Business Management
Welkom by Universiteit Stellenbosch

BCom (Bestuurswetenskappe) met fokusarea Finansiële Bestuur

​​​

Sekere sleutelvaardighede word deur werkgewers in verskeie bedrywe verlang. Om studente voor te berei om doeltreffend in ‘n dinamiese en wisselvallige sakeomgewing te funksioneer, word in dié fokusarea spesifiek gefokus op die ontwikkeling van kritiese denke, probleemoplossing en navorsingsvaardighede. Essensiële aspekte van al die modules behels die vermoë om fundamentele finansiëlebestuursvrae te ontleed deur relevante teorieë te identifiseer en toe te pas, bevindinge te interpreteer, en die implikasies daarvan met vertroue te kommunikeer.

Finansiële Bestuur fokus op die volgende onderwerpe:

  • Ontleding van finansiële state
  • Evalueringstegnieke
  • Finansiële beplanning en beheer
  • Kapitaalinvestering
  • Amalgamasies en oornames
  • Gedragsfinansies
  • Finansiëlebestuursnavorsing

Sentrale tema

Waardes-gebaseerde bestuur maak ‘n sentrale tema uit. Die klem op waardes (meervoud) dui op die benadering tot die bevordering van langtermyn- volhoubare waardeskepping.

Alle finansiëlebestuursbesluite, ongeag of hulle deel uitmaak van kapitaalstruktuur- of kapitaalbegrotingsoorwegings, behoort waarde vir aandeelhouers en sleutelbelangegroepe te skep. Etiese en ESG-oorwegings (Engels: environmental, social, and governance) word met konvensionele besluitnemingsmodelle geïntegreer en die gevolge van gedragsvooroordele word belig.

Vooraanstaande navorsers op die gebied van korporatiewe waardasie, ESG-integrasie en gedragsfinansies is deel van dié span. Só word verseker dat navorsing op die voorpunt bly en dat praktiese voorbeelde deurlopend met studente gedeel word deur geesdriftige dosente wat passievol oor hul vakgebied is.

Loopbaanmoontlikhede

  • Finansiële ontleder
  • Finansiële konsultant
  • Finansiële bestuurder/direkteur
  • Kredietbestuurder
  • Prestasie-analis
  • Risikobestuurder
  • Finansiële kontroleur

Voorgraadse vakke vir hierdie fokusarea

  • Inleiding tot Finansiële Bestuur 214

    Samestelling van die staat van finansiële posisie, omvattende inkomstestaat en kontantvloeistaat; meting en evaluering van finansiële prestasie met verwysing na winsgewendheid, likiditeit en solvabiliteit; gevallestudies in finansiële ontleding; inleiding tot die investeringsbesluit; die finansieringsbesluit; finansieringsbronne; dividend-besluit; finansiële beplanning en die bestuur van bedryfskapitaal met spesifieke verwysing na kontant-, handelsdebiteure- en voorraadbeheer; finansiële mislukkings; internasionale finansiële bestuur.

  • Korporatiewe Finansiële Bestuur 244

    Evaluering en interpretasie van korporatiewe finansiële prestasie met behulp van omvattende verhoudingsgetalontledings; omvattende ontleding van die kontantvloeistaat; basiese aandeel- en skuldbriefwaardasie; effek van dividend-beleid op korporatiewe waardasies; effek van finansieringsbeleid op die waarde van ‘n onderneming; evaluasie van bedryfskapitaalbestuur deur middel van die kontant-omsettingsiklus.

  • Finansiële Beplanning en Beheer 314

    Berekening van die geweegde gemiddelde koste van kapitaal, sowel as die koste wat verband hou met die verskillende kapitaalkomponente; finansiële waardasie van ondernemings; finansiële voorspelling.

  • Kapitaalinvesterings 332

    Skatting van die relevante kontantvloeiwaardes vir kapitaalinvesteringsprojekte; toepassing van die volgende finansiëleseleksiemaatstawwe op groot kapitaalprojekte: terugbetaalperiode-metode; metode van die ekwiwalente eenvormige jaarlikse koste, netto-huidige-waarde-metode en die interne-opbrengskoers-metode; prioriteitsbepaling vir veelvuldige wedersyds uitsluitende projekte.

  • Finansiëlebestuursnavorsing 352

    Identifisering en formulering van finansiëlebestuursvraagstukke en/of -geleenthede; daarstel van finansiëlenavorsingsdoelwitte; identifisering van toepaslike navorsingsontwerpe; doen van sekondêre en/of primêre navorsing; ontleding van finansiële data om navorsingsdoelwitte te bereik.

  • Amalgamasies en Oornames 354

    Tipes samesmeltings en verkrygings; strategiese motivering vir amalgamasies en oornames; wetlike aspekte; die waardasie van geteikende maatskappye; transaksiestrukturering; rekenkundige hantering van amalgamasies en oornames en post-integrasie-ontleding.

  • Verpligte modules
    • Finansiële Bestuur 214
    • Finansiële Bestuur 244, of
    • Beleggingsbestuur 254

Meer besonderhede

  • Programbrosjure: Die brosjure van die Departement Ondernemingsbestuur kan hier afgelaai word. Dit bevat ‘n tabel met al die modules wat in hierdie graad gedek word.
  • Programinligting: Sien al die voorgraadse programme van die Departement Ondernemingsbestuur hier.
  • Sien ook die Kalender van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hier.
  • Sluitingsdatum vir aansoeke: 30 Junie 2022
  • Kontakpersoon vir navrae oor hierdie program: Morné Daniels by +27 (0)21 808 2392 of mmd@sun.ac.za
  • Waar om aansoek te doen: https://student.sun.ac.za/signup/

Vir Finansiëlebestuursmodules in die Honneursprogram, gaan asb na die Honneursblad.