefeuljes van die institusionele keuringskomitee.
  • Die suksesvolle kandidate word in die vierde kwartaal van hulle keuring in kennis gestel, en ontvang hulle toekennings by 'n plegtigheid aan die einde van daardie kwartaal.
  • Suksesvolle kandidate in die kategorie Uitgelese Dosent kan aangemoedig word om vir die nasionale HELTASA-toekennings vir uitnemendheid in onderrig en leer in die daaropvolgende jaar aansoek te doen. Kandidate wat potensiaal toon om vir 'n HELTASA-toekenning benoem te word, sal ondersteun word om hulle portefeuljes verder te ontwikkel.
​ ​

​ ​​5. ​​ONDER​RIGPORTEFEULJE: FORMAAT, RIGLYNE VIR NADENKENDE NARRATIEF, RIGLYNE VIR BEWYSE

Ooreenkomstig die Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) dien die onderrigportefeulje as die hoofinstrument aan die hand waarvan uitnemende onderrig beoordeel word.

Kandidate moet 'n onderrigportefeulje indien wat uit 'n nadenkende narratief en stawende bewyse bestaan. (Sien 5.1.) Aangesien die portefeulje ʼn lewendige dokument is, behoort dit nadenke oor die verlede, hede en toekoms van die kandidaat se onderrig in die hoër onderwys in te sluit. Die portefeulje behoort dus die kandidaat se onderrigervaring en trajek van professionele groei, huidige onderrig en professionele groei, en doelwitte vir onderrig en professionele groei in te sluit.

'n Omvattende portefeuljehulpbron is op die SOL-webtuiste beskikbaar by http://www0.sun.ac.za/ctlresources/teaching-portfolio/. Die SOL-fakulteitsadviseurs kan deur middel van individuele konsultasies of werksessies bystand met portefeuljesamestelling verleen. Akademici met ervaring van die samestelling van 'n onderrigportefeulje kan versoek word om as medefasiliteerders van werksessies oor portefeulje-ontwikkeling op te tree.

 

5.1  Formaat

Portefeuljes kan in pdf-formaat of 'n elektroniese formaat van die kandidaat se keuse ingedien word. Vir elektroniese portefeuljes kan die voorskrifte oor die volgorde van komponente, getal bladsye en dekblad aangepas word, mits die elektroniese weergawe alle vereiste elemente vir portefeuljes in pdf-formaat bevat.

Die gemengdeleerkoördineerder of gelykstaande professionele steunpersoneellede in fakulteite kan genader word om hulp met die ontwikkeling van aanlyn portefeuljes te verleen. Die portefeuljehulpbron op die SOL-webtuiste kan ook geraadpleeg word by http://www0.sun.ac.za/ctlresources/teaching-portfolio/.

  • Portefeuljes moet vergesel word van 'n voltooide dekblad met die handtekening van die dekaan van die fakulteit. ('n Templaat vir die dekblad sal saam met die versoek vir aansoeke voorsien word.)
  • Ná die dekblad moet 'n foto van die kandidaat en 'n verkorte curriculum vitae (twee bladsye) ingesluit word. Die curriculum vitae behoort die kandidaat se onderrig en professionele groei in die hoër onderwys te beklemtoon.
  • ​Die portefeulje self moet uit twee dele bestaan:
    • 'n Nadenkende narratief oor die onderrigpraktyk van die kandidaat (wat hulle doen, hoe, en veral waarom). (Raadpleeg 5.2 vir meer besonderhede.) Die narratief kan in pdf-, digitale of multimediaformaat (soos 'n digitale verhaal) wees. Indien die narratief in pdf-formaat is, behoort dit hoogstens 20 en minstens 10 bladsye te beslaan. Indien die narratief in 'n digitale of multimediaformaat is, behoort dit nie langer as 50 minute te duur vir die leser om dit aandagtig deur te werk nie (wat luister- of kyktyd vir enige klank- of videogrepe insluit). Alle aansprake in die narratief moet met bewyse gestaaf word.
    • Die bewyse kan in die vorm van bondige voorbeelde in die nadenkende narratief self en/of verwysings/hiperskakels na bylaes wees. (Raadpleeg 5.3 vir meer besonderhede.) Bylaes in 'n geskrewe pdf-formaat moet hoogstens 30 bladsye beslaan. Indien die bylaes in 'n digitale of multimediaformaat is, behoort dit nie langer as 30 minute te duur vir die leser om dit aandagtig deur te werk nie. Indien die bylaes sowel pdf- as multimediamateriaal (klank- of videogrepe) insluit, behoort dit nie langer as 30 minute te duur om alle inhoud deur te werk nie.
  • Indien die narratief en/of bylaes die maksimum lengte oorskry, sal die fakulteits- en institusionele keuringskomitees geen inhoud ná bogenoemde perke vir elke afdeling oorweeg nie.
  • Portefeuljes in pdf-formaat moet ʼn lettergrootte van 11 en reëlspasiëring van 1.5 gebruik.
  • Multimedia-insetsels met klankinhoud moet duidelik hoorbaar wees.
  • Onvolledige aansoeke sal nie vir ʼn toekenning in ag geneem word nie. Die fakulteits- en institusionele keuringskomitees sal egter terugvoer gee aan kandidate wat onvolledige aansoeke ingedien het.
  • Aangesien die institusionele keuringskomitee verskillende vakrigtings verteenwoordig, moet kandidate dít wat hulle onderrig uitnemend maak op ʼn algemeen toeganklike manier verwoord.
     

