Plant Pathology
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Oomiseet & Grondgedraagde Patogene

​​

Programleier: Dr Adele McLeod

(CV: Dr A McLeod)

Grondgedraagde Vrugteboomsiektes

Grondgedraagde patogene wat 'n stremming in die produksie en ekonomiese lewensvatbaarheid van appel, avokado en sitrus is, word ondersoek. Appel herplantsiekte (ARD) is die verskynsel waar nuut-aangeplante appelbome verdwerg is wanneer op ou appelboordgronde geplant word.  In Suid-Afrika word ARD deur 'n menigte agente veroorsaak, waaronder oomisete (Pythium en Phytophthora), swamme (Cylindrocarpon) en nematodes ( hoofsaaklik Pratylenchus), waarvan die samestelling van boord tot boord varieer.  Duur breë-spektrum grondberoking is die enigste effektiewe bestuursopsie wat tans vir ARD beskikbaar is.  Hierdie navorsingsprogram het ten doel om (i) metodes te ontwikkel om die veroorsakende agente van ARD beter te verstaan en te karakteriseer, insluitende molekulêre opsporingsmetodes, (ii) inokulumbronne van ARD te ondersoek, en (iii) alternatiewe bestuursopsies met die klem op die gebruik van fosfonate, te ondersoek.

Wortelvrot van avokado word deur die oomiseet, Phytophthora cinnamomi, veroorsaak, wat 'n vernietigende siekte is indien dit nie beheer word nie.  Fosfonate vorm 'n belangrike deel van beskermende en genesende wortelvrotbestuur.  Die program het ten doel om die werkingswyse van fosfonate en hul translokasie in bome beter te verstaan.  Die ontwikkeling van koste-effektiewe metodes vir die kwantifisering van fosfiete (afbreekprodukte van fosfonate) in wortels, is ook 'n prioriteit.

Sitrus-agteruitgang is 'n groot uitdaging vir sitrusprodusente wêreldwyd, veral in boorde ouer as 13 jaar.  Agteruitgang-simptome wat met grondverwante agteruitgang geassosieer word, sluit verminderde loof, voedingstekorte, takterugsterwing, wortelvrot en verminderde groei, opbrengs en vruggrootte in.  Die program het ten doel om abiotiese en biotiese faktore wat met sitrus-agteruitgang geassosieer word, te ondersoek, met klem op Pythium spesies en nematode gemeenskap profielsamestelling.

Uie-patologie

Fusarium basisvrot word deur Fusarium oxysporum f.sp. cepae veroorsaak wat meestal na-oes verliese veroorsaak, maar ook plante in die saailingfase kan affekteer.  Die program het ten doel om molekulêre merkers vir die identifikasie van die patogeen te ontwikkel en om verhoudinge tussen die vermoë van populasies om saailingskade en volwasse bolvrot te veroorsaak, te ondersoek.  Die enigste haalbare bestuursopsie is plantweerstand, wat ook ondersoek word. 

Uie-produksie word negatief deur verskeie na-oes patogene geaffekteer, insluitende swamme en bakterieë.  Min is bekend oor die omgewingsfaktore wat hierdie siektes beïnvloed.  Die projek het ten doel om van hierdie faktore te identifiseer deur die gebruik van langtermyn data en multi-variërende statistiese analises ten einde seisoene en plase te voorspel wat hoë na-oes verliese sal hê.