5.2  Riglyne vir nadenkende narratief

Die voorstelling van uitnemende onderrig in aansoeke om hierdie toekennings behoort te draai om nadenkendheid, 'n kritiese ingesteldheid en (onderrig)praktyk.

Die nadenkende narratief behoort te beskryf hoe die kandidaat klas gee en waarom hulle dit so doen. Die klem van die narratief val dus op 'n kritiese besinning oor alle aspekte van die kandidaat se onderrigpraktyk. Die kern van hierdie besinning is die kandidaat se onderrigfilosofiestelling. Indien die kandidaat nie vertroud is met die konsep of praktyk van kritiese besinning en/of nog nie voorheen 'n onderrigfilosofiestelling opgestel het nie, kan hulp van die SOL-adviseur in hul fakulteit verkry word.

Die nadenkende narratief behoort ook die kandidaat se professionele groei te toon, veral wat hul akademieskap van onderrig en leer[4] betref. Die narratief behoort dus nie slegs suksesse of prestasies in te sluit nie, maar – veral – ook uitdagings, foute en lesse wat geleer is. Daarbenewens moet die narratief aandui hoe die kandidaat beplan om hul professionele groei verder te voer – nie net in hul onderrigpraktyk nie, maar ook hul akademieskap van onderrig en leer.

Die narratief moet op opvoedkundige literatuur berus. (Raadpleeg die vereistes vir die twee kategorieë toekennings in Afdeling 3 en die evalueringskriteria in Afdeling 6.) Die SOL-fakulteitsadviseurs en die aanlyn SOL-portefeuljehulpbron (http://www0.sun.ac.za/ctlresources/teaching-portfolio/) kan verdere bystand bied.

Kandidate behoort in hulle narratief krities oor die volgende vier elemente te besin:

 

5.2.1  Konteks

Vir die doeleindes van hierdie dokument verwys “konteks" na wat dit beteken om op hierdie tydstip op die Afrika-kontinent, in Suid-Afrika, en by die US, in die hoër onderwys onderrig te gee. Die realisering van transformasie en sosiale geregtigheid in die kandidaat se onderrig kan as ʼn voorbeeld dien. “Konteks" sluit ook die uitwerking van COVID-19 op akademici se onderrig en studente se leer in, byvoorbeeld die skuif na aanlyn onderrig en leer. Kandidate behoort oor sowel die uitdagings as die geleenthede van beide hul kontekste en dié van hul studente te besin.

Om hulle te help nadink, kan kandidate hulleself vrae soos die volgende afvra:

Waar vind u onderrig plaas? Watter makro-, meso- en mikrokwessies moet u in u onderrig in ag neem? Hoe weerspieël u kurrikulumbesluite en onderrigbenaderings die geografiese, historiese en maatskaplike konteks van u klaskamer? Op watter maniere bevorder of beperk u konteks hoe u klas gee en assesseer? Hoe integreer u belangrike plaaslike en aktuele kwessies by u kurrikulum? Watter institusionele, studente-, professionele, nasionale en internasionale kontekstuele kwessies beïnvloed u onderrig- en leerkonteks? Hoe roer u kurrikulum kwessies aan wat die planeet raak? Watter veranderinge het u aan die kurrikulum aangebring om seker te maak dat dit gepas is vir u konteks? Hoe bevorder u onderrig 'n bewustheid/besef van die groter wêreldkonteks?

5.2.2  Studente

Om hulle te help nadink, kan kandidate hulleself vrae soos die volgende afvra:

Wie is u studente? Hoe verseker u deur u onderrig dat alle studente ingesluit voel en aktief by hulle eie leer betrek word? Hoe bepaal u watter lewenservarings/persoonlike omstandighede u studente met hulle saamdra klas toe? Hoe gee u klas sodat studente aangemoedig voel om aan kennisproduksieprosesse deel te neem? Hoe hanteer u die uitdaging van onvoldoende studentevoorbereiding in u kurrikulum? In watter opsigte bied u kurrikulumstruktuur voldoende ondersteuning aan studente? Hoe ontwikkel u studente se vermoëns en berei hulle voor om kritiese burgers van die toekoms te wees? Watter verryking is daar in u kurrikulum en onderrigstrategieë vir studente met uitsonderlike vermoëns? Hoe pas u u onderrig aan na aanleiding van u studente se terugvoer? Hoe vertolk u die suksesdata van u studente in die konteks van u kurrikulum en onderrigstrategieë?

 

5.2.3  Kennis

Om hulle te help nadink, kan kandidate hulleself vrae soos die volgende afvra:

Wat is u vakrigting/beroep en wat is die belangrikste kenmerke daarvan? Met watter aspekte van die kursus of program sukkel u studente en hoe hanteer u dit deur u onderrigbenadering? Hoe maak u die praktyke van die vakrigting en/of beroep vir almal toeganklik deur u onderrig- en assesseringsbenaderings? Op watter maniere stel u onderrig studente in staat om toegang tot die vakrigting te bekom? Wat doen u om te sorg dat u studente tot kennisproduksie kan bydra, en nie net tot kennisverbruik nie? Hoe sorg u dat u dissiplinêre diepte behou? Watter invloed het u aktiewe akademieskap op u onderrig? Hoe verbeter u bydraes tot u vakrigting u onderrig?

5.2.4  Groei

Om hulle te help nadink, kan kandidate hulleself vrae soos die volgende afvra:

Watter vernuwende benaderings verryk u onderrig? Hoe gebruik u tegnologie om u studente se ervaring te verbeter en hulle belangrike konsepte beter te laat verstaan? Hoe gebruik u alternatiewe onderrig- en leertegnieke om studentebetrokkenheid te verbeter? Hoe gaan u te werk om u eie onderrig krities te evalueer? Hoe gaan u te werk om aktief ewekniebeoordeling en -kritiek te bekom om u onderrig te verryk? Hoe dink u het u mettertyd in 'n uitnemende dosent ontwikkel? In watter opsig(te) het u tot kurrikulumontwikkeling bygedra? Hoe bevorder u benadering tot assessering studenteleer? Hoe dra u akademieskap tot ontwikkeling binne (én buite) die instelling by?

Die stelle vrae hierbo behoort kandidate te help dink aan die soort kwessies waaroor hulle dalk krities wil besin. Hoewel kandidate 'n mate van besinning oor ál vier elemente moet toon, word die vrae slegs voorsien om gedagtes te stimuleer – kandidate hoef nie elke vraag te beantwoord nie. Kandidate hoef ook nie met betrekking tot ál vier elemente toppresteerders te wees nie, maar moet soveel aspekte van hierdie elemente moontlik in hulle portefeuljes aanroer. Dit behoort duidelik en saaklik te geskied.

Verdere riglyne vir die inhoud van die narratief word in die riglyne vir bewyse hieronder uiteengesit.

5.3  Riglyne vir bewyse

Aansprake wat in die nadenkende narratief gemaak word, moet met bewyse gestaaf word wat aan die hand van die evalueringskriteria gekies is (raadpleeg Afdeling 6). Die bewyse kan die vorm aanneem van bondige voorbeelde in die narratief self en/of kernagtige bylaes met langer voorbeelde en ander stawende inligting. Bylaes behoort slegs bewyse vir spesifieke stellings of aansprake in die narratief in te sluit. Bewyse behoort dus oordeelkundig gekies te word en die narratief moet direkte verwysings of hiperskakels na alle bylaes bevat.

Die bewyse behoort te toon in watter opsigte die kandidaat se onderrig uitnemend eerder as net goed is, en hoe die kandidaat van goed tot uitnemend ontwikkel het.[5] 

Die SOL-fakulteitsadviseurs kan bystand verleen met die keuse van bewyse en die samestelling van bylaes.

5.3.1  Ontluikende Dosent

Vir die kategorie Ontluikende Dosent behoort bewyse van uitnemende onderrig in te sluit die kandidaat se onderrigpraktyk, professionele groei en betrokkenheid by die akademieskap van onderrig en leer, soos wat hieronder uiteengesit word:

a) Inligting oor die kandidaat en hul onderrigkonteks (raadpleeg asseblief 5.2):

  •  Die kandidaat se posisie by die instelling; deel-/voltyds, permanent/kontrak; vakrigting en module(s); grootte van klasse
  • Die kandidaat se onderrigkonteks, byvoorbeeld Stellenbosch-/ander kampus; gebiede met die meeste uitdagings; instaatstellende faktore; buite-/maatskaplike faktore wat onderrig en studente beïnvloed (byvoorbeeld COVID-19)
  • Maniere waarop die kandidaat in die diverse studentekorps se behoeftes voorsien met betrekking tot sowel fisies-teenwoordige as aanlyn onderrig en leer (kandidate moet die drie belangrikste maniere kies en die rede vir hul keuse verduidelik)
  • Die aanpassing van kurrikulums en onderrigmateriaal by die Suid-Afrikaanse en COVID-19 kontekste
  • Hoe die kandidaat hoë dog realistiese eise aan studente stel en kritiese denke bevorder
  • Hoe die kandidaat studente aanmoedig om vir hulle eie leer verantwoordelikheid te aanvaar
  • Eweknieterugvoer van kollegas
  • Studenteterugvoer (formeel of informeel)
  • Studentesuksesdata (raadpleeg asseblief voetnoot 1)
  • Artefakte soos moduleraamwerke, kort uittreksels uit studiehandleidings, voorbeelde van innoverende assesserings, aanlynmateriaal (webtuistes, blogs, ens.), multimedia (video's, digitale verhale, ens.), foto's
  • Suksesse behaal en – veral ook – lesse geleer. 

b) Inligting oor die kandidaat se betrokkenheid by die akademieskap van onderrig en leer wat tot onderrig en leer verder as die klaskamer bydra, en die volgende insluit (maar nie daartoe beperk is nie):

  • Referate oor onderrig en leer wat die kandidaat by konferensies aangebied het, indien beskikbaar (kandidate moet die opsomming kies van wat hulle as hul beste referaat/aanbieding beskou en hulle keuse verduidelik)
  • Artikels of ander publikasies oor onderrig en leer wat die kandidaat geskryf het, indien beskikbaar (kandidate moet die opsomming kies van die artikel/publikasie wat hulle as hul beste beskou en hulle keuse verduidelik)
  • Lidmaatskap van professionele verenigings (onderrig-en-leer- of vakkundige verenigings)
  • Interne/eksterne moderering deur die kandidaat van eksamens en verhandelings/tesisse, indien van toepassing
  • Bydraes deur die kandidaat tot universiteits- en nasionale/internasionale komitees (kandidate moet die name van die komitees verstrek en bewys lewer van hulle bydraes)
  • 'n Lys formele en informele voortgesette professionele leergeleenthede op die gebied van onderrig en leer waarvan die kandidaat gebruik gemaak het en ʼn aanduiding van die impak van hierdie geleenthede op die kandidaat se onderrig
  • 'n Lys studente of personeellede vir wie die kandidaat as mentor of studieleier op die gebied van onderrig en leer op(ge)tree (het), indien van toepassing
  • 'n Lys toekennings wat die kandidaat vir onderrig en leer ontvang het, indien van toepassing
  • Hoe die kandidaat hul kennis en ervaring van onderrig en leer in die hoër onderwys toegepas het op, of uitgebrei het na, hul departement, fakulteit, die Universiteit, en in die breër leeromgewing.

 

5.3.2  Uitgelese Dosent

Vir die kategorie Uitgelese Dosent behoort bewyse van uitnemende onderrig in te sluit die kandidaat se onderrigpraktyk, professionele groei, betrokkenheid by die akademieskap van onderrig en leer, en leierskap in hul fakulteit, by die Universiteit en verder, soos wat hieronder uiteengesit word:

a) Inligting oor die kandidaat en hul onderrigkonteks (raadpleeg asseblief 5.2):

  • Die kandidaat se posisie by die instelling; deel-/voltyds, permanent/kontrak; vakrigting en module(s); grootte van klasse
  • Die kandidaat se onderrigkonteks, byvoorbeeld Stellenbosch-/ander kampus; gebiede met die meeste uitdagings; instaatstellende faktore; buite-/maatskaplike faktore wat onderrig en studente beïnvloed (byvoorbeeld COVID-19)
  • Maniere waarop die kandidaat in die diverse studentekorps se behoeftes voorsien met betrekking tot sowel fisies-teenwoordige as aanlyn onderrig en leer (kandidate moet die vyf belangrikste maniere kies en die rede vir hul keuse verduidelik)
  • Die aanpassing van kurrikulums en onderrigmateriaal by die Suid-Afrikaanse en COVID-19 kontekste
  • Hoe die kandidaat hoë dog realistiese eise aan studente stel en kritiese denke bevorder
  • Hoe die kandidaat studente aanmoedig om vir hulle eie leer verantwoordelikheid te aanvaar
  • Eweknieterugvoer van kollegas wat ʼn verslag van die waarneming van minstens een kontaksessie insluit
  • Studenteterugvoer (formeel of informeel)
  • Studentesuksesdata (raadpleeg asseblief voetnoot 1)
  • Artefakte soos moduleraamwerke, kort uittreksels uit studiehandleidings, voorbeelde van innoverende assesserings, aanlynmateriaal (webtuistes, blogs, ens.), multimedia (video's, digitale verhale, ens.), foto's
  • Suksesse behaal en – veral ook – lesse geleer. 

b) Inligting oor die kandidaat se betrokkenheid by die akademieskap van onderrig en leer wat tot onderrig en leer verder as die klaskamer bydra, en die volgende insluit (maar nie daartoe beperk is nie):

  • Referate oor onderrig en leer wat die kandidaat by konferensies aangebied het (kandidate moet die drie opsommings kies van wat hulle as hul beste referate/aanbiedings beskou en hul keuse verduidelik)
  • Artikels of ander publikasies oor onderrig en leer wat die kandidaat geskryf het (kandidate moet die drie opsommings kies van die artikels/publikasies wat hulle as hul beste beskou en hul keuse verduidelik)
  • Lidmaatskap van professionele verenigings (onderrig-en-leer- of vakkundige verenigings) waartoe die kandidaat beduidende bydraes lewer te oordeel aan bewese konferensiebywoning, gelewerde referate, beoordelingsaktiwiteite, en lidmaatskap van spesiale belangegroepe of die uitvoerende komitee
  • Interne/eksterne moderering deur die kandidaat van eksamens en verhandelings/tesisse
  • Bydraes deur die kandidaat tot universiteits- en nasionale/internasionale komitees (kandidate moet die name van die komitees verstrek en bewys lewer van hulle bydraes en impak)
  • 'n Lys formele en informele voortgesette professionele leergeleenthede op die gebied van onderrig en leer waarvan die kandidaat gebruik gemaak het en ʼn aanduiding van die impak van hierdie geleenthede op die kandidaat se onderrig
  • 'n Lys studente of personeellede vir wie die kandidaat as mentor of studieleier op die gebied van onderrig en leer op(ge)tree (het)
  • 'n Lys toekennings wat die kandidaat vir onderrig en leer ontvang het, indien van toepassing
  • ʼn Lys vaktydskrifte oor onderrig en leer waarvoor die kandidaat artikels geëvalueer het, indien van toepassing
  • Hoe die kandidaat hul kennis en ervaring van onderrig en leer toegepas het op, of uitgebrei het na, hul departement, fakulteit, die Universiteit, en in die breër leeromgewing.
  • Hoe die kandidaat leiding (ge)gee (het) op onderriggebied: in hul fakulteit, institusioneel, en verder.
​ ​

 6. ​​​EVALUERINGSKRITERIA

6.1 Die fakulteits- en institusionele keuringskomitees sal die volgende rubrieke gebruik om uitnemende onderrig in die aansoeke in die twee kategorieë toekennings te evalueer:

6.1.1 Ontluikende Dosent

Kontekstuele Bewustheid
Demonstreer kennis van maatskaplike en individuele kontekste (van beide dosente en studente, en met inbegrip van COVID-19) waarin O&L plaasvind en die impak daarvan op O&L. Bewus van studente se behoeftes. Onderrig-metodes en assesserings is relevant vir beide fisies-teenwoordige en virtuele kontekste. Onderrigme-todes neem studente se behoeftes in ag.

Kritiese Besinning
Dink doelbewus en sistematies na oor en dokumenteer onderrig-praktyk, kontekste, studente, kennis en eie groei oor tyd heen. Besin oor die uitdagings en geleenthede van die COVID-19 O&L-konteks vir beide dosente en studente. Dink na oor eweknie- en studente-terugvoer op onderrig. Integreer relevante opvoedkun-dige literatuur en pas dit toe, veral in die onderrigfilo-sofiestelling.

Studente-betrokkenheid
Betrek studente by onderrig en maak hulle aktief deel van hulle eie leer, in fisies-teenwoordige én virtuele onderrig. Demonstreer impak van studente-betrokkenheid op hul leer.

Innoverende Praktyk
Gebruik kreatiewe en gepaste onderrigstra-tegieë in sowel fisies-teenwoordige as virtuele onderrig om studenteleer te bevorder. Besin oor impak op studenteleer en eie groei.

Akademieskap van Onderrig en Leer
Fundeer onderrigfilosofie en -strategieë op opvoedkundige literatuur. Woon professionele leergeleenthede by en toon impak daarvan op onderrig. Dra by tot O&L wat verder as die klaskamer strek.

Samehang
Narratief vloei logies. Al die elemente van die narratief hou direk verband met die onderrig-filosofie-stelling. Bylaes bevat bewyse vir alle aansprake in die narratief. Narratief bevat kruis-verwysings/hiperskakels na bylaes.

Aanbieding

​Pdf
​Digitaal/ multimedia
  1. Lengte: Narratief: 10-20 bl. / Bylaes: 30 bl.
  2. Lettergrootte: 11
  3. Reëlspasiëring: 1.5​
  4. Ordening: slegs bondige bewyse en voorbeelde in narratief; volledige bewyse in bylaes.
  1. Lengte: Narratief: 50 minute / Bylaes: 30 minute​.
  2. Gebruiker-vriendelik wat besigtiging van inhoud én hantering betref
  3. Multimedia-insetsels met klankinhoud is duidelik hoorbaar
  4. Ordening: slegs bondige bewyse en voorbeelde in narratief; volledige bewyse in bylaes.​


Uitmuntende
 of Ontwikkelende portefeulje
(sien 6.2)


6.1.2 Uitgelese Dosent

Kontekstuele Bewustheid
Hoogs ontwikkelde kritiese bewustheid van maatskaplike en individuele kontekste (van beide dosente en studente, en met inbegrip van COVID-19) waarin O&L plaasvind en die impak daarvan op O&L. Insig in studente se behoeftes. Onderrig-metodes en assesserings is kontekstueel genuanseerd en relevant vir beide fisies-teenwoordige en virtuele kontekste. Onderrigme-todes voorsien in studente se behoeftes.​

Kritiese Besinning
Ondersoek en dokumenteer onderrigprak-tyk, kontekste, studente, kennis en eie groei oor tyd heen. Toon insig in die uitdagings en geleenthede van die COVID-19 O&L-konteks vir beide dosente en studente. Indringende denke oor eweknie- en studente-terugvoer op onderrig. Hoogs ontwikkelde begrip en toepassing van relevante opvoedkun-dige literatuur in die onderrigfilo-sofiestelling en onderrig-praktyk.

Studente-betrokkenheid
Betrek studente konsekwent en doeltreffend by onderrig. Maak studente aktief en kreatief deel van hulle eie leer, in fisies-teenwoordige én virtuele onderrig. Demonstreer duidelik die impak van studente-betrokkenheid op hul leer.

Innoverende Praktyk
Gebruik oorspronklike, kreatiewe en gepaste onderrigstra-tegieë in sowel fisies-teenwoordige as virtuele onderrig om studenteleer te bevorder. Die impak op studenteleer behoort duidelik te wees. Toon insig in gevolglike eie kennisgroei.

Akademieskap van Onderrig en Leer
Maak omvattend gebruik van gepaste opvoedkundige literatuur as basis vir onderrigfiloso-fie en -strategieë. Doen navorsing oor eie onderrig en publiseer bevindinge. Dra konsekwent by tot die uitbrei-ding van die kennis van O&L. Neem deel aan professionele leergeleenthede en toon impak daarvan op onderrig.

Leierskap
Gee institusioneel, nasionaal en internasionaal leiding in O&L.

Samehang
Narratief toon sterk en konsekwente logiese vloei. Al die elemente van die narratief hou direk verband met die onderrigfilo-sofiestelling. Bylaes bied gepaste, robuuste en uiteenlopen-de bewyse vir alle aansprake in die narratief. Narratief bevat konsekwente kruis-verwysings/ hiperskakels na bylaes.

Aanbieding

​Pdf
​Digitaal/ multimedia
  1. Lengte: Narratief: 10-20 bl. / Bylaes: 30 bl.
  2. Lettergrootte: 11
  3. Reëlspasiëring: 1.5​
  4. Ordening: slegs bondige bewyse en voorbeelde in narratief; volledige bewyse in bylaes.
  1. Lengte: Narratief: 50 minute / Bylaes: 30 minute​.
  2. Gebruiker-vriendelik wat besigtiging van inhoud én hantering betref
  3. Multimedia-insetsels met klankinhoud is duidelik hoorbaar
  4. Ordening: slegs bondige bewyse en voorbeelde in narratief; volledige bewyse in bylaes.​

Uitmuntende
 portefeulje
(sien 6.2)


6.2 Die volgende portefeuljebeskrywings kan as 'n bykomende riglyn vir die samestelling of beoordeling van aansoeke gebruik word (let asseblief daarop dat ʼn aansoek in die kategorie Ontluikende Dosent óf “uitmuntend" óf “ontwikkelend" kan wees, maar in die kategorie Uitgelese Dosent slegs “uitmuntend"): 

6.2.1 Uitmuntende portefeulje

Die portefeulje voer oortuigende gronde vir uitnemendheid aan deurdat die akademikus oor veelvuldige aspekte van hul konteks besin, waaronder hul studente, instelling, vakrigting/program en die uitwerking van COVID-19. Die portefeulje bied 'n duidelike beskrywing van die onderrig- en leerpraktyk, en verduidelik waarom die kandidaat daardie bepaalde benadering volg (in die onderrigfilosofiestelling). Die kandidaat se onderrigpraktyk is gegrond op uitgebreide bewyse van die akademieskap van onderrig en leer. Onderrigmetodes is kontekstueel genuanseerd en strook met die onderrigfilosofiestelling. Robuuste en uiteenlopende bewyse word vir die aansprake in die narratief voorsien. Die akademikus is voortdurend op soek na maniere om te verbeter en is daartoe in staat om oor tyd heen en in reaksie op veranderende kontekste of nuwe begrip oor hul eie groei te besin. Die akademikus het 'n positiewe institusionele, nasionale of internasionale impak op onderrig en leer in die hoër onderwys. Die portefeulje lewer bewys van uitnemendheid in onderrig wat as inspirasie kan dien vir, of beter begrip kan bewerkstellig van, hierdie noodsaaklike aspek van die hoër onderwys. 

6.2.2 Ontwikkelende portefeulje

Die portefeulje voer gronde vir uitnemendheid aan deurdat die akademikus oor aspekte van hul konteks besin, waaronder hul studente, instelling, vakrigting/program en die uitwerking van COVID-19. Die portefeulje beskryf die onderrig- en leerpraktyk, en verduidelik waarom die kandidaat daardie bepaalde benadering volg (in die onderrigfilosofiestelling). Die kandidaat se onderrig is gegrond op 'n mate van bewys van die akademieskap van onderrig en leer. Onderrigmetodes word aangepas by die konteks en strook met die onderrigfilosofiestelling. Bewyse word vir die aansprake in die narratief voorsien. Die akademikus soek na maniere om te verbeter en is daartoe in staat om oor tyd heen oor hul eie groei te besin. Die akademikus het ook buite die klaskamer 'n positiewe impak op onderrig en leer in die hoër onderwys. Die portefeulje lewer bewys van uitnemendheid in onderrig wat beter praktyk kan bevorder en ander kan aanmoedig. 

6.2.3 Belowende portefeulje​

Die portefeulje begin gronde vir uitnemendheid aanvoer deurdat die akademikus oor aspekte van hul konteks besin. Die portefeulje beskryf die onderrig- en leerpraktyk en verduidelik waarom die kandidaat daardie bepaalde benadering volg (in die onderrigfilosofiestelling). Daar is een of twee verwysings na die akademieskap van onderrig en leer. Onderrigmetodes word aangepas by die konteks, maar strook dalk nie goed met die onderrigfilosofiestelling nie (of andersom). Hoewel daar bewyse vir sommige aansprake in die narratief voorsien word, word sekere aansprake nie gestaaf nie. Die akademikus soek na maniere om te verbeter. Die akademikus het 'n positiewe impak op onderrig en leer. Die portefeulje lewer bewys van die ontwikkeling van uitnemendheid in onderrig. 

Belowende portefeuljes is nog nie gereed vir benoeming nie en behoort nie ingedien te word nie. Indien die institusionele keuringskomitee 'n portefeulje van “uitmuntend" of “ontwikkelend" na “belowend" terugskuif, kan die aansoek vir verdere portefeulje-ontwikkeling na die betrokke fakulteit terugverwys word.

​ ​

[1] “Studentesukses is 'nie net of studente 'n graad verwerf nie, maar ook of hulle die vlak van gereedheid – wat betref kennis, vermoëns en persoonlike kenmerke – bereik wat hulle in staat sal stel om te floreer in, en by te dra tot, 'n snelveranderende ekonomie en onstuimige en veeleisende wêreld-, samelewings- en dikwels ook persoonlike kontekste'. (Kuh (2008), soos aangehaal in die Raamwerk vir Institusionele Gehalteverbetering in die Tweede Gehalteversekeringstydperk, Januarie 2013)." (Aanbevelings van die Taakgroep oor die Bevordering en Erkenning van Onderrig, 2015:4)

[2] Die US het homself herposisioneer van “die beste in die wêreld" tot “die beste vir die wêreld, met die klem op konteks en responsiwiteit. Hierdie gekontekstualiseerde en responsiewe benadering tot uitnemendheid is in pas met die begrip van onderrig en leer as 'n proses met sowel sosiale as individuele dimensies. Hierdie dimensies hou verband met mekaar, maar die sosiale konteks is meer kompleks en genuanseerd, en het moontlik 'n ingrypender invloed op onderrig en leer as enige individuele kenmerke van studente of akademici." (Onderrig- en Leerbeleid, 2018:2).

[3] Die Onderrig- en Leerbeleid (2018:3) omskryf “akademieskap" as “die koppeling van praktyk aan teorie en van teorie aan praktyk, wat saamgevat word deur die dimensies van ontdekking, integrasie, toepassing en onderrig". (Boyer, E.L. 1990. Scholarship reconsidered: Priorities of the Professoriate. Spesiale verslag. Carnegie-stigting vir die Bevordering van Onderrig: 5-25.)

[4] Hou asseblief die vereistes van die twee toekennings in Afdeling 3 in gedagte.

[5]Uitnemende en goeie onderrig word in Afdeling 1 omskryf.